Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 66: Dawid se laaste toespraak

Carin Conradie Season 5 Episode 66

Hierdie is die laaste storie rondom Dawid wat ons lees in 2 Sameul 23, 1 Konings 2 en 1 Kronieke 28 en 29.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 66:  Dawid se laaste toespraak     (2 Sam 23,  1 Kon 2,  1 Kron 28,  29)

 

Tobias:        (gaap)   Hallo, julle!  (gaap)

Tannie:          O aarde, hallo Tobias!  Dit lyk of jy baie vaak is!  Gaan jy vandag kan wakker bly vir ons storie? 

Tobias:        Tannie, waaroor gaan ons storie?

Tannie:          Dit gaan oor Dawid se laaste toespraak.

Tobias:        Regtig? Tannie?  Ek weet hoekom noem julle grootmense dit “toesprake”!  Want ons kinders se ogies val sommer toe as julle begin praat!

Tannie:          (lag ) O, jou ogies val sommer toe?  (lag)  Wel, kom ons kyk of koning Dawid se toespraak jou kan wakker hou!

Tobias:        Goed! (lag) 

Tannie:          Tobias, Dawid het begin met ‘n lied of dalk was dit‘n gedig.

Tobias:        O ne?  Laat ons ‘n stukkie hoor?

Tannie:          Dawid het gesê:  “Dis Dawid wat praat.  Die gesalfde van God.  Die Gees van God het deur my gepraat in liedere en gedigte.  God: wat regverdig oor almal regeer.  Hy wat skitter soos die oggendlig na die reën.  Hy het my veertig jaar laat koning  bly.  Al my hulp en al  my vreugde kom van Hom af.”  En Tobias, net voor jy aan die slaap raak, sê hy toe:  “Salomo!”

Tobias:        O!  Nou het Tannie my laat skrik!  (lag)  Wat sê hy toe vir Salomo?

Tannie:          Dawid het gesê:  “Salomo, ek gaan doodgaan.  Daarom moet jy nou sterk wees.  Volg die Here en doen alles wat Hy vra.  Dan sal dit baie goed gaan met jou en die hele Israel.  Daar is mense wat lelik was met my.  Jy moet maar besluit wat jy met hulle wil doen.   Daar is ook ander mense wat goed was vir my.  Kyk tog mooi na hulle.   As jy vir God vra wat om te doen, sal Hy jou sê.  Maar moenie Hom vergeet nie, dan gaan Hy  jou ook vergeet.”  En net voor Salomo en Tobias en die maats se ogies wou toeval, sê Dawid:  “Salomo, al julle leiers van die volk, kom, ek wil julle iets wys.”

Tobias:        Iets wys?  Wat wou hy vir hulle wys, tannie Carin?

Tannie:          Dawid het vir hulle yster gewys.  En silwer en brons en goud!  Sommer baie!

Tobias:         Toe is almal seker heeltemal wakker!  Maar waarvoor was dit, Tannie?

Tannie:          Julle, Dawid wou mos graag vir God ‘n tempel bou, maar God het gesê:  “Nee, Dawid.  Jy het te veel oorlog gemaak.  Jou hande is vol bloed.  Jou seun Salomo gaan vir my ‘n tempel bou.”

Tobias:        Aarde, Tannie?  Maar dis mos ‘n groot werk?  Hoe moes Salomo weet hoe om dit te doen?

Tannie:          Tobias, maats, God het  presies vir Dawid gewys hoe die tempel moet lyk.  Toe skryf Dawid gou alles neer, voor hy vergeet.   Dit klink ook of hy ‘n klein tempeltjie gebou het wat sommer so op’n tafel kan staan.  Ons noem dit mos ‘n model.   Die klein tempeltjie het gewys hoe groot die tempel moet wees; hoeveel kamers daar moes wees; hoeveel lampe van goud en hoeveel lampe van silwer; hoeveel skottels en vurke en kanne en sommer alles wat nodig was.

Tobias:        Haai, ek wens ek kon dit sien!  Hoe het hulle geweet hoeveel goud en blinkgoed Salomo nodig gaan hê?  En wie sou die bouwerk doen?

Tannie:          Julle, God het ook dit vir Dawid gewys.  Toe kon hy presies vir Salomo sê hoeveel goud en silwer nodig gaan wees.  Daar was ook vakmanne wat geoefen was om bouwerk te doen.  Hulle kon vir Salomo help.

Tobias:        Was die klomp blinkgoed wat Dawid vir Salomo en die volk gewys het, genoeg?

Tannie:          Nee, Tobias.  Dawid het vir hulle gesê:  “Julle, hier is al die goud en marmer en edelstene wat ek solank bymekaar gemaak het.  Ek het ook nog ‘n klomp goud uit Ofir en suiwer silwer in my eie kas.  Ek gaan dit ook gee.  Maar nou wil ek hoor:  julle Israeliete:  wie gaan nog hulle hand oopmaak en geskenke vir die Here bring?”

Tobias:        Huh?  Nog?  Bring die mense toe nog blinkgoed?

Tannie:          Ja, Tobias.  Hulle het klomp goud, silwer, brons, yster en edelstene gebring.    O, Dawid was so bly.  Hy het opgestaan en sommer weer begin sing:  “O, Here, U is so fantasties!  U is die beste!  Ek loof U vir al die mooi goed wat die volk gebring het vir u tempel.  Here, help my seun en die volk om U vir altyd te dien.”  Almal het toe  voor die Here gebuig en gesê: “Prys nou die Here julle God”.   En Tobias, voor Dawid die dag toe wel gesterf het, het die volk ‘n groot partytjie gehou.  Hulle het offers gebring en lekker geëet en gedrink en gesing!  Toe kroon hulle sommer weer vir Salomo as hulle koning en vir Sadok as hulle priester.  Dit was een groot vrolikheid!

                        Tobias, het jou ogies toe toegeval in die toespraak?

Tobias:        Nee! (lag) Toe Tannie so vertel, toe sien ek in my verbeelding al die mooi goed en die model tempeltjie en al die mense wat eet en drink en sing en spring!  Ai, ek is so bly hulle was daai dag so opgewonde oor die Here.

Tannie:          En julle, ons kan nog meer opgewonde wees oor die Here.  Want, omdat Jesus na die aarde gekom het, kan almal wat God kies eendag in die hemel God se regte groot troon sien.

Tobias:        Tannie, en ek dink dis nog baie mooier en groter as daai tempel wat Salomo toe gebou het.  Fantasties, wonderlik!  

Maats, ons moet nou groet, maar gaan sing sommer nou vir God ‘n vrolike lied, want Hy is groot en Hy kom weer!  Totsiens, almal!   Lekker sing! 

 

                                                                                     ***