Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 57: Ammon, Tamar en Absalom

Carin Conradie Season 5 Episode 57

Dawid se kinders begin baklei in hierdie hoofstuk:  2 Sameul 13. 

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 57:  Ammon, Tamar en Absalom    (2 Sameul 13)

 

Tannie:          Hallo, Tobias!  En as jou oë nou so groot soos pierings is? Het jy geskrik?

Tobias:        Hallo, julle almal!  Tannie Carin, ek het nou weggehardloop van my maatjie se huis af.  Hy en sy sussie het so baklei dat ek skoon bang geword het.

Tannie:          Haai!  Toe hardloop jy weg voor jy kon sien of hulle vrede gemaak het?

Tobias:        Dink Tannie hulle het weer vrede gemaak?

Tannie:          Ek hoop so.  Ek dink hulle mamma het hulle dalk gehelp om vrede te maak?

Tobias:        Die boeties en sussies in die Bybel se tyd het darem seker nie so baklei nie.

Tannie:          Tobias, hulle was mense soos ons en hulle het ook baklei.  Kom ek vertel vir julle so ‘n storie.   Dawid se oudste seun was Ammon.   Die derde seun was Absalom en sy sussie, Tamar.   Hulle het verskillende mammas gehad.

Ammon het verlief geraak op sy baie mooi half-suster, Tamar.  Hy was so verlief dat hy skoon siek gevoel het.   Ammon se neef, Jonadab, het hom gevra hoekom hy dan so af lyk.  Ammon vertel hom toe dat hy verlief is op Tamar.   Jonadab was ‘n man wat lelike planne kon maak.  Hy sê toe vir Ammon: “Luister, ek het vir jou ‘n plan.   Maak of jy siek is en gaan lê op jou bed.  As jou pa Dawid kom kyk hoe dit met jou gaan, moet jy vir hom vra dat Tamar vir jou moet kom kosmaak.  Dan sal jy beter voel.”

Tobias:        Tannie?  Doen Ammon dit toe?

Tannie:          Ja.  Toe Dawid by  Ammon kom en hoor hy wil hê Tamar moet kom, stuur hy ‘n boodskap na haar toe en vra sy moet vir haar half-broer kom kosmaak.  Sy kom toe en bak twee broodjies daar in sy huis.   Toe die broodjies klaar is,  wou hy dit eers nie eet nie.   Hy stuur toe al die ander mense uit sy huis uit en vra sy moet die broodjie vir hom kom voer.  Toe sy by hom kom het sy ‘n idee gekry dat hy dalk met haar  wou trou.  Sy sê toe:  “Praat met die koning.  Hy sal ons laat trou.”  Maar Ammon het haar net gegryp en baie seergemaak.

Tobias:        Aggenee, ou simpel  Ammon!

Tannie:          Maar, julle, daarna hou Ammon toe niks meer van Tamar nie.  Sy verliefdheid was skoon weg.  Hy  jaag haar toe weg en sê sy slaaf moet haar by die deur uitgooi.  Sy het haar rok met lang moue geskeur, as op haar kop gegooi en kliphard geloop en huil.   Absalom hoor dit toe en was baie kwaad vir Ammon.  Hy het gesê Tamar moet by hom in sy huis kom bly, want sy was vreeslik hartseer en ongelukkig.  Absalom was so kwaad dat hy nie met Ammon wou praat nie.  Dawid hoor toe ook van die storie en hy was woedend kwaad.

Tobias:        Tannie, het Dawid met Ammon gaan praat hieroor?  

Tannie:          Nee, hy het nie, Tobias.    Julle, en so het twee jaar  verbygegaan.  Toe is dit tyd dat Absalom sy skape skeer.  Gewoonlik het hulle dan groot partytjie gehou om te vier dat hulle baie skape het en lekker baie wol gekry het.   Absalom gaan toe na Dawid toe en vra dat die hele gesin na hom toe moet kom vir die partytjie.  Dawid sê toe:  “Nee, man Absalom, ons is te veel.  Ons kan nie almal kom nie.  Maar ek hoop jy kry ‘n goeie skeersel.”   Maar Absalom vra toe of Ammon maar kan kom.  Die koning vra toe hoekom dan nou hy?   Op die ou end gaan al die koning se seuns toe na die groot partytjie toe.

Tobias:         Gebeur daar toe iets by die partytjie, Tannie?

Tannie:          Tobias,  Absalom gee toe lekker kos en baie wyn.  Hy praat toe met sy lyfwagte:  “Manne, as ou  Ammon nou lekker onder die prop is, dan slaan julle hom dood.  Ek gee die bevel.”   En net toe Ammon vrolik is van die wyn, slaan hulle hom morsdood.  Die ander koningseuns skrik hulle boeglam, spring op hulle muile en jaag weg.   Iemand jaag toe vooruit en bring ‘n vals boodskap vir Dawid:  “O, koning, al jou seuns is dood.”  Dawid klim van sy troon af, skeur sy klere en gaan lê op die grond.  Dit was ‘n vreeslike boodskap.  Maar slinkse Jonadab vertel hom toe:  “Koning moet nou nie dit glo nie.  Dis net  Ammon wat dood is.  Hmm, ek het gesien daar is moord in Absalom se oë van die dag af wat  Ammon vir Tamar so seergemaak het.”  Daai tyd hoor hulle hier kom nou ‘n klomp manne aangejaag.  Dis toe die koningseuns.  Hulle storm toe in by hulle pa en begin huil.  Dawid huil.  Die hele paleis se dienaars huil.  

Tobias:        Dis verskriklik, Tannie!  En wat van Absalom?

Tannie:          Absalom vlug toe weg en gaan bly vir drie jaar by sy oupa, koning Talmai.  Dawid het baie lank gehuil oor sy oudste seun Ammon.   Later het hy dit begin aanvaar en het toe niks gedoen aan Absalom nie.

Tobias:        Mensig, Tannie, lyk my die profeet Natan se woorde dat Dawid se kinders gaan baklei, het nou begin waar word.   Ek wens net hulle kon liewer die goed uitpraat en nie vir mekaar doodmaak nie.

Tannie:          Ek stem saam, Tobias.  Dalk kon dit so anders gewees het as Dawid vir Ammon gestraf het.  Dan het daai moord dalk nooit plaasgevind nie.  Maar julle sien al meer en meer hoekom Jesus moes kom om ons te leer hoe ons moet lewe.  En om aan die kruis te kom sterf in ons plek.   Hierdie storie help ons om te sien hoe nodig dit was.

Tobias:        Tannie, na sulke nare stories, voel ek elke keer sleg, maar as ons van Jesus praat, voel ek sommer baie beter.  Hy het gekom vir ons almal.  Nou kan ons in Hom glo en doen wat Hy vra.   Maats, op hierdie noot gaan ons dan vandag se storie klaarmaak.  Kom gou weer!  Tannie Carin wil nog sommer baie stories vertel.  Mooi loop en moenie aanmekaar met julle boeties en sussies baklei nie.  Praat die saak uit.   Lief vir julle!  Totsiens, totsiens!

                                                                                                ***