Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 63: Dawid laat die volk tel

Carin Conradie Season 5 Episode 63

In hierdie storie laat Dawid die volk tel en God stuur 'n engel om die volk te straf.  God se groot genade word ook baie duidelik in die storie.  Ons lees dit in 2 Sameul 24 en 1 Kronieke 21.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 63:  Dawid laat die volk tel        (2 Sameul 24   en 1 Kronieke 21)

 

Tannie:          Hallo, almal!   Hallo, Tobias.  Wat maak jy?

Tobias:        Hallo, julle!  Tannie Carin ek maak of ek ‘n engel is.  Ek klap my vlerke om te kan vlieg.   Huh, huh, huh!  Maar ek bly net hier op die grond!  My arms is te kort.   Tannie, vertel asseblief vandag vir ons ‘n storie waarin daar ‘n engel is?

Tannie:          ‘n Engel-storie?  Mmm, goed!  Maats, Tobias, op ‘n keer was God kwaad vir die volk Israel.  Die duiwel wou toe baie lelik wees met die volk.   Hy hits toe vir Dawid aan om die volk te tel.  Dawid het gehou van die gedagte:  dan kan hy mos sien hoe groot sy volk is.  Hy laat roep toe vir Joab:  “Joab, ek wil hê jy moet deur ons hele land trek; van noord tot suid.  Tel bietjie vir ons die mense.”  Joab het nie gedink dis goed nie:  “Koning, nee1.  Al word ons volk ook honderd maal meer as nou, is u mos nog steeds die koning.  Ek dink nie die Here gaan van hierdie plan hou nie.”  Maar Dawid het gesê hy moet gaan tel.

Tobias:        Het Dawid nie vir die Here gevra of dit reg is nie?

Tannie:          Nee, dit klink nie so nie.  So, toe is Joab daar weg en het begin tel.  Hy het getel en getel en getel:  vir nege maande en twintig dae lank.  Toe kom hy terug en sê vir Dawid hoeveel mense in sy volk is.   Dawid was tevrede, maar, na ‘n rukkie begin die ding hom pla: “Het ek nou die regte ding gedoen?  Nee, ek dink nie so nie.  Ai, hoekom het ek dit laat doen?”  Toe praat hy met die Here: “Here, ek het verkeerd gedoen!  Ek is jammer!  Vergewe my asseblief!  Sowaar, dit was nou ‘n dom ding om te doen!”   Tobias, God het die siener, Gad na Dawid toe gestuur:  “Koning Dawid, God  het gesê u moet tussen een van drie dinge kies.  Nommer een:  sewe jaar hongersnood in die land.  Nommer twee:  die koning gaan drie maande voor sy vyande uitvlug.  Nommer drie:  drie dae van pes onder die hele volk.   Kies nou een, dat ek vir God die antwoord kan gaan gee.”  Dawid het daar gesit.  Hy kon nie kies nie.  Al drie was erg!  Hy antwoord toe: “Siener, ek weet regtig nie.  Ek kan nie kies nie.  Al wat ek maar sal sê is dat ek nie deur mense gestraf wil word nie.  Die Here moet my maar liewer straf, want Hy is genadig.”  

Tobias:        Haai, oe, Tannie!  Wat het die Here gedoen?

Tannie:          Toe stuur die Here ‘n pes onder die volk.   ‘n Engel met ‘n swaard moes vlieg van noord tot suid in die land.  Hy het sy hand uitgesteek oor die mense  van die oggend tot die aand.  Toe is sewentig duisend mense dood!  Die engel kom toe by Jerusalem.  Hy wou net sy hand uitsteek, toe keer die Here hom:  “Engel, dis nou genoeg.  Trek  jou hand terug.”  Julle, maar die engel het nie weggegaan nie.  Hy het net daar bly hang in die lug waar God hom gevra het om te stop.   Dit was by die dorsvloer van Arauna waar hy sy koring uit die are getrap het.   Arauna en sy vier seuns het die engel gesien met ‘n oop swaard in sy hand.  Hulle was so bang, dat hulle gaan wegkruip het!    Dawid het ook  die engel gesien.  Hy bid toe:  “Here, dis ek wat gesondig het.  Straf my en my familie, nie die res van Israel nie.”

Tobias:        O, Tannie!  My maag draai!  Wat gebeur toe?

Tannie:          Julle, God het weer die siener Gad na Dawid toe gestuur:   “Koning Dawid, die Here vra jy moet ‘n altaar gaan bou daar op die dorsvloer.”   Dawid is toe dadelik daar weg.   Arauna sien toe vir Dawid aankom, kom uit sy wegkruipplek en buig diep voor hom.  Dawid vra toe: “Ek wil asseblief jou grond waarop die dorsvloer is koop.  Ek wil hier ‘n altaar bou, sodat die Here ons kan ophou straf.”   Arauna het gesê:   “Ag Koning, u kan dit maar sommer vat.  U kan ook my beeste vat om dit vir die offer te gebruik.  Ja, u kan sommer die slee ook kry vir vuurhout vir die offer.”  Maar Dawid wou nie:  “Nee, Arauna,  ek wil jou betaal,  Ek kan mos nie vir die Here ‘n offer bring waarvoor ek nie betaal het nie?  Dan is dit mos nie meer ‘n offer nie?”

Tobias:        Koop hy toe die grond, Tannie?

Tannie:          Ja, Dawid het toe die grond en die beeste gekoop.  Hy het gebid.  Hy het die altaar gebou, die hout opgepak, die beeste geslag en op die hout neergesit.    En, kan julle dit glo, voor hy ‘n vuurtjie aansteek, toe stuur die Here vuur uit die hemel.   Dit het op die altaar geval en die offer aan die brand gesteek.   Toe Dawid dit sien, het hy geweet die Here het sy gebed gehoor.   Die Here het toe vir die engel gesê hy kan nou maar sy swaard terugsit  en teruggaan na sy plek in die hemel. 

Tobias:        O, Dawid  en die mense was seker baie bly!

Tannie:          Ja, ek is seker.   Dawid het toe sommer begin om gereeld offers vir die Here te bring op daardie altaar.   En Tobias, weet jy wat?   Jare, later, toe Salomo die tempel gebou het, het hy dit op daardie dorsvloer van Arauna gebou.

Tobias;        Dis nou wonderlik, fantasties!   God het self die plek vir die tempel uitgekies.  En julle, ons sien hoe genadig God is:  as ons sonde doen en ons vra  die Here om ons te vergewe, dan doen Hy dit.

Tannie:          Ja!  En ons hoef nie eers meer altare te bou of beeste te slag vir offers nie.  Jesus Christus aan die kruis, was die een groot offer wat net eenkeer gebring is.  Nou kan ons na God gaan, vra dat Hy ons vergewe, en ons word vergewe oor Jesus se offer!   

Tobias:        Die beste, fantastiesste nuus in die wêreld!  Maats, gaan vertel vir julle maats van hierdie interessante storie.   Almal moet hoor van ons wonderlike God.  Ons gaan nou eers groet.  Ons kom gou weer!  Totsiens, totsiens!

                                                                                    ***