Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 53: Dawid sorg vir Mefiboset
Ons lees in 2 Sameul 4 net kortliks van Mefiboset. In hoofstuk 9 ontmoet hy vir koning Dawid.
Stories uit Kanaän 53: Dawid sorg vir Mefiboset (2 Sameul 4 en 9)
Tobias: Tannie Carin, tannie Carin, wat beteken, mmm, wat beteken: “beloftes maak skuld”?
Tannie: Hallo, Tobias en hallo, maats! Ekskuus, Tobias, wat vra jy?
Tobias: Tannie, ek kon nie eers groet nie. Ek moes gou vra, want anders vergeet ek die woorde! Ek gaan weer probeer: “beloftes maak skuld.” Wat beteken dit?
Tannie: O, ek verstaan nou. Ja, Tobias, “beloftes maak skuld” beteken dat as jy iets belowe het, moet jy dit doen.
Tobias: O, dis eenvoudig? Tannie, was daar mense in die Bybel wat hulle beloftes gehou het?
Tannie: Daar is verseker ‘n hele paar, maar vandag kan ek julle vertel van Dawid. Hy en Jonatan het mos gesê dat hulle altyd goed sal wees vir mekaar en hulle kinders se kinders se kinders.
Tobias: Tannie, maar toe Dawid koning geword het, was Jonatan al dood.
Tannie: Dis reg. Maar eendag het Dawid daar in sy paleis gesit en toe dink hy aan Jonatan. Hy onthou toe die belofte wat hulle aanmekaar gemaak het. Dawid het gewonder of daar nog enige iemand van Saul en Jonatan se kinders of kleinkinders leef?
Tobias: Was daar nog iemand?
Tannie: Dawid het rondgevra en gehoor Siba, een van Saul se werksmense, het nog geleef. Hy laat roep hom toe en vra: “Is daar nog enige van Saul se familie wat leef?” Siba antwoord toe: “Ja, my koning, Jonatan het ‘n seun wat nog leef en sy naam is Mefiboset. Maar koning, hy is kreupel.”
Tobias: Kreupel? Hoekom? Is hy so gebore of het hy iets oorgekom?
Tannie: Julle, daai dag wat Saul en Jonatan dood is in die oorlog, was Mefiboset maar net vyf jaar oud. Toe sy oppasser hoor Jonatan is dood, het sy die kind gegryp en begin hardloop om te gaan wegkruip. In haar haas, het sy geval en Mefiboset se voete het so seergekry, dat hy toe kreupel geword het.
Tobias: Haai, oe! En waar gaan bly hy toe?
Tannie: Tobias, Dawid het ook gevra waar Mefiboset bly. Siba vertel hom toe dat hy by Makir gaan bly het. Klink ook of hy getroud was, want hy het ‘n seuntjie, Miga, gehad.
Tobias: By Makir, mmm. Wat doen Dawid toe, Tannie?
Tannie: Tobias, Dawid laat kom toe vir Mefiboset. Toe hy by hom kom, val Mefiboset op sy knieë voor hom en sê: “Ek is onder u. U besluit oor my lewe.” Tobias, jy moet onthou dat in daai tyd was dit die gewoonte dat ‘n nuwe koning al die vorige koning se familie doodgemaak het. Dis nie wat Dawid wou doen nie, maar Mefiboset het nie so mooi geweet wat gaan nou gebeur nie. Dawid sê toe vir hom: “Moenie bekommerd wees nie. Ek wil vir jou sorg, want ek het jou pa Jonatan belowe. Ek wil ook al jou oupa Saul se grond aan jou teruggee. Jy moet ook van nou af elke dag by my huis kom eet.” Mefiboset was verbaas: “Hoekom is u goed vir my, iemand wat soos ‘n dooie hond is?”
Tobias: Haai, klink of Mefiboset dalk bietjie bang was vir Dawid?
Tannie: Miskien? Ek weet nie. Maar Dawid het vir hom gewys hy wil goed wees vir hom. Hy wou sy belofte aan Jonatan hou. Dawid het geweet Mefiboset kon nie met sy kreupel voete op die lande werk nie. Hy roep toe vir Siba en sê vir hom alles wat nou moes gebeur. Al Saul se grond moes teruggegee word aan Mefiboset. Dan moes Siba en sy vyftien seuns en sy twintig slawe vir hom op die lande werk. Hulle moes ploeg en saai en oes. Dit moes kos inbring vir Mefiboset se familie. Ons weet nie, maar dalk was hulle maar arm en soms honger voor Dawid hom laat roep het.
Tobias: Het Siba dit toe gedoen?
Tannie: Ja, Siba het die koning geantwoord: “Ek is u onderdaan. Ek sal doen wat u sê. Dit is goed as Mefiboset by u huis eet.” En so het dit gekom dat Siba se hele familie nou vir Mefiboset se mense moes sorg en bedien. Maar Mefiboset self het in Jerusalem gaan woon, sodat hy elke dag by die paleis kon gaan eet.
Tobias: Dis nou ‘n interessante storie! Gaan ons weer van Mefiboset hoor?
Tannie: Ja, ons gaan later weer van hom hoor.
Tobias: Tannie, klink my Dawid was regtig ‘n goeie koning. In vandag se storie laat hy my weer aan Jesus dink. Hy het vir Mefiboset gesorg, omdat hy sy belofte aan Jonatan gehou het. Jesus Christus hou ook altyd, altyd sy beloftes.
Tannie: Jy is reg, Tobias! Die storie laat ons aan Jesus dink. Dit help ons om te verstaan dat ons altyd die beloftes in die Bybel kan glo.
Tobias: Aarde, Tannie, dis nou ‘n lekker storie! Baie dankie! Maats, ons gaan nou groet om sommer gou weer te kan kom vir nog lekker stories uit die wonderlike Boek van God. Totsiens, maats! Ons gesels gou weer! Totsiens!
***