Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 68: Salomo gee raad oor 'n baba
In 1 Konings 3 lees ons 'n storie wat wys hoe Salomo wysheid van God gekry het.
Stories uit Kanaän 68: Salomo gee raad oor ‘n baba (1 Konings 3)
(baba huil)
Tobias: Haai! Wat is dit? Is dit ‘n babatjie wat huil?
Tannie: Hallo, julle almal! Tobias, dit klink vir my hier loop iemand verby ons huis met ‘n baba.
Tobias: Ag, babatjies is so oulik! Hulle het sulke sagte wangetjies! Kan ons asseblief vandag ‘n storie hoor oor ‘n babatjie?
Tannie: Mmm, hoekom nie? Daar is ‘n oulike storie van Salomo en ‘n baba.
Tobias: Die slimme koning Salomo? O, lekker! Vertel, vertel!
Tannie: Tobias, maats, julle onthou dat ons laas vertel het dat God vir Salomo wysheid gegee het. Die mense het gesien hy het wysheid van God. So, as hulle met mekaar gestry het en hulle weet nie wat of wie is reg nie, dan het hulle na Salomo toe gekom. Hy het hulle gehelp om te weet wat is reg.
Eendag het daar twee mammas na hom toe gekom. Hulle het nie mans gehad nie. Hulle het daar by Salomo aangekom met baie kwaai gesigte en een baba op een mamma se arm. Koning Salomo het die drietjies so bekyk en gevra: “Hoe kan ek julle twee vandag help?” Een vrou begin toe vertel: “Koning Salomo, ek en die vrou bly in een huis. Net ons twee. En toe kry ek ‘n baba seuntjie. Sy was by toe hy gebore is. Drie dae later, toe kry sy ook ‘n baba seuntjie. Dit het alles goed gegaan. Maar, toe een nag, toe het sy te vas geslaap. Toe, toe lê sy haar baba dood. Sy word toe wakker. En weet Koning wat doen sy? Terwyl ek slaap, vat sy my baba vir haar en lê haar baba langs my neer. Toe ek die volgende oggend wakker word, wou ek my baba melk gee. En toe sien ek hy is dood! Maar toe dit lig word en ek kyk mooi, toe sien ek, nee, maar dis nie my kind die nie. Toe weet ek wat sy gedoen het!” Julle, maar daar begin die ander vrou toe praat: “Nee Koning, die een wat lewe is myne! Die seuntjie wat dood is is haar kind!” Die ander vrou sê toe: “Dis jou seuntjie wat dood is! Die een wat lewe is myne.” En daar begin hulle vreeslik stry daar voor die koning: “Hy is myne!” “Nee, hy is myne!” “Is nie!” “Is so.” “Nee, is nie.” “Ja, dit is.” “Is nie”. “Is”.
Tobias: Dis vreeslik! Toe staan en stry hulle daar voor die koning? Hoe moes die koning nou geweet het wie se kind is dit? Dis ‘n baie moeilike een! Tannie? Wat was Salomo se antwoord?
Tannie: Dalk het die koning hulle twee toe stil gemaak. Hy het by homself gedink: “Die een vrou sê die baba wat lewe is myne en joune is dood. Die ander een sê die een wat dood is joune en die een wat lewe is myne. Mmm...” En toe gee Salomo ‘n bevel: “Bring vir my ‘n swaard.” Een van sy mense gaan haal toe gou ‘n swaard. Die twee mammas het met groot oë gestaan en wag. Hulle het seker gewonder wat gaan nou aan.
Tobias: Tannie, wat wou Salomo met ‘n swaard maak?
Tannie: Julle, Salomo gee toe nog ‘n bevel: “Vat daai lewende kind. Sny hom in twee. Gee vir elk vrou ‘n stuk.”
Tobias: Tannie! Nee! Watse soort raad is dit?
Tannie: Tobias, Salomo het wysheid van God gekry vir die probleem. Luister wat gebeur toe verder. Toe Salomo die lelike ding sê, toe roep die een mamma dadelik: “Asseblief, U Majesteit! Moenie dit doen nie! Gee die kind wat lewe liewer dan vir hierdie vrou. Asseblief! Moet hom net nie doodmaak nie!” Sy kon nie dink dat so ‘n verskriklike ding met haar seuntjie moes gebeur nie. Maar die ander vrou sê toe: “Koning, as ek hom nie kan kry nie, kan sy hom ook nie kry nie. Sny hom deur!”
Tobias: Tannie! En toe?
Tannie: Julle, toe die twee vrouens nou so praat, toe weet Salomo wie is die regte mamma: “Moenie die kind doodmaak nie. Ek weet nou wie is die regte mamma. Dis die een wat gesê het hy moet bly lewe. Dit is die regte mamma. Gee die kind vir haar.”
Tobias: Regtig? Fantasties!
Tannie: Julle, hierdie storie het deur die hele Israel geloop. Hulle het toe sommer baie van Salomo begin dink. Almal het besef dat net God vir ‘n mens sulke wysheid kan gee.
Tobias: Ag, maar ek is so bly dat die regte mamma die baba kon kry. Dis ‘n pragtige storie!
Tannie, kan ons ook wysheid van God vra?
Tannie: Ja! Dis so wonderlik! Kinders van God wat lewe nadat Jesus op aarde was, het die Heilige Gees in ons. In die boek Jakobus staan geskrywe dat ons enige tyd vir God wysheid kan vra. Hy sal dit gee, want Hy gee baie graag.
Tobias: Regtig? Maats, dit is mos wonderlike nuus! Ons sien in vandag se storie hoe God wysheid gee. En ons mag ook wysheid vra! O, ons God is die beste en die grootste!
Tannie, lyk my dit is al weer groettyd, maar dis reg so, want ek moet vir my maatjie hierdie storie gaan vertel. Hy gaan baie daarvan hou! Maats, gaan julle ook die storie vir iemand vertel? Mooi bly! Ons wil sommer gou weer kom! Totsiens, almal!
Tannie: Totsiens, julle, tot volgende keer! Totsiens!
***