Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 54: Dawid wen die Ammoniete en Arameërs
In 2 Sameul 10 en 12 en 1 Kronieke 19 en 20 lees ons 'n "baard-storie" - van hoe die Ammoniete en Arameërs verslaan is,
Stories uit Kanaän 54: Dawid wen die Ammoniete en Arameërs (2 Sam 10, 12; 1 Kron 19, 20)
Tannie: Hallo, alle maats en hallo, Tobias! Tobias, hoekom hou jy ‘n spieël voor jou?
Tobias: Hallo, almal! Tannie Carin, ek wil kyk hoe sou ek met ‘n baard gelyk het.
Tannie: (lag) Tobias, hoe sou ‘n groen seuntjie met ‘n baard gelyk het? Mmm, ek dink nie so goed nie!
Tobias: Tannie, maar hoekom het party mans baarde en ander nie?
Tannie: Tobias, party mans hou daarvan en die ander nie. Elkeen besluit maar self. Maar weet jy: in die tyd wat Dawid geleef het, het al die mans van Israel baarde gehad. Dit was ‘n teken dat jy wysheid het en dat jy belangrik is. As hulle naar en lelik met ‘n ander man wou wees, het hulle sy baard afgeskeer. Dan was daai man so skaam dat hy weggekruip het tot sy baard weer gegroei het.
Tobias: Haai, dis nou interessant! Is daar stories oor baarde in die Bybel?
Tannie: Ja, daar is! Kom ek vertel julle een uit die dae van koning Dawid.
Tobias: Lekker! ‘n Baard-storie! Nog nooit van so iets gehoor nie. (lag)
Tannie: Maats, Tobias, daar was ‘n volk, die Ammoniete, wat in die land net langs Israel gebly het. Hulle was die nageslag van Lot, Abraham se neef. God het mos vir die Israeliete gesê hulle moes die volke van Kanaän uitroei, sodat Israel nie dalk die afgode van daai volke kon begin aanbid nie. Maar oor die Ammoniete het God gesê: “Julle mag nie hulle grond vat nie. Ek het dit vir hulle gegee.” Dit lees ons in Deuteronomium twee.
Maar tog het die Ammoniete aanmekaar moeilikheid gebring vir die Israeliete.
Tobias: Tannie, het hulle iets te doen met ons baard-storie?
Tannie: Ja, Tobias. Koning Dawid was vriendelik met die Ammoniete, want hulle koning Nagas was goed vir hom. Eendag hoor Dawid dat die koning oorlede is. Hy stuur toe ‘n paar manne om vir sy seun, Ganun, te gaan sê hoe jammer hy is oor sy pa se dood. Julle weet, daar was mos nie selfone of eposse in daardie jare dat jy gou ‘n boodskap kon stuur nie. Die manne kom toe by Ganun aan en sê: “Koning Dawid wil vir u sê dat hy so jammer is u pa is oorlede.” Maar, die leiers van die Ammoniete sê toe vir die koning Ganun: “Gmf! Dink u regtig Dawid wil goed wees vir u? Nee, hy het hierdie ouens gestuur om ons land deur te kyk om dit te kom afvat. Kom ons wys bietjie vir Dawid wat ons van sy manne en sy boodskap dink.” Tobias, en daar gryp hulle daardie arme manne van Israel en skeer die eenkant van hulle baarde af.
Tobias: Haai, toe het hulle halwe-baarde-gesigte?
Tannie: Dit klink so, ja! Toe sny hulle ook nog hulle klere tot by hulle heupe af. O, daai arme manne was vreeslik, verskriklik skaam! Hulle stuur toe ‘n boodskap na Dawid oor wat met hulle gebeur het. Dawid het verstaan hoe erg skaam hulle moes voel! Geen man uit Israel loop met ‘n halwe baard rond nie! Hy het gesê hulle moet maar daar in Jerigo bly totdat hulle baarde weer gegroei het.
Tobias: Wat doen Dawid toe?
Tannie: Wel, klink my hy het eers niks gedoen nie. Die Ammoniete het wel besef hulle het nou ‘n groot, vet fout gemaak. Hulle maak toe reg vir oorlog teen Israel. Die Ammoniete het klomp silwer gestuur na vier Arameerse konings om soldate te huur. Toe Dawid dit hoor, het hy vir Joab, die hoof van sy weermag, gestuur om reg te staan vir die oorlog wat nou sou kom. Joab sien toe daar is nou soldate aan twee kante. Hy vra toe sy broer, Abisai om hoof te wees van een deel van Israel se soldate. Hy was hoof van die ander groep. Hy het gesê: “Ons moet mekaar help as ons sien die vyand raak te sterk aan ons kant. Kom ons wees dapper! Mag die Here vandag doen wat Hy wil.” Toe begin die geveg. Skaars het hulle begin, toe hardloop die soldate almal weg vir Israel.
Tobias: Haai! Regtig, Tannie?
Tannie: Tobias, maar toe laat kom die Ammoniete nog Arameese soldate en strydwaens van ‘n ver land af. Dawid staan toe weer reg vir die oorlog. En daai dag wen hulle weer. Die Arameërs het toe maar vrede gemaak met Dawid. Die Arameërs het gesê: “Nee, man, ons gaan nooit weer die Ammoniete help nie!”
Tobias: Maar wat word toe van die Ammoniete, Tannie?
Tannie: In die lente het Joab hulle gaan aanval. Hy val toe ‘n stuk van die stad, Rabba, in. Toe laat roep hy vir Dawid dat hy verder moet kom help veg. Hy kom toe en hulle wen die oorlog. Dawid het die stad se koning se kroon vir hom gevat. Dit was ‘n pragtige, swaar, goue kroon, met ‘n vreeslike mooi groot edelsteen daarin. Die mense van Rabba is toe weggevoer en moes vir Dawid begin werk: party met hout en party moes stene maak.
Tobias: Goeiste, Tannie! En al die gevegtery het begin met baarde wat afgeskeer is?
Tannie: Ja, hulle lelik-wees met Israel se manne, het tot die dood van baie soldate gelei.
Tobias: Maar ek is bly dat Joab geweet het die Here sal besluit wat in die oorlog gaan gebeur. En Hy het Israel gehelp! Ek hoop hulle het vir God dankie gesê!
Tannie: Ek dink darem hulle het dankie gesê! En ons kan dankie sê dat ons die Bybelstories het waarin ons so mooi kan sien wie ons God is. Maar nou moet ons ongelukkig groet! Maats, ons bring gou weer nog ‘n storie uit die geskiedenis van Dawid. Ons groet dan: totsiens, totsiens!
***