Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 52: Dawid wil vir die Here 'n huis bou
Dawid wou vir God 'n huis bou, aangesien hyself nou so 'n mooi paleis gehad het. God het egter anders besluit. Ons lees daarvan in 2 Sameul 7 en 8, 1 Kronieke 17, 18 en 28.
https://www.buzzsprout.com/682646/support
Stories uit Kanaän 52: Dawid wil vir die Here ‘n huis bou (2 Sam 7, 8, 1 Kron 17 ,18, 28)
Tannie: Hallo, maats en Tobias! Tobias, Tobias....
Tobias: O, huh, ja, hallo, almal! Ek was net besig om te dink.
Tannie: Dit kan ons sien! Waaroor dink jy, Tobias?
Tobias: Tannie Carin, wat is die kerk? Is dit die tempel? Of die huis van die Here?
Tannie: Tobias, as mense praat van die huis van die Here, praat hulle gewoonlik van die kerkgebou. Maar, eintlik is die kerk almal wat glo dat net Jesus hulle losmaak van hulle sonde. Die kerkgebou is maar net ‘n plek waar mense saamkom. Die Israeliete het weer die tempel gehad. In 1 en 2 Korinthiërs 6 lees ons dat almal wat in Jesus glo se lyfies eintlik die tempel is, want die Heilige Gees bly binne-in ons.
Tobias: Sjoe! So, kerkgeboue is net geboue; al die Christene saam is die kerk, want elkeen is ‘n tempel van die Heilige Gees?
Tannie: Jy het dit, Tobias! Maar kom ek vertel vir julle vandag die storie van toe daar die eerste keer gedink is oor die bou van die tempel.
Tobias: O, lekker! Ons luister!
Tannie: Julle, koning Dawid het ‘n pragtige paleis gehad, versier met mooi hout. Op ‘n dag sê hy vir die profeet Natan: “Ek wil graag vir die Here ‘n huis bou, want ek het so ‘n mooi paleis en die Ark van God staan sommer in ‘n tent.” Natan het gedink dis ‘n goeie plan, maar daardie nag praat God met Natan: “Natan gaan sê vir Dawid hy mag nie vir my ‘n huis bou nie. My ark het nog altyd in ‘n tent gestaan. Dis reg so. Dis nie my plan om ‘n geboude huis te hê nie.”
Tobias; Tannie, God kan mos in elk geval nie in ‘n huis bly nie? Hy is te wonderlik! Sy paleis is mos in die hemel?
Tannie: Net so, Tobias. Maar luister wat sê die Here toe nog. “Natan, sê vir Dawid Ek, die Here, het hom by die skape gaan roep om koning te word. Ek het hom gehelp in al sy oorloë. Ek sal ook vrede gee in die land. Ek sal sy koningshuis vir hom bou. Dit beteken hy sal koning wees tot hy baie oud is. En daarna sal een van sy seuns koning word. Sy familie sal altyd konings wees. Dawid is ‘n man van oorlog. Hy het baie geveg. Hy moenie vir My ‘n huis bou nie. Sy seun sal vir My ‘n huis bou. Ek sal vir sy seun soos ‘n pa wees. As hy verkeerd doen, sal Ek hom straf, maar Ek sal weer goed wees vir hom.”
Tobias: Haai oe! En wat sê Dawid toe?
Tannie: Dawid was verstom. Hy het gaan sit en met die Here gepraat. Hy kon net nie glo dat God besluit het om hom sy lewe lank koning te maak nie. En dat sy kinders en kleinkinders ook nog koning sou wees? Hy het weer en weer gesê dat God wonderlik is. Hy wou graag hê dat sy huis die Here dien.
Tobias: En het die Here toe vir Dawid gehelp om vrede in die land te kry?
Tannie: Ja, Tobias. Die Bybel vertel vir ons dat hy teen die Filistyne geveg het, en teen die Moabiete. Hy het ook teen koning Hadad-Eser en die Arameërs geveg. Dan was daar ook nog die Ammoniete en Amalekiete en Edomiete. Hy het hulle almal gewen en baie van hulle moes elke jaar geld aan Dawid betaal. Hy het goue skilde en brons en perde en strydwaens uit die lande teruggebring. Een prins het vir hom mooi goed van goud en silwer en brons gegee. Al daai mooi goed het hy aan die Here gewy. Hy het dit gebêre om later in die tempel wat sy seun sou bou, te gebruik.
Tobias: Aarde! Klink of hy ryk geword het! Het hy ook mense gehad wat in sy paleis gewerk het?
Tannie: Tobias, Dawid het vir hom goeie mense gekry om die land te help regeer. Net soos ons land ministers aanstel om die leier van die land te help. Dawid het ‘n hoof gehad oor al sy soldate. Daar was ook priesters en iemand wat moes sorg dat Dawid altyd veilig sou wees. As hulle vergaderings hou, moes iemand alles neerskryf en iemand anders moes sorg dat alles gedoen word wat hulle besluit het. Dawid het ook van sy ouer seuns aangestel om hom te help om die land te regeer.
Tobias: Sjoe! My kop draai nou skoon! Ek is darem bly ek hoef nie ‘n land te regeer nie!
Maar was Dawid darem ‘n goeie koning?
Tannie: Ja, Tobias! Die Bybel sê hy het reg gedoen en het almal regverdig behandel.
Tobias: Haai! Dan laat Dawid my mos nou aan Jesus dink! Jesus doen ook altyd reg en is regverdig.
Tannie: Wonderlik, Tobias! Baie van die mense wat in die Ou Testament se tyd geleef het soos Abraham, Josef, Dawid en die ander, laat ons dink aan Jesus. Dis presies soos God dit beplan het. Wanneer ons die stories in die Ou Testament lees, wil die Here hê ons moet heeltyd sien dat Jesus sou kom.
Tobias: Sjoe, Tannie? Die Bybel is ‘n wonderlike boek! Hoe meer ons lees, hoe meer verstaan ons vir God en onsself. Ek is so bly ek het vandag geleer die kerk is eintlik die mense, want Tannie, party kerkgeboue is vir my bietjie lelik! Ek is so bly dis nie God se huis nie!
Tannie: Tobias, sies, jou lawwe ding! Mense verskil oor hoe geboue moet lyk, maar ons weet dat die Bybel vir ons sê wat die kerk van Jesus, die mense, moet doen om mooi te lyk. Maats, ons moet nou groet. Kom weer, om nog te luister na hierdie wonderlike boek, die Bybel. Totsiens, almal!
***