Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 60: Absalom sterf

Carin Conradie Season 5 Episode 60

In hierdie storie uit 2 Sameul 16-19 hoor ons die hartseer verhaal van Absalom se einde.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 60:  Absalom sterf      (2 Sameul 16-19)

 

Tannie:          Hallo, Tobias en maats!

Tobias:        Hallo, julle!  Tannie Carin, ek wil graag weet:  hoe het spieëls gelyk in die Bybel se tyd?

Tannie:          Tobias, hulle het nie spieëls van glas gehad soos ons nie.  Die spieëls was van goud of brons of silwer, wat mooi blink gevryf is.

Tobias:        O!  So Absalom kon net so dowwerig sien hoe mooi sy hare was?

Tannie:          Ja, Tobias!  Net so dowwerig!  Maar dit laat my dink dat ons vandag wil aangaan met ons storie oor hare.  Maats, Tobias, Absalom wou mos koning word.  Hy en Israel se soldate het in Jerusalem aangekom.  Gusai, Dawid se vriend ontmoet hom toe daar en vertel dat hy vir Absalom sal dien soos hy vir Dawid gedien het.  Absalom was eers verbaas, maar hy sê toe dat Agitofel, die slim raadgewer en Gusai nou sy raadgewers moet word.  Hy vra toe eers vir Agitofel wat hy nou moet doen.  Agitofel sê dat hy Dawid se tien byvrouens vir hom moes vat.   Dan moes Absalom vir Agitofel twaalf groepe soldate gee, dat hy sommer gou vir Dawid kon gaan doodmaak.  Absalom het bietjie gedink en gesê:  “Laat ons net eers hoor wat Gusai sê oor die vegtery.”  Gusai se raad was:  “Absalom, jy weet hoe ‘n slim soldaat jou pa is.  Hy kruip seker hoeka iewers weg waar ons hom nie kan kry nie.   Nee, kom ons kry baie soldate bymekaar.  Dan gaan ons almal en maak vir Dawid en sy bietjie soldate vinnig dood.  As hy in ‘n stad is, sleep ons sommer die hele ou stadjie se mure weg.”  Absalom hou toe van die raad.  Wat hy nie geweet het nie, was dat die Here beplan het om swaar dinge oor hom te bring.

Tobias:        Haai!  Regtig, Tannie?  En toe?

Tannie:          Intussen het Gusai vir die priesters laat weet om ‘n boodskap te stuur na Dawid oor  Absalom se planne.  ‘n Slavin het die boodskap na  die priesters se seuns wat buite die stad by ‘n fontein gewag het, gevat.  Ongelukkig sien ‘n jong seun haar toe en gaan verklik dit by Absalom.  Die twee priesterseuns gaan kruip toe weg by ‘n man in Bagurim.   Sy vrou het ‘n slim plan gemaak:  “Klim gou in die put in ons agterplaas.  Ek sal ‘n doek bo-oor span en koring daarop gooi.  Niemand sal weet julle is daar binne-in nie.”  So kon Absalom nie die twee boodskappers kry nie en hulle kon die boodskap na Dawid bring dat hy verder moet wegvlug.  Agitofel sien toe dat Absalom nie sy raad volg nie.  Hy raak toe bang of moedeloos en gaan huistoe en maak homself dood!

Tobias:        Nee!  Dis hartseer!

Tannie:          Ja!  En daai dag het toe nog meer hartseer gebring!   Absalom het sy neef, Amasa, hoof gemaak van sy leër.  Hulle het reggemaak vir die oorlog.  Dawid en sy manne het ook reggemaak vir oorlog.  Daar het mense gekom wat beddegoed en kos vir Dawid en sy manne gebring het.  Dawid se leiers wou nie gehad het hy moet saam met hulle kom veg nie.  Dawid het gevra die drie hoofde van sy leër: Joab, Abisai en Ittai moes tog sag werk met Absalom.  En toe begin die groot geveg in die oop veld.  Later was in die ‘n bos.  Die manne van Absalom het verdwaald geraak.  Daai dag is twintig duisend manne dood.  Meer manne is in die bos dood as wat Dawid se soldate doodgemaak het .  

Tobias:        Aggenee!  En Absalom, Tannie?

Tannie:          Julle, terwyl die geveg aan die gang was, het Absalom op sy muil gejaag onderdeur ‘n groot akkerboom.  Toe hy so buk, haak sy mooi bos hare aan die takke vas, en, en daar hardloop die muil onder hom uit!  Absalom hang toe aan sy hare in die boom!  Een van die soldate sien dit toe en gaan vertel vir Joab.  Joab het hom glad nie gesteur aan Dawid wat gevra het hulle moet tog sag werk met Absalom nie.  Hy het hom dadelik  wreed gaan doodmaak daar in die boom.  Toe blaas Joab die ramshoring dat die oorlog kon stop.  Hulle het Absalom in ‘n diep gat in die bos gegooi en klomp klippe bo-op gepak.  

Tobias:        Tannie?  Sy mooi hare bring toe sy dood?  En hoe hoor Dawid toe daarvan?

Tannie:          Tobias, twee manne het na Dawid toe gehardloop met die boodskap.  Toe Dawid hoor sy kind is dood, het hy in trane uitgebars.  Hy het heen en weer geloop en gehuil:  “Absalom, my seun, my seun!  Absalom, as ek tog maar liewer in jou plek kon doodgaan!”  Dawid het besef dat foute wat hy voorheen gemaak het, het nou die lelike dinge gebring.  Die soldate wat vir Absalom gevolg het, het gevlug na hulle huise toe.  Dawid se soldate het stilletjies in die stad ingesluip, want hulle kon nie glo dat Dawid so hartseer was nie.  Joab het met Dawid geraas:  “Koning, die soldate het hulle lewens gewaag vir u.  En nou staan en huil u oor ‘n vyand?   Nee, man, gaan af na die poort toe en wys vir die mense u is dankbaar vir wat hulle  gedoen het.”   Dawid het toe in die poort gaan sit, sodat sy soldate hom kon sien.

Tobias:        Aarde, Tannie?  Dis nou vir jou ‘n vreemde hare-storie!   

Tannie:          Vreemd, sowaar, Tobias!   Maar selfs in hierdie hartseer kan ons sien hoe God vir Dawid gehelp het.  Hy het gebid dat Agitofel se raad nie vir Absalom sal help nie.  In Psalm drie skryf Dawid toe:  “As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af.  Hulp kom net van die Here af.”  Selfs al maak ons foute, kan ons nog steeds na God roep om ons te help.  Maats, met hierdie goeie nuus moet ons nou vandag se storie klaarmaak.  Ons kom gou weer met nog een van Dawid se stories.  Mooi loop!  Totsiens!

                                                                                    ***