Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 69: Salomo maak reg om 'n tempel te bou

Carin Conradie Season 5 Episode 69

Salomo het nou begin om alles reg te kry om die eerste tempel te bou.  Ons lees dit in 1 Konings 4 en 5 en ook in 2 Kronieke 2.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 69: Salomo maak reg om ‘n tempel te bou  (1 Kon 4, 5 en 2 Kron 2)

 

(toeter van voertuig)

Tobias:        Hallo, tannie Carin?  Wie toet so by ons hek?

Tannie:          Hallo, almal!  Nee, Tobias, ek dink dis die koeriers wat iets kom aflaai by ons bure.  Dalk het hulle iets aanlyn gekoop.

Tobias:        Aarde, Tannie!  Julle grootmense koop darem maklik deesdae!  Julle het lekker winkels en dan bestel  julle sommer allerhande goeters op julle selfone en iemand kom laai dit by die huis af.  Maar, Tannie, wat het die mense in die Bybel se tyd gedoen?  Het hulle groot winkels gehad?

Tannie:          Sjoe!  Dis nou vir jou ‘n interessante vraag!  Hulle het definitief nie selfone en aanlynwinkels gehad nie.  Daar was ander maniere hoe hulle gekoop en verkoop het.  Kom ek vertel julle bietjie van koop in koning Salomo se tyd.

Tobias:        O, lekker!  Laat ons hoor!

Tannie:          Julle moet weet dat Salomo regtig baie ryk was.  Hy het baie mense gehad wat vir hom gewerk het.  In sy stalle was twee en vyftig duisend perde.  Behalwe vir alles wat hy gehad het, is die Israeliete in twaalf groepe opgedeel om elke maand kos te stuur vir Salomo se huis, werksmense en diere.  Dit was baie kos!   As ek alles bymekaar tel, was een dag se kos dertig beeste, honderd skape, dan nog wildsbokke, hoenders en vyftien ton meel.  

Tobias:        Mensig!  Hy was ‘n ryk koning!  En die ander Israeliete, Tannie?

Tannie:          Tobias, Salomo het oor ‘n baie groot gebied geregeer.  Daar was vrede in sy tyd.  Hy het nie oorlog gemaak nie.  Al die baie mense in Israel en Juda was veilig en gelukkig.  Hulle het genoeg gehad om te eet.  Elke gesin het hulle eie wingerdstok gehad.  Elkeen het ook sy eie vyeboom gehad waaronder hy kon sit.  Daarom het Salomo besluit dit was nou ‘n goeie tyd om te begin om die Here se tempel te bou.  Hy wou ook vir homself ‘n paleis bou.

Tobias:        Tannie, nou waar het hy sy hout en bougoed gekoop as hulle nie aanlynwinkels of groot bouwinkels gehad het nie?  

Tannie:          Tobias, onthou God het mos vir Salomo baie wysheid gegee.  Hy het geweet dat daar aan die noordweste kant, net bo Israel, ‘n koning gebly het.  Sy naam was Hiram van die land Tirus.  Salomo se pa Dawid, was vriende met Hiram.  Salomo het vir hom ‘n brief geskryf.  Dit was amper soos om ‘n bestelling te plaas aanlyn.  Hy het geskryf:  “Koning Hiram, u weet dat my pa ‘n tempel vir ons God wou bou, maar toe sê God ek gaan dit bou.  In die tempel wil ons elke dag vir ons God offers bring.  Ek wil ‘n baie mooi groot indrukwekkende tempel bou.  Want Koning, weet u hoe groot is ons God?  Hy is die grootste van almal!  Eintlik is die hemel te klein vir Hom, en nou wil ek glad vir Hom ‘n aardse huisie bou?  Maar ek wil dit tog doen.  Koning, ek wil baie hout hê daar uit jou Libanonbos:  sederhout, sipreshout en jenewerhout.  Dan soek ek asseblief ook iemand wat kan werk met goud, silwer, brons, yster en wolstowwe.  Ek het ouens wat kan help, maar ek soek iemand wat weet wat hy doen, wat kan voorvat.  Dan sal ek julle betaal met kos:  vyfduisend negehonderd en veertig ton graan, vierhonderd en veertig dromme olie en vierhonderd en veertig dromme wyn.”

Tobias:        Tannie?  Dis ‘n klomp kos?  Wat sê koning Hiram toe?

Tannie:          Julle, koning Hiram skryf toe terug:  “ Salomo, die Here is goed vir Israel om so ‘n slim koning vir hulle te gee!  Nee, dis reg!  Ek het u bestelling gekry.  My werkers sal die hout regkry; dit in bondels bind en met die see laat afdryf tot by Joppe.  U werkers kan dit dan daar kry en na Jerusalem toe vat.  Ek stuur ook vir jou my beste vakman, Hiram.  Hy kan enige ding maak, net wat u vra.”

Tobias:        Dit was nou slim besig.. besig... hoe sê mens, Tannie?

Tannie:          Jy bedoel “slim besigheid”, Tobias?

Tobias:           Ja, “slim besigheid”.  Tannie, maar wie sou die werk doen?  

Tannie:          Daar het Salomo net so ‘n slim plan gemaak.  Hy het dertigduisend Israeliete gedwing om te gaan houtkap in Libanon.  Tienduisend het op ‘n slag gegaan vir een maand lank.  Dan kom hulle vir twee maande huis toe en ‘n ander groep van tienduisend gaan weer. 

Tobias:        Slim!   En moes iemand stene maak?

Tannie:          Nee, Tobias, hulle het nie stene gemaak om die tempel te bou nie.  Daarvoor  het goeie klippe gekap in die berge.   Salomo het uitgevind hoeveel mense in Israel woon wat nie Israeliete was nie.  Hy het tagtig duisend van hulle gestuur om klip te kap.  Sewentig duisend moes die klippe dra tot in Jerusalem.  Daar was ook manne wat moes kyk dat hulle goeie werk doen.

Tobias:        Tannie!  Dit klink of daar baie klippe en baie hout nodig was vir die tempel!  Gaan Tannie ons vertel van die bouery?

Tannie:          Tobias, ek dink ons vertel volgende keer die storie oor hoe hulle toe die tempel begin bou het.  

Tobias:        So, vandag se storietyd is nou al weer om?  Ai!  Toemaar, ek en my maatjie gaan sommer speel-speel ons is slim Salomo!  Dit kan pret wees!  Tannie, ek is darem bly al die stories is opgeskryf in ons Bybel!  Die stories laat my  elke week besef hoe wonderlik groot ons God is!  Hy maak slim planne en gebruik mense daarvoor!  Dit wil my sommer laat sing en spring!  Maats, ons groet julle dan vir vandag!  Kom gou weer vir ons volgende storie!  Lekker speel!  Totsiens, almal!

                                                                                                ***