Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 56: God stuur Natan na Dawid toe

Carin Conradie Season 5 Episode 56

Stories 55 en 56 loop saam: Dawid sondig, God stuur Natan na hom toe, hy bely sy sonde en word vergewe.  Psalm 51 is 'n bewys daarvan.  Ons lees die storie van Natan in 2 Sameul 12.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 56:  God stuur Natan na Dawid toe    (2 Sameul 12)

 

Tobias:        Storie-tyd!  Storie-tyd!  Lekker, lekker storie-tyd!  Hallo, almal!

Tannie:          Hallo, Tobias en maats!  Tobias, jy klink lus vir ‘n storie?

Tobias:        Tannie Carin, ons luister so lekker stories, maar was daar mense in die Bybel se tyd wat ook stories vertel het?

Tannie:          Tobias, daar was baie storievertellers.  Ek dink die mense wat seker die meeste stories vertel het, was die profete.   Hulle het gehoor wat God vir die mense wou sê en dan het hulle dit baie keer in ‘n storie verduidelik.

Tobias:        Regtig?  Wonderlik!  Het Tannie vir ons so ‘n storie?

Tannie:          Ja, Tobias.  Vandag het ons ‘n storie binne-in ons storie.  Julle onthou die nare ding  van Dawid toe hy vir Batseba gevat het en haar man, Uria laat vermoor het?  Nou ja, kort daarna kom die profeet Natan na Dawid toe.  Hy begin vertel toe vir hom ‘n storie: “Eendag was daar twee mans wat naby mekaar gebly het.  Die een was ryk met baie beeste en skape.  Die ander een wat arm met net een ou skapie.  Hy was baie lief vir haar.  Hy het sy kossies van sy gesin so gedeel dat die skapie ook krummeltjies kon kry.  Sy het uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap.  Eendag kom kuier iemand  by die ryk man.   Hy wou vir die man kos gee, maar wou nie een van sy eie skape of beeste slag nie.  Hy dink en dink toe en besluit om sommer die arm man se skapie te vat en te slag vir sy besoeker.”   Dawid het so gesit en luister, maar toe Natan hierdie deel vertel, raak hy kwaad:  “So ‘n man moet sterf!  En hy moet vier skape vir die arm man teruggee.”   Toe sê Natan vir hom:  “Dawid,  jy is die man!   Die Here sê Hy het so baie vir jou gegee.  Jy is gesalf tot koning.  God het jou teen Saul beskerm.  Jy is nou koning oor Juda en Israel.  Boonop het God vir jou baie vrouens gegee.  Hoekom vermoor jy toe vir Uria en vat sy vrou?  Jy het gemaak dat God se vyande nou sy Naam sleg maak.  Daarom gaan dit van nou af sleg gaan in jou huis.  Mense gaan jou vrouens vat en jou kinders sal baklei.  Jy het dinge in die geheim gedoen, maar nou sal almal daarvan weet.”

Tobias:        Tannie Carin!  Wat ‘n storie!  En wat sê Dawid toe?

Tannie:          Julle, dis vir my die mooi van hierdie storie.  Dawid het dadelik besef Natan is reg en sê toe: “Aggenee!  Ek het teen God gesondig!”.   Natan het gesê dat die Here hom vergewe het en hy sal nie nou doodgaan nie, maar die baba wat Batseba gekry het, sal doodgaan.

Tobias:        Haai!  Wat gebeur toe met die baba?

Tannie:          Julle, die baba raak toe siek.  Dawid het gebid; opgehou met eet en op die grond gelê.  Hy het hom eenkant gehou en vir die Here gesê hoe jammer hy is.  Sy huismense het gevra  hy moet tog ietsie  eet, maar hy wou nie.  Die baba het net al sieker geword.  Die sewende dag, toe gaan die kind dood.  Dawid se huismense is toe baie bekommerd.  Hulle was bang dat Dawid nou nog meer hartseer gaan wees.    Dawid  kom toe agter hulle praat  agter hulle hand en vra: “Is die kind dood?”  Hulle moes toe maar ja sê.  Toe Dawid dit hoor, staan hy op.  Hy gaan was homself en sit lekkerruik olie aan.  Hy gaan toe na tabernakel toe om God te gaan aanbid.  Daarna het hy huistoe gekom en kos gevra.  Sy huismense vra toe:  “En nou?  Toe die kind nog gelewe het, het u gehuil en gevas.  Noudat hy dood is, staan u op en eet?”  Dawid het geantwoord:  “Toe hy nog geleef het, het ek gehoop God sal hom genadig wees dat hy kan gesond word.  My gehuilery sal hom nie nou terugbring nie.   Hy kan nie meer na my toe kom nie, maar ek sal eendag na hom toe gaan.”

Tobias:        Haai, oe, Tannie!  Dis hartseer1  Maar hoe weet ons dat Dawid regtig jammer was oor wat hy gedoen het?  

Tannie:          Tobias, ons het ‘n psalm in die Bybel wat Dawid in daai tyd geskryf het – Psalm een en vyftig.   Die maats kan dit gerus gaan lees.  In die Psalm lees ons hoe hartseer Dawid  was dat hy die Here se naam sleg gemaak het.

Tobias:        En Tannie?  Wat van Batseba?  Sy was seker ook hartseer?

Tannie:           Ja !  Verseker was sy ook baie hartseer.  Dawid het na haar toe gegaan en haar probeer troos.  ‘n Tyd daarna het Batseba toe weer ‘n baba gekry.  Sy naam was Salomo.  Ons sal later hoor dat hy toe die kind van Dawid was, wat na hom koning geword het.  Die profeet Natan het ook vir die nuwe baba kom kuier.  Hy het vir hom ‘n ander naam gegee:  Jedidja.

Tobias:        Wat beteken Jedidja, Tannie?

Tannie:          Dit beteken:  “Die Here het hom lief”.

Tobias:        Sjoe!  Dis ‘n mooi naam!   Tannie, toe Dawid vir God jammer sê, het God hom vergewe en nou het hulle glad ‘n seuntjie gekry wat later koning sou word.  Mensig, ons God werk op baie interessante maniere!  Hy is fantasties!  Tannie, lyk my dan ons storie-tyd is al weer verby?

Tannie:          Sjoe, ja, Tobias!  Die tyd vlieg!   Maats, ek wil vra julle moet bietjie vir Psalm een en vyftig gaan lees.  Dis ‘n wonderlike gebed wat ons sommer elke dag kan bid.  Ons groet dan maats, tot volgende keer.  Totsiens!

 

                                                                                    ***