Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 55: Dawid en Batseba

Carin Conradie Season 5 Episode 55

In 2 Sameul 11 lees ons die hartseer verhaal van Dawid se owerspel en moord.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 55:  Dawid en Batseba    (2 Sameul 11)

 

Tobias:        Links, regs, links, regs, links.  Hallo, almal!  Links, regs, links, regs!

Tannie:          Hallo, Tobias!  En as jy vandag vir my en die maats groet met links, regs?

Tobias:        Ek speel soldaat-soldaat.   Ons hoor so baie van Dawid wat ‘n goeie soldaat was.  En hy was ‘n goeie koning.  Hy het altyd reg gedoen, ne, tannie Carin?

Tannie:          Ai, Tobias,  Dawid was ‘n goeie soldaat en hy was ‘n goeie koning, maar hy het nie altyd alles reg gedoen nie.  Ons storie van vandag gaan juis oor ‘n dag wat hy weggekyk het van God en toe sommer drie lelike dinge op ‘n ry gedoen het.  

Tobias:        O, aarde!   Dis jammer!   Moet ons die storie hoor?

Tannie:          Tobias, ons moet die storie hoor, want dis belangrik om te hoor wat God daarvan gedink het.   Vandag gaan ons net vertel wat Dawid gedoen het.  Volgende keer vertel ons wat Dawid daarna gesê het en dit is eintlik die belangrike deel van die storie.

Julle, op ‘n dag het koning Dawid se soldate gaan veg.  Ons het laaskeer vertel van Joab wat teen Rabba gaan veg het.  Dit was daai keer.   Maar, soos ek gesê het, Dawid bly toe by die huis.   Een middag vat hy toe ‘n middagslapie.  Toe hy opstaan, rek hy homself lekker uit en begin stap op die dak van sy paleis rond.  Dalk het hy bietjie rondgekyk gekyk na sy stad hier om hom.  Hy sien toe iets interessants.  Daardoer onder by ‘n huis, was ‘n vrou besig om te bad.  Dit was ‘n belangrike reinigingsbad wat die wet voorgeskryf het.   Hy kyk toe en kyk weer en dit lyk van ver af of dit ‘n baie mooi vrou is.   Hy vra toe vir iemand:  “Wie is daardie vrou?”   Die man antwoord toe:  “Dit is Batseba.   Haar pa is Eliam.  Sy is getroud met Uria.  U weet, Uria, daai Hetiet wat deel van ons volk geword het?  Een van Koning se dertig baie dapper soldate?”

Tobias:        Die vrou van een van die dapper soldate?   Gaan Tannie ons nog vertel van die dapper soldate?

Tannie:          Ek sal ‘n ander dag vir julle van hulle vertel.

Tobias:        Tannie, en wat gebeur toe?

Tannie:          Julle, toe maak Dawid die eerste fout.  Hy laat roep Batseba na sy paleis toe.   Sy moes gaan, want sy mag nie vir die koning gesê het sy wil nie kom nie.  Sy gaan kuier toe by die paleis en slaap toe sommer ook daar.   Daarna is sy huis toe.  Maar Tobias, nie lank daarna nie, stuur sy ‘n boodskap vir die koning dat sy koning Dawid se baba gaan kry.   Dawid besef toe hy is in die moeilikheid!   Toe maak hy sy tweede fout.  Hy wou sy fout wegsteek.

Tobias:        Hoe het hy dit gedoen?

Tannie:          Dawid het ‘n boodskap na  Joab gestuur en gevra hy moet Uria terugstuur na Jerusalem toe.  Daar aangekom vra Dawid ewe mooi vir Uria hoe dit met Joab en die soldate gaan en of hulle darem besig is om die oorlog te wen.  Daarna stuur Dawid hom huistoe dat hy kan gaan rus.  Hy stuur toe ook sommer ‘n geskenk agter hom aan.  Maar die volgende oggend vertel die slawe vir Dawid dat Uria nooit huis toe was nie.  Hy het by die paleisdeur geslaap by die slawe.  Dawid roep hom toe en vra:  “Hoekom was jy nie huistoe nie?  Jy was mos lank weg van jou vrou af.”  Uria antwoord toe:  “Hoekom sal ek lekker by die huis gaan slaap as die ander soldate moet veg in die veld?”   Dawid  nooi toe vir Uria om die volgende dag by hom te kom eet.  Hy het ook vir hom baie wyn gegee dat hy dronk geword het.   Hy het gedink Uria sal daardie dag huistoe gaan en dan sal die mense dink die baba wat Batseba gaan kry, is Uria se baba.  Maar die aand slaap Uria toe weer by die paleisdeur.

Tobias:        Huh?  En toe, Tannie?

Tannie:          Toe maak Dawid die derde groot fout:  hy beplan moord.   Hy het ‘n brief vir Joab geskryf.  Daarin vra hy dat Joab Uria op die voorpunt van die geveg moet sit, sodat hy doodgemaak kan word.   Uria gaan toe terug en Joab doen toe wat Dawid gevra het.  Die soldate het tot naby die stad gegaan om teen die vyand te veg en toe tref een van die pyle vir Uria en hy sterf.  Joab stuur toe ‘n boodskapper na Dawid om te vertel dat hulle naby die stad gekom het.  ‘n Paar soldate is dood, en Uria ook.  Dawid kon dalk  kwaad raak omdat hulle nie naby die stadsmuur moes kom nie, maar toe hy hoor Uria is dood, sê hy net: “Sê vir Joab hy moet nou nie te sleg voel daaroor nie.  Soldate gaan maar dood in oorlog.  Sê Joab moet moedhou en dapper veg.”  Intussen het arme Batseba gehoor haar man is dood.  Sy was hartseer en het ‘n tyd gehuil oor haar man. 

Tobias:        En wat doen Dawid toe?

Tannie:          Na ‘n tyd het Dawid gesê sy moet na die paleis toe kom en toe word sy een van Dawid se vrouens.   ‘n Rukkie later is die baba gebore.  Maar, die Bybel sê iets baie belangriks hier:  God was nie tevrede oor wat Dawid gedoen het nie.  

Tobias:        Tannie?  Die Dawid wat God lief gehad het, ‘n goeie koning was en baie liedere vir God geskryf het, vat toe iemand anders se vrou, wou sy sonde wegsteek en pleeg toe moord?

Tannie:          Tobias, dis waarom ons moet onthou om ons oog altyd op Jesus te hou.  Ons moet dink of mense bly gaan wees oor God as ek nou die ding doen wat ek beplan.  Maar ons storietyd is ongelukkig nou te kort om verder te vertel.  Ons gaan groet, maar volgende keer wil ons vertel hoe God toe met Dawid gepraat het oor hierdie lelike ding en wat Dawid toe gedoen het.   Ons gesels gou weer.  Totsiens, almal!

                                                                                        ***