Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 58: Joab se plan om Absalom terug te laat kom
In 2 Sameul 14 lees ons die slim plan wat Joab gemaak het om vir Dawid te oortuig om vir Absalom te laat terugkom.
Stories uit Kanaän 58: Joab se plan om Absalom terug te laat kom (2 Sameul 14)
Tannie: Hallo, maats! Hallo, Tobias! Jy lyk heel vrolik vandag?
Tobias: Hallo, almal! Tannie Carin, ek en my maatjie het nou ‘n lekker fliek gekyk. Tannie, daar was seker nie mense wat in flieks speel in die Bybel se tyd nie? Hulle het mos nie televisies gehad nie?
Tannie: Dis nou ‘n interessante vraag, Tobias. Nee, hulle het nie televisies of groot skerms gehad waarop hulle flieks kon kyk nie, maar daar was wel toneelspelers. Kan ek vir julle so ‘n storie vertel?
Tobias: Asseblief, Tannie!
Tannie: Julle sal onthou dat Absalom gevlug het nadat hy sy broer vermoor het. Dawid, sy pa, was kwaad, maar na drie jaar het hy sy seun begin verlang. Joab, die hoof van Dawid se leer, sien dit toe en maak ‘n plan. Hy het geweet van ‘n vrou in Tekoa. Die Bybel noem haar ‘n slim vrou. Sy kon goed toneelspeel. Joab het haar vertel dat hy graag wil hê Dawid moet weer met sy seun praat. Sy moes ‘n afspraak maak om die koning te gaan sien. Joab het vir haar al die woorde gegee wat sy moes praat, net soos ‘n draaiboekskrywer vandag vir ‘n toneelspeler sal gee.
Tobias: Sjoe! Tannie gebruik groot woorde: toneelspeler en draaiboekskrywer. Maar, vertel verder, asseblief!
Tannie: Tobias, die dag kom toe wat die vrou by Dawid aankom. Sy het vir haar spesiale klere aangetrek: rouklere wat wys dat sy huil omdat iemand in haar familie dood is. Sy moes ook niks grimering of lekkerruikgoed aansit nie. Sy moes baie hartseer lyk. Sy kom toe by Dawid en val op haar knieë voor hom neer: “O, koning, help my tog!” Dawid wou weet: “Wat makeer?” Sy het gesug en vertel: “Ek is ‘n arme weduwee. My man is dood. Ek het twee seuns gehad. Toe baklei hulle in die veld. Daar was niemand om hulle uitmekaar te maak nie. Toe slaan die een die ander een dood. Ag, my koning! Nou is ek in groot moeilikheid: die familie is baie kwaad oor die moord. Hulle wil my ander seun met die dood straf. Ag, koning! Dan gaan ek niemand oor hê nie. Niemand sal eers my man se naam onthou nie. Hulle wil my enigste hoop wat oor is, ook nou wegvat.” Die koning het gesê hy sal self na haar probleem kyk. As iemand weer met haar daaroor praat, moet sy hulle na hom toe stuur. Sy was dankbaar, maar het gevra hy moet keer dat iemand haar seun doodmaak. Dawid het geantwoord: “Ek sê dit nou waar die Here my kan hoor: jou seun sal niks oorkom nie.”
Tobias: Hmm! Sy kon goed toneel speel. En wat toe , Tannie?
Tannie: Sy vra toe: “Ag koning, kan ek nog iets vra: Hoekom doen u dan so ‘n sleg ding hier in ons volk: u het nou eintlik gesê dat u self ook skuldig is. Hoekom wil u nie u seun wat gevlug het, laat terugkom nie? Dawid het gevra: “Mmm, Slim Vrou, moet niks vir my wegsteek nie: het Joab jou gevra om na my toe te kom?” Sy het geantwoord: “Ja-nee, u majesteit! U luister en praat met die wysheid van ‘n engel. Ja! Joab het gesê wat ek moet sê.”
Tobias: Was Dawid kwaad vir die toneelspeler tannie?
Tannie: Nee! Hy het besef dit was alles Joab se plan. Hy laat roep toe vir Joab en sê: “Mmm, julle het my lekker gevang! Nee, dis goed. Gaan haal maar vir Absalom. Hy kan weer in sy huis in Jerusalem kom bly. Maar hy moenie na my toe kom nie.” Joab was baie dankbaar dat sy plan gewerk het.
Tobias: Maar Tannie? Toe sien Dawid nog steeds nie sy kind nie?
Tannie: Ja, julle. So gaan twee jaar verby. Absalom wou sy pa sien om te weet of hy hom gaan straf en of hulle gaan vrede maak. Hy laat roep toe vir Joab, maar Joab wou nie na Absalom se huis toe kom nie. Hy laat roep hom ‘n tweede keer, maar nee, Joab bly by sy huis. Toe maak Absalom ‘n vreemde plan. Hy sê vir sy slawe: “Joab het mos ‘n garsland hier langs my lande. Gaan steek dit aan die brand.”
Tobias: Nee! Wat gebeur toe?
Tannie: Toe kom hardloop Joab gou daar aan en vra: “Absalom! Vir wat steek jou slawe my land aan die brand?” Absalom antwoord: “Ek het jou al twee keer laat roep en jy wil nie na my toe kom nie! Ek wil hê jy moet vir my pa gaan vra wanneer ek hom dan nou kan sien. Dis al twee jaar vandat ek terug is!” Joab gaan toe na Dawid en vertel hom dat Absalom hom wil sien.
Tobias: O, my maag draai! En toe Tannie?
Tannie: Dawid laat kom toe vir Absalom. Absalom het diep voor die koning gebuig. Dawid het opgestaan van sy troon af. Hy het geloop tot by Absalom en, hy gee hom toe ‘n soen!
Tobias: Sjoe! Toe is daar weer vrede! Dawid het hom nie gestraf nie!
Tannie: Ja! Of Dawid nou reg gedoen het of nie; daar was nou weer ‘n bietjie vrede in sy huis.
Tobias: Ek is darem bly dat ons storie van vandag met vrede eindig. En dit omdat ‘n slim toneelspeelster haar rol so goed gespeel het. Dis eintlik baie snaaks! Huh, huh, huh!
Tannie: Tobias, maats, ons storietyd van vandag is nou om. Ons gaan gou weer kom met nog ‘n interessante storie uit die wonderlike boek van ons wonderlike God. Ons groet julle tot volgende keer! Mooi loop! Totsiens!
***