Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 64: Dawid se dapper manne
Die dapper helde van Dawid se weermag word beskryf in 2 Sameul 20, 23 en 1 Kronieke 11, 12 en 20.
Stories uit Kanaän 64: Dawid se dapper manne (2 Sam 20, 23, 1 Kron 11, 12, 20)
Tobias: Hallo, Tannie? Wat vir ‘n ding is ‘n talent?
Tannie: Hallo, maats en hallo, Tobias! Jy wil weet wat ‘n talent is?
Tobias: Ja, tannie Carin! En het ek ook sulke goed?
Tannie: Tobias, ‘n talent is iets wat jy miskien goed sal kan doen, omdat jy daarmee gebore is. Maar al het ons talente, moet ons nog steeds daai ding oefen om goed te word daarin.
Tobias: Soos wat, Tannie?
Tannie: Soos om te kan sing; goed te wees in sport; goed te kan veg met ‘n swaard.
Tobias: Met ‘n swaard veg? Wie het so ‘n talent?
Tannie: Tobias, maats, ons lees dat daar in Dawid se tyd manne was wat regtig baie goed kon veg met ‘n swaard, of ‘n spies, of ‘n pyl en boog of met ‘n slingervel.
Tobias: Haai, regtig? Vertel bietjie, Tannie?
Tannie: Julle, Dawid was ‘n goeie soldaat, maar ons lees dat hy ook ‘n groep van dertig manne gehad het wat vol talente vir veg was. Miskien was dit nie net dertig nie, maar sommer amper vyftig, as jy almal bymekaar tel. Ons hoor ook van drie manne wat die beste was. Die Here het hulle almal gebruik om Israel te verlos van baie vyande.
Tobias: Nou vertel wat het hulle gedoen?
Tannie: Julle, daar was Joseb-Bassenat wat een keer agt honderd manne in een oorlog gewen het met sy spies. Eleasar het een dag so lank geveg, dat sy hand nie wou oopmaak om die swaard te los nie. Samma het op ‘n ander dag man alleen ‘n land vol lensies beskerm teen die Filistyne.
Tobias: Mensig, hulle was goed!
Tannie: Tobias, daar was ‘n dag wat Dawid en sy soldate vasgekeer was deur die Filistyne. Dawid raak toe so dors dat hy sê: “Ag, as iemand tog vir my ‘n ou bietjie water kan bring uit die put in Betlehem.” Drie van sy dapper helde het skelmpies vir mekaar gesê: “Julle, kom ons kyk of ons deur hierdie Filistynse kamp kom en dan gaan haal ons daai water.” Voor jy kan sê, “mes”, is hulle toe weg. Hulle het baie versigtig, maar vinnig deur die Filistyne se kamp geglip: rondom hierdie tent, agter om daai rots, onderdeur bossies. Hulle gaan skep toe vinnig water uit die put. Toe glip hulle weer verby tente en bossies en rotse tot by Dawid. Dawid was verstom: “Wat? Julle, ek kan nie hierdie water drink nie. Hoe kan ek dit drink as my manne hulle lewe gewaag het daarvoor? Ek gaan dit as ‘n offer vir die Here uitgooi.”
Tobias: Sjoe! Hulle was so dapper! En toe drink Dawid nie eers die water nie?
Tannie: Ja! Julle, daar was ook Benaja wat op ‘n koue sneeu-dag afgeklim het in ‘n put. Maar die afklim in die put was nie eintlik die ding nie: hy het ‘n leeu daaronder in die put gaan doodmaak! Hy het ook eenkeer ‘n Egiptenaar wat twee en ‘n kwart meter lank was, aangevat. Die Egiptenaar het ‘n groot dik spies gehad en Benaja net ‘n stok. Toe wen hy sowaar die Egiptenaar. Daar was ook ‘n Filistyn met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet. Hy was groot en sterk, maar een van Dawid se helde het hom ook gewen.
Tobias: Tannie? Regtig?
Tannie: Tobias, op ‘n keer het Israel teen die Filistyne geveg. Miskien was Dawid toe al oud. Een van die Filistyne het gedink: “Vandag maak ek hierdie koninkie sommer maklik dood!” Maar een van Dawid se dapper manne het hom gehelp teen die Filistyn. Toe het die soldate gesê: “Koning Dawid, jy moenie nou meer saam met ons kom veg nie. Ons is te bang iemand maak jou dood.”
Tobias: Klink of hierdie manne regtig baie veg-talente gehad het!
Tannie: Ja,Tobias. Dawid het hierdie manne nodig gehad om ‘n sterk koning te kon word. Hy kon dit nie alleen doen nie. Hy het ook manne gehad wat so baie geoefen het, dat hulle ewe goed met hulle regterhand en met hulle linkerhand kon pyl en boog skiet of die slingervel gooi. Die Bybel vertel ons van manne uit Gad wat elkeen ‘n groot skild en spies gehad het. Die vyand was vir hulle so bang soos vir leeus! Hulle kon ook so vinnig soos wildsbokke hardloop. Die kleinste onder hulle, kon teen honderd manne veg en wen. Die groot ouens onder hulle, kon alleen teen duisend manne staan en hulle wen!
Tobias: Aarde, Tannie: manne met talent wat ook hard geoefen het om goed te kan word. Ek dink nie ek het daai talent nie. My armpies is te pap!
Tannie: (lag) Tobias, jy hoef nie te veg nie. Jy het weer ‘n talent in storievertel of kan mense laat lag.
Tobias: Is dit ook ‘n talent?
Tannie: Natuurlik is dit! Maar net soos daai manne, moet jy ook oefen om beter en beter te word. Tobias, die belangrikste is: ons moet ons talente vir die Here gebruik. Hy het dit vir ons gegee dat mense kan sien hoe wonderlik is Hy.
Tobias: O! En dis hoekom ons moet oefen om nog beter te word, want dan kan mense sommer nog beter sien hoe wonderlik ons God is!
Tannie: Net so, Tobias! Maats, dalk dink een van julle dat julle eerder ‘n talent vir sport of sing wou gehad het, maar nou het julle nie? Julle sal wel later sien watter talent het God vir julle gegee. Gebruik dit dan dat mense kan sien hoe fantasties ons God is! Julle, ons moet ongelukkig nou groet! Mooi loop! Oefen hard aan julle talente! Ons kom gou weer! Totsiens!
***