Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 72: Salomo se groot rykdom

Carin Conradie Season 5 Episode 72

Ons lees in 1 Konings 9-11 en 2 Kronieke 8-9 baie interessante dinge oor Salomo se rykdom.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 72:  Salomo se groot rykdom   (1 Konings 9-11  en 2 Kronieke 8-9)

 

Tobias:        Twee, plus vyf is… sewe, plus nog tien is… mmm. sewentien rand!

Tannie:          Hallo, Tobias!  Tel jy vandag geld?

Tobias:        Ja, tannie Carin, hallo!  En hallo, maats!  Ek tel my spaargeld, want ek wil vir iemand ‘n geskenkie koop!   Tannie, maar het die Bybel se mense ook sulke rande en sente soos ons gehad?

Tannie:          Nee, Tobias, hulle geld het anders gelyk.  Daar was ook ‘n tyd wat mense met goud en silwer betaal het.  

Tobias:        O!  Tannie, was die Bybel se mense so ryk soos ons tyd se ryk mense?

Tannie:          Ja, daar was ryk mense in die Bybel.  Maar daar was een man, wat baie, baie ryker was as die heel rykste mens in ons tyd.  Kan jy raai?

Tobias:        Salomo, Tannie?  Regtig?  Ryker as ons rykste mens?

Tannie:          Tobias, die maats kan bietjie vir hulle ouers vra wie is vandag die rykste mens op aarde.  En steeds, was Salomo baie ryker as hy.  Vandag se ryk mense se geld is biljoene Amerikaanse dollars, maar dit klink of Salomo s’n triljoene was.   Ons het mos vertel dat Salomo by koning Hiram van Tirus baie hout en goud gekoop het.  Nadat die twintig jaar verby was wat hy die bouwerke gedoen het, het hy twintig stede as geskenk vir Hiram gegee.  Maar Hiram het gedink die stede is niks werd nie.  Hy was bietjie terleurgesteld.   Tog klink dit darem nie of hy kwaad was nie.   Hy het vir Salomo gehelp om klomp skepe en seemanne in die hande te kry.  Salomo het ook nog skepe gebou.  

Tobias:        Hoekom wou hy skepe gehad het?

Tannie:          Die skepe het na Ofir gevaar.  Ons weet nie presies waar dit was nie.  Hulle het goed verkoop en gekoop.  Ons lees dat die skepe elke drie jaar teruggekom het.  Dan het hulle kom wys wat het hulle alles vir Salomo gebring.

Tobias:        Wat?  Wat het hulle gebring?

Tannie:          Julle, hulle het goud gebring en pragtige hout;  ook silwer, ivoor, ape en poue!

Tobias:        Ape en poue?    (lag)  Hoeveel goud, Tannie?

Tannie:          Salomo het elke jaar drie en twintig ton goud gekry het.  Behalwe vir die skepe wat goed gekoop en verkoop het, het hy ook nog geskenke van ander konings af gekry.   Die konings wou graag hoor hoe wys die Salomo was.  Hulle het kom kuier en het wonderlike geskenke saamgebring:  goue goed, silwer goed, mantels, wapens, kruie, perde en muile.  

Tobias:        Tannie, wat het Salomo gedoen met al die rykdom?

Tannie:          Wel, hy het dit gebruik om nog ryker te word.  Verder het hy ook baie gebou: die muur van Jerusalem; ‘n terras en ses stede wat verwoes was.  Dit klink ook of  hy  stede gebou het waarin hy al sy rykdom gebêre het.

Tobias:        Sjoe!  Sou iemand nie sy goed wou kom steel nie?

Tannie:          Tobias, hy het vir hom ‘n groot weermag bymekaar gekry.  Hy het perde in Egipte en Kewe gaan koop; ook sterk strydwaens.   Dit klink of hy veertien honderd strydwaens en twaalf duisend perderuiters gehad het.   Die soldate en die mense in sy regering, was almal Israeliete.  Die mense wat die bouwerk gedoen het,  was van die Kanaänitiese mense wat nog oor was.

En,  Tobias, verder het hy sy rykdom gebruik om allerhande mooi goed te laat maak.  Daar was byvoorbeeld die mooiste houtrelings in die tempel en die paleis.  Hy het die wonderlikste musiekinstrumente laat maak van die goeie hout.  Daar is ook groot skilde van goud gemaak wat Salomo in die Libanonsbosgebou opgesit het.  As jy in sy paleis gekom het, sou jy sien al sy borde, en bekers en messe en vurke was van goud gemaak.   

Tobias:        Nie eers messe van silwer nie?

Tannie:          Julle, silwer is vandag baie werd, maar in Salomo se tyd was daar so baie silwer soos klippe in Jerusalem.  Niemand het gedink silwer is nou eintlik iets besonders nie.  

Tobias:        Silwer so baie soos klippe? lag)

Tannie:          Tobias, Salomo het ook kosbare sederbome laat aanplant in Jerusalem.  Dan wil ek nog baie graag vertel van sy troon.  Geen ander koning het so ‘n troon gehad nie.  Die hele troon is van ivoor gemaak.  Daar was ses trappe met beelde van leeus op elke trap:  twaalf leeus!  En, alles was met goud oorgetrek!   

Tobias:        Mensig!  Dit alles klink indrukwekkend!  Ek kan nie eers dink hoe dit moes gelyk het nie.   Tannie, was Salomo se rykdom vir hom baie belangrik?

Tannie:          Tobias, hoe ryker ‘n koning was, hoe belangriker was hy.   Maar daar is ‘n baie groot ding wat ons kan leer by Salomo.  Hy het in die boek Spreuke geskryf dat iets ver belangriker is as rykdom.  Luister gou:  “Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het.  Dit bring meer wins in as silwer en goud.  Dit is meer werd as edelstene.  Niks is so kosbaar soos wysheid nie.  Wysheid begin met die dien van die Here. “

Tobias:        Fantasties, wonderlik!  Ek wil  van daai wysheid hê!  En, ons kan dit sommer van God vra!   Maats, dit was nou ‘n mooi storie! 

Ai, en lyk my  dit is al weer groettyd.  Maats, ek dink ek en my maatjie gaan nou bietjie gesels oor wat is wysheid en wat is rykdom.  (lag) Dit gaan pret wees!  Dink net:  wysheid begin met die dien van die Here!  

Ons groet dan tot volgende keer!  Totsiens, almal!

                                                                                                ***