Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 62: Rispa en haar seuns

Carin Conradie Season 5 Episode 62

Rispa het vir  maande gerou en gewaak by haar en Merab se seuns.  Ons lees die storie in 2 Sameul 21.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 62:  Rispa en haar seuns    (2 Sameul 21)

 

Tobias:        Hongerte, hongers, hongersnoos, honger-wat nou weer?  Hallo tannie Carin!

Tannie:          Hallo, Tobias!  Groet jy sommer vandag met ‘n vraag?

Tobias:        Hallo, julle almal!  Tannie, wat is die woord vir wanneer daar nie kos is om te eet nie?   Partykeer sukkel my sponsbrein met die groot woorde!

Tannie:          Jy meen, hongersnood, Tobias?

Tobias:        Ja!  Ja!  Daai woord!  Ons lees mos van hongersnode in die Bybel.  Hoe het ‘n hongersnood gestop?

Tannie:          Hongersnood stop wanneer dit weer lekker reën en die kos kan groei.  Tobias, ek het ‘n baie hartseer storie vir vandag wat begin met hongersnood. 

Tobias:        Honger en hartseer?  Hoop ons leer iets uit die storie, Tannie!  Vertel maar.

Tannie:          Julle, een of ander tyd terwyl Dawid koning was, was daar drie jaar lank hongersnood.  Niks reën het geval nie.  Dawid kon nie verstaan wat gaan aan nie.  Hoekom sal God hongersnood in hulle lekker land stuur?  Toe gaan vra hy vir God hoekom dit dan nou so droog is.  God het hom geantwoord:  “Dawid, jy onthou dat Josua lank terug vir die Gibeoniete belowe het dat hulle nie doodgemaak sal word nie?  Nou ja, Saul het daai belofte wat voor My gemaak is, verbreek.  Hy wou so graag hê Israel moet ‘n groot wonderlike volk word, dat hy die Gibeoniete probeer doodmaak het.”

Tobias:        O aarde, Tannie!  Vra Dawid toe vir die Here wat om nou daaraan te doen?

Tannie:          Julle, ons lees nie dat hy vir die Here gevra het wat om te doen nie.  Hy het wel vir die Gibeoniete gevra wat wil hulle hê moet hy doen, sodat God weer die land kan seën met reën en kos.  Hulle antwoord was nie ‘n lekker een nie:  “Koning Dawid, ons kan nou nie kom om sommer julle mense dood te maak nie.  Ons wil ook nie geld hê nie.  Mmm, ja, ons dink jy kan vir ons sewe seuns of kleinseuns van Saul gee.  Ja, ons sal net hulle doodmaak.  Mmm, ons gaan hulle lyke ophang by Saul se dorp Gibea.”

Tobias:        O!   Gee Dawid toe die sewe mense?  

Tannie:          Ja, Tobias.  Hy gee toe vir hulle twee seuns en vyf kleinseuns van Saul.  Rispa was die mamma van die seuns en Merab was die mamma van die kleinseuns.

Tobias:        Aarde tog!   Was die kreupel Mefiboset dan nie ook een van Saul se kleinseuns nie?

Tannie:          Ja, hy was, maar Dawid het nie vir Mefiboset gegee nie, want hy het mos vir Jonatan, sy pa, belowe hy sal nooit sy kinders of kleinkinders doodmaak nie.   Ja, en toe maak die Gibeoniete die manne dood.  Dit was net so aan die begin van die seisoen wanneer hulle eintlik moes gars oes.   

Tobias:        Aggenee!   Is die lyke toe begrawe?  

Tannie:          Nee, Tobias.  Die Gibeoniete wou gehad het almal moes die lyke sien en onthou wat Saul gedoen het.  Maar Rispa, die ma van die twee seuns van Saul, het gedink:  “Ek kon nie my kinders beskerm teen hierdie wrede ding nie, maar ek gaan hulle lyke beskerm.  Ek gaan my rouklere aantrek.  Dan gaan ek vir my ‘n roudoek oopgooi daar op die groot klip naby hulle lyke.  Ek gaan daar by hulle sit en huil.  Ek gaan al die voëls of wilde diere wat naby hulle lyke wil kom, wegjaag.  Elke dag en elke nag.  Ja, dis wat ek gaan doen!”

Tobias:        Tannie?  Regtig?  Het sy dit toe gedoen?  Dis groot werk!  

Tannie:          Ja, julle.  Dit was die een ding wat sy kon doen met haar groot hartseer oor haar kinders!   Sy het daar gesit en opgespring om die diere weg te jaag en weer gesit en opgespring as voëls kom.  Dit klink of sy dit vir omtrent vyf maande lank gedoen het.

Tobias:        Sjoe!   Wanneer het sy huistoe gegaan?

Tannie:          Tobias, die mense het vir koning Dawid gaan vertel wat Rispa doen.  Toe hy dit hoor, het hy gesê:  “Mensig!  Goed!  Dis wat ek gaan doen:   die bene van Saul en Jonatan moet by die mense van Jabes gaan haal word.  Dan gaan ons Saul en Jonatan en Rispa se twee seuns  en Merab se vyf kleinseuns se bene vat en dit in Saul se pa, Kis se graf gaan begrawe.”

Tobias:        Is dit toe so gedoen, Tannie?

Tannie:          Ja, al die bene is begrawe.  Toe kon Rispa huistoe gaan.   Maar die wonderlike ding wat toe gebeur, is dat God weer vir hulle reën gestuur het!  Die droogte is gebreek!  Die koring en groente en vrugte kon weer groei!

Tobias:        Ag, maar is ek bly!  Maar Tannie, was dit regtig nodig dat die sewe manne moes doodgemaak word?

Tannie:          Tobias, ons weet nie.  Dalk was dit nodig, dalk nie.  Ons is net bly dat Dawid gesien het dat ‘n mamma swaarkry en dat hy iets daaraan gedoen het.  Maar die belangrikste ding wat ons in hierdie storie moet sien, is hoe nodig dit was dat Jesus moes kom.  Hy het in ons plek kom sterf en opgestaan, dat ons kan vrykom van sonde wat sulke lelike goed in ons lewe laat gebeur.

Tobias:        Maats!  En nou het Hy al gekom!  Nou kan ons sy kinders word!   Tannie, ek is so bly die Ou Testament en die Nuwe Testament is saam  een Bybel.  Ons sien in die hele Ou Testament hoekom Jesus moes kom.  En in die Nuwe Testament sien ons Hy  het gekom!  Jippie!  Dis fantasties, wonderlik!  Jesus het vir almal gekom:  Israeliete, Gibeoniete, ons wat Afrikaans praat, almal! 

Tannie:          Fantastiese nuus wat ons vir almal moet vertel!  Maats, ons sal nou ongelukkig moet groet, maar dink gou aan iemand vir wie jy vandag hierdie wonderlike nuus kan gaan vertel?   Ons kom gou weer!  Lekker vertel!  Totsiens!

                                                                                    ***