Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 61: Dawid gaan terug na Jerusalem

Carin Conradie Season 5 Episode 61

In 2 Sameul 16,19 en 20 lees ons van al die dinge wat gebeur het rondom die terugkeer van Dawid na Jerusalem - na die opstand van Absalom.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 61:  Dawid gaan terug na Jerusalem  (2 Sameul 16, 19, 20)

 

Tannie:          Hallo, julle almal!  Tobias, hallo!  Hoekom frons jy so?

Tobias:        Hallo, julle!  Tannie Carin, ek wonder net hoekom stry mense so baie?

Tannie:          Tobias, in die boek Jakobus lees ons:  “Waar kom die rusies vandaan?  Van julle selfsugtigheid af.  Julle will dinge hê en is jaloers.  As julle dit nie kry nie, wil julle mekaar  sommer doodmaak.   Julle kry ook niks nie, omdat julle nie bid nie.”

Tobias:        Sjoe!  So dis omdat ons net wil hê en hê en hê?

Tannie:          Ja!   Kom ek vertel julle bietjie van so ‘n bakleiery in Dawid se tyd.   Absalom was nou dood.  Dawid het nog weggekruip.  Die volk was verdeeld in twee groepe:  Juda en Benjamin is Juda genoem.  Die ander tien stamme saam, is Israel genoem.  Israel sê toe vir mekaar dat hulle vir Dawid wil terugkry in Jerusalem as hulle koning.  Dawid vra toe vir die priesters of Juda hom ook wil terug hê.   Dawid het ook vir  Amasa die nuwe hoof van sy leër gemaak.   Toe sê Juda:  “Koning, jy moet nou terugkom na Jerusalem.” 

Tobias:        O, ek is bly!  Terug na Jerusalem!  Was dit ‘n moeilike pad, Tannie?

Tannie:          Tobias, hulle moes oor die  Jordaanrivier trek.  Klomp mense het gekom om hulle oor die rivier te help.  Eerste het Simei gekom.

Tobias:        Was Simei dan nie die ou wat vir Dawid gevloek en met klippe gegooi het nie?

Tannie:          Jy is reg, Tobias.  Simei het nou voor Dawid kom neerval en gesê hy is so jammer.  Dawid moet hom asseblief vergewe.  Abisai, een van die hoofsoldate wou vir Simei doodmaak oor die gevloekery, maar Dawid het gesê:  “Nee, vandag word niemand in ons land doodgemaak nie.”   

Tobias:        Ag, fantasties!  

Tannie:          Tobias, toe kom Mefiboset, die kreupel seun van Saul, daar aan.  Toe Dawid weggevlug het van Absalom af, het Mefiboset se slaaf, Siba, vir Dawid twee donkies vol kos gebring.  Siba het gesê Mefiboset het in Jerusalem gebly, omdat hy gedink het hy gaan nou koning word.  Dawid het toe al Mefiboset se grond vir Siba gegee.  Toe Mefiboset nou na die tyd by Dawid kom was sy hare en baard deurmekaar.  Sy klere en voete was vuil.  Dawid vra hom toe: “Hoekom het jy nie saam met my gekom nie?”  Mefiboset het gesê dat Siba jokstories vertel het.  Hy wou saamgaan, maar Siba wou nie vir hom ‘n donkie opsaal nie.  Dawid sê toe dat Siba en Mefiboset nou maar die grond moet deel, maar Mefiboset het gesê Siba kan maar al die grond kry.

Tobias:        Klink my Siba was ook selfsugtig?  Toe bring dit stryery!  

Tannie:          Klink vir my ook so!   Julle, toe kom Barsillai ook daar aan.  Hy was ‘n ryk man wat voorheen kos vir Dawid gestuur het.  Dawid wou hom saamvat na Jerusalem, maar Barsillai het gesê:  “Nee, Dawid, ek is oud en doof en ek proe nie eers meer my kos nie.  Nee, ek bly maar by my eie huis.  Maar my seun, Kimham, kan saam met jou gaan.”  Toe begin trek al die mense deur die rivier.

Tobias:        Dankie tog!  Was daar nou vrede, Tannie?

Tannie:          Nee, Tobias.  Hulle was so aan die trek, toe begin stry Israel en Juda se leiers.  Israel het gesê:  “Juda, hoekom het jy die koning by ons gesteel?”  Toe blaas ‘n man, Seba, op die ramshoring en sê:  “Nee wat, ons wil nie vir Dawid as koning hê nie.  Israel, kom volg  vir my!”  En daar gaan hy met Israel agter hom aan.

Tobias:        Tannie?  Mensig!  Was Dawid darem toe al amper by Jerusalem?

Tannie:          Ja, hy kom toe net daar aan.  Hy vat toe sy tien byvrouens wat agtergebly het en sit hulle eenkant in ‘n huis.  Hy het ook nooit weer by hulle gaan kuier nie.  Dawid besef toe hy moet nou iets aan Seba doen.  Hy vra toe vir Amasa om soldate uit Juda bymekaar te kry.  Amasa vat toe bietjie lank, en Dawid raak bekommerd.  Hy stuur toe vir Abisai en ‘n paar soldate om agter Seba aan te gaan.  Joab, wat voorheen die soldate se leier was, gaan toe sommer saam.  Langs pad kry hy toe vir Amasa.  Dit lyk of hy jaloers was op Amasa.  Toe maak hy hom sommer dood!  Iemand roep toe: “Almal wat vir Dawid kies, volg vir Joab”.  En daar loop al die soldate agter Joab aan en hulle gaan na die stad toe in Israel waar Seba nou weggekruip het.

Tobias:        Tannie?  Ek sien al die selfsugtigheid!  En wat gebeur toe by die stad?

Tannie:          Joab en sy soldate wou die stad se muur laat omval.  Daar was ‘n slim vrou in daai stad.   Sy vra toe vir Joab hoekom hy  ‘n goeie stad wil platvee.  Joab het geantwoord hy wil net vir Seba hê, dis al.  Sy gaan praat toe met die stad se leiers.  Hulle maak toe vir Seba dood en toe hou daai oorlog darem op.

Tobias:        Tannie?  Ek verstaan al meer dat ons selfsugtigheid maak dat ons so lelik is.  

Tannie:          Dis reg, Tobias.  Dis hoekom ons vir Jesus as ons koning moet kies.  As ons bid en vra Hy moet ons wys hoe ons moet lewe, sal die Heilige Gees ons elke dag help.   Maats, ons storie-tyd van vandag is nou om.  Maar gaan sommer nou en praat met Jesus oor jou eie lewe.  Hy wil jou help om reg en mooi te leef.

Tobias:        Fantasties!  Die goeie nuus van Jesus Christus!  Jippie!  Totsiens, almal!

                                                                                    ***