Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 67: Salomo vra wysheid
Ons begin vertel nou van koning Salomo. In hierdie storie begin vestig hy sy koningskap en haal 'n paar ou vyande van sy pa uit.
Stories uit Kanaän 67: Salomo vra wysheid (1 Konings 2, 3 en 2 Kronieke 1, 4)
Tobias: Slim, slimmerderder, slimmestes! Nee! Slim, slimmery.... Tannie Carin, help!
Tannie: Hallo, Tobias. Bedoel jy: slim, slimmer, slimste?
Tobias: Dankie! Tannie, wie was die slimste mens op aarde?
Tannie: Mmm, daar was al baie, maar as ons die Bybel lees, lyk dit of Salomo definitief die slimste man op aarde was!
Tobias: O, Salomo! Hoe het hy so slim geword?
Tannie: Tobias, maats, Salomo het koning geword na sy pa, Dawid, oorlede is. Hy het onthou dat sy pa gesê het daar was mense wat lelik was met hom. Salomo moes maar besluit wat om met hulle te doen. Gou na hy koning geword het, het Adonia, sy halfbroer, wat eintlik wou koning wees, deur Salomo se ma, Batseba, kom vra of hy met Abisag kon trou. Abisag was die meisie wat vir Dawid gesorg en warm gehou het. Salomo het dadelik besef dat Adonia eintlik wou koning word en dat hy hom dadelik moes doodmaak. Daardie selfde tyd het hy die priester Abjatar afgedank. Dan was daar ook die hoof van die leër, Joab. Hy het voorheen twee mense doodgemaak wat hom gepla het. Nou het Salomo hom daarvoor gestraf. Julle sal ook die naam van Simei onthou wat eenkeer vir Dawid gevloek en met klippe gegooi het. Salomo het vir Simei gesê hy sal bly leef solank hy in Jerusalem bly, maar hy het toe nie. Toe straf Salomo hom ook.
Tobias: Aarde tog, Tannie! Daai konings het snaakse gewoontes gehad!
Tannie: Ja! Tobias, miskien het al die goed vir Salomo laat besef dat hy nie oud of slim genoeg is om hierdie Israeliete se koning te wees nie. Daarom besluit hy toe om vir die Here offers te gaan bring. Die ark van God het daai tyd in ‘n tent in Jerusalem gestaan. Die tabernakel self was nog in Gibeon. Die Israeliete het ook nie by die ark offers gebring nie, maar op heuwels en ander hoë plekke. Salomo het besluit om offers in Gibeon te gaan bring. Hy het baie mense saamgenooi. Daar was hoofmanne en leiers en regters en al wat ‘n belangrike mens is. En toe bring hulle offers: nie een nie. Nie tien nie. Nie honderd nie. Nee! Duisend brandoffers!
Tobias: Sjoe, Tannie? Duisend brandoffers? Dit moes die hele dag gevat het!
Tannie: Dit het seker. Daai aand toe Salomo moeg in sy bed klim, het iets wonderliks gebeur! God het aan hom in ‘n droom verskyn!
Tobias: Fantasties! Wat het God vir hom gesê?
Tannie: God het gevra: “Salomo, wat wil jy hê? Wat moet ek vir jou gee?” Ek is nie seker hoe lank Salomo gedink het nie, maar hy antwoord toe: “Here, ek weet nie hoe om hierdie groot volk van u reg te regeer nie. Kan ek asseblief slim en wys genoeg word om dit te kan doen? Ek wil graag weet hoe om reg te dink en ek wil dinge verstaan.”
Tobias: En wat antwoord God toe?
Tannie: God sê toe: “Salomo, ek is bly jy het nie gevra om lank koning te bly nie. Of om baie ryk te wees nie. Jy het ook nie gevra dat Ek al jou vyande moet doodmaak nie. Daarom gaan Ek jou gee wat jy vra. Jy gaan baie slim en wys wees: slimmer as enige een voor jou of na jou. Ja, en Ek sal jou ook nog gee wat jy nie gevra het nie: jy sal ryk wees. Jy sal een van die belangrikste konings wees wat ooit sal lewe.”
Tobias: Regtig? Dis wonderlik!
Tannie: Julle, God het ook gesê: “As jy na my wet luister en doen wat reg is, dan sal Ek jou ook baie lank laat lewe. Jy sal lank regeer en oud word.”
Tobias: Mensig! Wat sê Salomo toe?
Tannie: Toe Salomo wakker word, het hy besef: “Die Here het vir my ‘n droom gestuur!” Hy opgestaan en teruggegaan na Jerusalem toe. Toe gaan hy na die plek waar die ark van God gestaan het. Hulle bring toe sommer nog ‘n klomp brandoffers en maaltydoffers. Salomo het een hengse groot partytjie gehou vir al die mense wat vir hom gewerk het.
Tobias: O, dit klink jolig en lekker! Tannie, maar het God gedoen wat Hy vir Salomo daai nag in die droom gesê het?
Tannie: Tobias, God doen altyd wat Hy belowe. Of Salomo lank koning gebly het, sal ons later hoor. Maar God het vir Salomo baie slim gemaak. Hy het baie dinge verstaan wat ander mense glad nie verstaan nie – so baie dinge soos die sand van die see. Hy was die slimste in die weste en in die ooste. Al die ander nasies het gehoor van die slim koning. Hulle het vir hom kom kuier, want hulle wou hoor hoe klink so ‘n wyse man. Hy het ook baie geskryf. Ons het drie boeke van hom in die Bybel: Spreuke, Prediker en Hooglied. Maar hy het baie meer as dit geskryf: hy het ook duisend en vyf liedere geskryf. Dan het hy ook baie gedigte geskryf oor alle soorte plante en allerhande diere.
Tobias: Haai, Tannie, dis wonderlik! Ek is so bly ons weet wat die heel slimste man op aarde neergeskryf het. En hy het dit alles van God af gekry. Maar, dan is God die heel slimste, want Hy het dit vir Salomo gegee!
Tannie: Jy is reg, Tobias! Dis nou ‘n fantastiese manier om vandag se storie af te sluit: ons het spreuke van die slimste man wat dit by ons slimste, slimste God gekry het. Maats, sjoe! Ons wil sommer net aanmekaar vir God dankie, dankie sê! Gaan sê julle ook sommer nou dankie! Ons gaan nou groet, maar ons kom gou weer met nog ‘n storie van Salomo! Mooi loop! Totsiens, almal!
***