Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 59: Absalom wil koning wees

Carin Conradie Season 5 Episode 59

Absalom het die harte van die volk gesteel en toe probeer koning word in Hebron.  Ons lees die eerste deel van hierdie storie in 2 Sameul 14 tot 16.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 59:  Absalom wil koning wees   (2 Sameul 14-16, 18)

 

Tannie:          Hallo, Tobias en maats!

Tobias:        Hallo.

Tannie:          Tobias, hoekom kyk jy na jouself in die spieël?

Tobias:        Tannie Carin,  hoekom het ek groen hare?

Tannie:          Want jy is ‘n groen seuntjie, Tobias.  Dis hoekom jou hare groen is.

Tobias:        O!  Huh, huh, huh!  Ek hou van my hare.  Tannie, daar is seker nie stories van hare in die Bybel nie.

Tannie:          Jy sal verbaas wees:  daar is meer as een storie oor hare.  Ek kan julle een vertel.  Die storie is lank, maar ons kan vandag solank daarmee begin. 

Julle onthou Dawid se seun, Absalom?  Hy was baie aantreklik.  Hy was mooi van kop tot tone.  Hy het ook pragtige lang, dik hare gehad.   Aan die einde van elke jaar het hy dit laat knip, anders word dit te swaar.  Hy het drie seuns en ‘n dogter gehad.  Dit klink asof die drie seuns nooit kinders gehad het nie.  Toe besluit  Absalom om vir homself ‘n pilaar op te sit in die Koningslaagte dat mense hom kon onthou.  Hy het dit genoem:  Absalom se teken.

Tobias:        Aarde, Tannie?  Wat het hy nog gedoen?

Tannie:          Hy het vir hom ‘n kar en perde gekoop.  Vyftig manne moes elke oggend vroeg  voor hom uitloop in die strate.  Hy kom ry dan agterna met sy mooi perdekar.  Dan gaan hou hy stil by die stad se ingang.  Baie mense het daar ingekom wat oppad was na koning Dawid om vir hom raad te vra.  Voor hulle nog by Dawid kon kom, roep Absalom hulle nader en luister na hulle probleem.  Dan sê hy:  “Mmm, jou saak klink goed, maar die koning sal nie na jou luister nie.  As ek nou koning was, sou ek gehelp het.”  As die mense dan voor hom buig, het hy die mens omhels en gesoen.  So het die mense al liewer geword vir Absalom.   Op ‘n dag vra hy sy pa om Hebron toe te gaan. Hy wou glo vir God ‘n offer bring om dankie te sê dat hy kon terugkom na Jerusalem toe.  Dawid het ja gesê, want hy het nie geweet dat Absalom eintlik ‘n baie lelike plan het nie.

Tobias:        ‘n Lelike plan, Tannie?

Tannie:          Ja!  Hy het ewe tweehonderd gaste saamgenooi.  Hulle het gedink hulle gaan offers bring.  Hy het ook Dawid se raadgewer, Agitofel, oupa van sy vrou, Batseba, laat roep om saam te gaan.  Skelmpies het hy ‘n boodskap vir die leiers van die volk gestuur:  “As julle die ramshoring hoor, moet julle roep:  Absalom het koning geword in Hebron.”

Tobias:         Wat?  Nee, Tannie!

Tannie:          Tobias, iemand kom vertel toe vir Dawid wat aan die gang is.  Dawid het baie groot geskrik,  Hy het vir al sy mense gesê dat hulle nou dadelik moet vlug.  Tien van sy byvroue het agtergebly om die paleis op te pas.  Die res van die stad, selfs seshonderd Filistyne en hul leier, Ittai, het saamgeloop.  Dawid wou hê Ittai moes omdraai, maar hy wou by Dawid bly.  Die priesters en die ark het ook saamgekom.  Dawid gesê die priesters en ark moet teruggaan, want die ark hoort in Jerusalem.  Die priesters moes liewer vir Dawid boodskappe stuur oor wat aangaan in Jerusalem.  Dawid en die res van die mense het aangestap en kliphard gehuil.  Dawid was kaalvoet met ‘n lap oor sy kop.  Dit het gewys hoe hartseer hy was.  Iemand kom vertel toe vir hom dat  Agitofel, sy raadgewer, nou aan Absalom se kant is.  Dawid het gebid:  “Ag, Here, help tog dat Agitofel nie vir Absalom goeie raad gee nie.”  Kort daarna kom daar toe ook ‘n ander vriend, Gusai, by Dawid aan.  Hy was so hartseer dat hy sy klere geskeur en grond op sy kop gegooi het.  Dawid was baie bly om hom te sien, maar het gevra:  “Gusai, gaan asseblief terug na Jerusalem toe.  Maak asof jy nou vir Absalom dien en help dat hy nie Agitofel se raad volg nie.”

Tobias:        Tannie?  Dit klink verskriklik!  Dawid moes nou al weer wegkruip!

Tannie:          Julle, maar dit was nog nie die einde van die sleg nie.  Dawid-hulle,  moeg en hartseer, het nog so geloop en hier kom Simei.  Hy was een van Saul se familielede.  Die Simei begin toe vir Dawid vloek: “Trap, trap hier uit, jou moordenaar, jou skurk.   Jy kry nou wat jy verdien.”  Simei begin toe klippe optel en gooi dit na Dawid en sy mense toe.  Hulle moes net wild koes vir die klippe.  Abisai,  Joab se broer, wou toe vir Simei doodmaak, maar Dawid het hom gekeer:  “Moenie.  Simei is deur die Here gestuur om my te vloek.  Los hom.   Miskien sal die Here tog sien hoe swaar ek kry.”  Simei het nog ‘n ver ent so geloop en vloek en klippe gegooi.  Toe Dawid-hulle by die Jordaanrivier kom, kon hulle darem bietjie rus.

Tobias:        Tannie?  Hoe hou mens dit?  Wat het Dawid gedoen om nie heeltemal moedeloos te word nie?

Tannie:          Tobias, maats, Dawid het na die Here geroep.  Ons sien dat hy Psalm drie geskryf het in daardie tyd.   Hy het geskryf:  “As ek gaan lê, slaap ek goed: ek word weer wakker,  want die Here sorg vir my.”  

Tobias:        Tannie, kan ek en die maats ook Psalm drie bid as dit sleg gaan met ons?

Tannie:          Verseker, Tobias!  God luister altyd!  Hy vat ons nie altyd weg uit die moeilikheid nie, maar Hy gee raad en moed tot dinge beter raak.   

Tobias:        Fantasties!   Ons God is ‘n baie goeie Vader!  Tannie, is ons storie-tyd nou om?

Tannie:          Ongelukkig, ja, Tobias, maar ons vertel later verder aan die hare-storie.  Maats, bid tot God; of dit nou goed gaan of sleg!  Hy sal hoor.  Ons groet julle dan tot volgende keer.  Totsiens!

                                                                                    ***