Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 70: Salomo bou die tempel

Carin Conradie Season 5 Episode 70

Ons kry 'n baie mooi beskrywing van hoe die tempel gelyk het in 1 Konings 6-8 en 2 Kronieke 3 - 7.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 70:  Salomo bou die tempel      (1 Konings 6-8;  2 Kronieke 3-7)

 

(Geluid van bouery)

Tobias:        Mensig, maar die bouers hier langs ons raas darem hard!  

Tannie:          Hallo, julle almal!  Ja, ek moet sê:  die bouers raas nogal!

Tobias:        Tannie Carin, ek onthou mos nou:  Tannie het belowe om ons te vertel van  

Salomo se tempel-bouery!  Ek wonder of daai bouers ook so geraas het?

Tannie:          Tobias, interessant dat jy dit vra!  Maar kom ons begin by die begin!    Salomo was nou vier jaar lank koning en het begin om die tempel te bou.   Die Bybel vertel nogal haarfyn hoe alles gelyk het.  Die hele gebou was van sterk klip gemaak.  Tobias, en ja, die klippe is die berge klaar gekap en gesaag.  Daar waar die tempel gebou is, kon mens geen ystergereedskap se geluid hoor nie!  

Tobias:        Interessant!  Hulle moes baie mooi beplan!  Tannie, waar het Salomo die tempel gebou?

Tannie:          Julle, die tempel is gebou op Moriaberg, die plek waar Dawid jare terug die engel van God gesien het.   Die tempel was groot:  dertig meter lank en tien meter breed.   Rondom die tempel was daar ook nog ‘n platform met drie verdiepings en ‘n tempel muur.  

Tobias:        Klink nogal groot.  En alles was van klip?

Tannie:          Tobias, ja, alles was van klip, maar aan die binnekant is al die klip met hout toegemaak.  In die hout het Hiram van Tirus, allerhande mooi patrone uitgekerf, soos kalbasse, gerubs, palms en blomknoppe.  Die vloer en dak was ook van hout.  Die plek is met kosbare edelstene versier.   Daar was ook ‘n aparte Allerheiligste deel.  Dit was waar die ark van God later ingesit is.  

Tobias:         En hoe het die Allerheiligste gelyk?

Tannie:          Al die klip daarbinne was ook met hout toegemaak, maar toe het Hiram ook nog die hele plek met goud oorgetrek: die dak, die mure en die vloer!    Daar was ook twee gerubs van hout.  ‘n Gerub is soos ‘n engel met oop vlerke.  Hierdie gerubs was ook met goud oorgetrek.  Hulle vlerke was so groot dat dit  saam oor die hele breedte van die vertrek gestrek het.   Daar was ook pragtige deure met mooi patrone.    Bo-oor is goud gesit, maar  mens kon nog steeds al die mooi patrone sien.  Voor die Allerheiligste was ‘n dik wolgordyn.   Dit is die voorhangsel genoem.

Tobias:        Mensig!   Al die goud en patrone!  Wat was nog in die tempel, Tannie?

Tannie:          Daar was ook tien brons bakke vir water om die offers te was.  Elkeen het sy eie brons waentjie gehad.   Allerhande mooi patrone soos granate, perde en leeus is rondom gemaak.   Een groot brons waskom was vir die priesters om in te was.  Die groot waskom se voetstuk het gelyk soos twaalf beeste. Daar is so baie brons gebruik dat hulle dit nie kon weeg nie.  

Tobias:        Aarde, Tannie!  My kop draai nou al!

Tannie:          En Tobias, daar was twee baie groot pilare van brons voor die tempel.  Die bo-kant was pragtig versier.  En o ja, daar was tafels en kandelare en ‘n altaar van goud.    Die deure se skarniere en al die vurke en komme en bakke en skêre  en vuurpanne was ook van goud!.

Tobias:         Sjoe!  Hulle het hard gewerk!

Tannie:          Dit het hulle sewe jaar gevat om die tempel klaar te bou.  Salomo het ook vir homself en vir een van sy vrouens uit Egipte, ‘n paleis laat bou.  Dit het dertien jaar gevat.  Daar was ook ‘n plek soos ‘n troonkamer wat die hofsaal was. 

Tobias:        Mensig!  Dit was seker ‘n groot plek!  Maar ek wil nog weet van die tempel. 

Tannie:          Tobias, toe hulle klaar was, het Salomo klomp goud en goed wat sy pa Dawid bymekaar gemaak het, in die stoorkamers van die tempel gesit.   Die Leviete het toe die ark van God met die twee klippe waarop die Wet geskryf was, gaan haal en ingebring in die  Allerheiligste.  Daai dag is die hele Israel genooi om te kom.  Hulle het so baie offers gebring, dat niemand dit kon tel nie.  Die Leviete het mooi musiek gespeel en gesing:  “ God is goed; aan sy liefde is daar geen einde nie!”  En Tobias, toe hulle die ark so neersit in die Allerheiligste en uitloop, toe het ‘n wolk ingekom en die hele tempel toegemaak.  Dit was die Here wat gewys het hoe groot en wonderlik Hy is.  

Tobias:        O, ek wens ek kon dit sien!   En wat sê Salomo toe van dit alles?

Tannie:          Julle, terwyl hulle nog besig was om die tempel te bou, het die Here met hom gepraat en gevra hy moet alles doen wat God vra.  Dan sal God mooi na Israel kyk.  Die dag toe die tempel ingewy is, het Salomo voor die tempel gaan staan en ‘n toespraak gemaak. Hy het toe gekniel en gebid tot die Here en gevra Hy moet tog goed wees vir die volk.  Daarna het hy die volk geseën: “Mag Hy ons gewillig maak om altyd te doen wat Hy vra.”  Toe het hulle weer ‘n klomp maaltydoffers gebring.  Die Here het vuur gestuur van die hemel af wat die offers aan die brand gesteek het.  Die wolk was toe weer die hele tempel vol.  Die mense was so bly!  Hulle het feesgevier: vir veertien dae aaneen.  Daarna is almal huistoe; baie gelukkig en tevrede omdat die Here so goed was vir Dawid en die hele volk.

Tobias:        Wonderlik, fantasties!  Dis darem nou ‘n mooi einde vir ons storie van vandag!  Dankie, Tannie!   Maats, ons moet nou groet, maar ek wil ook nou sommer gaan feesvier en sing en spring oor ons wonderlike God!   Mooi loop!  Ons kom gou weer!  Totsiens!

                                                                                                ***