Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 74: Koning Rehabeam

Carin Conradie Season 5 Episode 74

Ons lees die geskiedenis van koning Rehabeam van Juda in 1 Konings 12 en 13 en ook in 2 Kronieke 10 tot 12.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 74:  Koning Rehabeam  (1 Konings 12, 13  en 2 Kronieke 10-12)

 

Tobias:        Tannie Carin, julle grootmense praat snaaks. (lag)  Julle praat soms van een ding, maar bedoel iets anders.  My maatjie se ma sê hy moenie haar goeie raad in die wind slaan nie.  Wat beteken dit?

Tannie:          Hallo Tobias en maats!  Tobias, jy praat van idome of uitdrukkings.  Dit is soos versierinkies wat ‘n taal mooi maak.  Ons het baie sulke idome in Afrikaans.  Byvoorbeeld:  om goeie raad in die wind te slaan, beteken dat jy nie goeie raad vat nie.  Jy gooi dit sommer weg. 

Tobias:        Versierinkies wat taal mooi maak?  Ek hou daarvan!  Maar tannie Carin, ons is hier vir ‘n storie.  Waarvan hoor ons vandag?

Tannie:          Julle, kom ek vertel julle van iemand wat goeie raad in die wind geslaan het.

Tobias:        Regtig?   (Lag)

Tannie:          Julle onthou mos dat God het gesê Hy gaan ‘n stuk van Salomo se koninkryk afskeur.  Wel, na sy dood het sy seun Rehabeam na Sigem toe gegaan omdat Israel hom daar tot koning wou kroon.  Maar, Jerobeam het ook uit Egipte gekom.  Jerobeam en Israel sê toe vir Rehabeam:  “U vader het ons swaar laat kry.  As u nou die belastings wat ons moet betaal minder maak, sal ons u onderdane bly.”   Rehabeam antwoord toe:  “Ek sal daaroor dink.  Kom oor drie dae terug.”  Rehabeam gaan toe na al die wyse ou omies wat vir Salomo raad gee het en vra wat hy moet antwoord.  Hulle het gesê dat hy moet doen wat Israel vra en vir hulle minder geld vra.  Maar toe gaan Rehabeam ook na jonger raadgewers toe.  Hulle antwoord was dat hy vir Israel moet sê dat sy pinkie dikker is as sy pa se middellyf.  Dit beteken dat hy hulle nog swaarder gaan laat kry.  Hy gaan nog meer geld en goed van hulle vra.

Tobias:        En wat besluit Rehabeam toe?

Tannie:          Tobias, toe het Rehabeam die ouer manne se goeie raad in die wind geslaan.  Hy het vir Israel gesê wat die jonger manne gesê het.  Jerobeam en Israel raak toe so kwaad dat hulle antwoord: “Ons het niks aan Dawid nie.  Hy moet maar na sy eie huis kyk.  Ons gaan na ons huise toe terug.”  Israel het in opstand gekom teen Rehabeam.  Hulle het tot iemand doodgemaak wat Rehabeam na hulle toe gestuur het.   Net Juda en Benjamin het vir Rehabeam aanvaar as hulle koning.   Rehabeam het honderd en tagtig duisend goeie soldate bymekaar gekry om teen Israel en koning Jerobeam te gaan veg.  Hy wou die koningskap terugkry.  Maar ‘n man van God, Semaja, het die boodskap gekry van God:  “Gaan sê vir koning Rehabeam van Juda:  moenie teen jou broers veg nie.  Gaan huis toe.  Ek het gesorg dat dit gebeur het.”  

Tobias:        En toe luister hulle na die Here?

Tannie:          Ja, Rehabeam het geluister.  Hy is toe koning oor ‘n klein deel van die volk.  Tog het sy koningskap gegroei.  Hy het vestingstede sterker gebou waar kos en wapens gestoor is om sy deel van die land te beskerm.    Intussen het al die Leviete en ander Israeliete wat die Here wou dien, na Juda toe getrek.  

Tobias:        Ai, Rehabeam!  Dat hy nou sowaar goeie raad in die wind slaan!  Tannie, vertel bietjie van sy vrou en kinders?

Tannie:          Tobias, hy het eers met Magalat getrou.  Toe met Maäka.  En op die ou end met nog sestien ander vrouens en sestig byvrouens.   Maar hy was die liefste vir Maäka.   Rehabeam het ag en twintig seuns en sestig dogters gehad.

Tobias:        Mensig!  Dis baie kinders!  

Tannie:          Julle, Rehabeam het ‘n slim ding gedoen om sy seuns in al die vestingstede te laat woon.  Hulle het luuks gelewe met baie kos, mooi goed en klompe vrouens.

Tobias:        Hy maak toe amper nes sy pa!  Maar Tannie, het Rehabeam die Here gevolg?

Tannie:          Tobias, hy en Juda het vir drie jaar die Here gedien.  Toe begin hulle wegkyk van God af.  Hulle het hoogtes en klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoogtetjie en onder elke groot groen boom om daar te aanbid, eerder as in die tempel.  Juda het lelike, afskuwelike sondes gedoen wat hulle gesien het by die Kanaäniete.   Toe, in Rehabeam se vyfde jaar as koning, stuur God vir koning Sisak van Egipte met vreeslik baie soldate, om vir Juda in te val.  Rehabeam en die leiers het weggekruip in Jerusalem.  Semaja kom toe na Rehabeam toe:  “Die Here sê dat julle Hom gelos het en nou gaan Hy julle los.”  Die leiers en Rehabeam het geantwoord:  “Die Here doen reg.”  Tobias, die Here het gesien dat hulle regtig jammer is.  Toe sê Hy vir Semaja:  “Ek sien hulle is jammer oor wat hulle gedoen het.  Daarom sal Ek hulle nie heeltemal uitroei nie.  Ek sal hulle gou red van Sisak, maar hulle gaan vir ‘n tyd vir hom moet dien en voel hoe dit is om ‘n aardse koning te dien, in plaas van vir  My.”  Julle, koning Sisak het Juda ingeval en al die mooi goed uit die tempel en paleis gevat.  Ook die goue skilde wat Salomo laat maak het.  Rehabeam het toe brons skilde in hulle plek laat maak. 

Tobias:        Ai tog!  Tannie, hoe lank bly Rehabeam toe koning?

Tannie:          Tobias, Rehabeam was een en veertig jaar oud toe hy koning geword het.  Hy was vir sewentien jaar lank koning.  In daai tyd het hy en Jerobeam gedurig oorlog gemaak.  Na sy dood het sy seun, Abia koning geword.

Tobias:        Ai, Rehabeam!  Maats, lyk my ons storie-tyd is om.  Maar ek is bly oor vandag se storie.  Dit help ons onthou om nie God se goeie raad in die wind slaan nie.  Kom ons doen wat Hy vra.  Mooi loop tot ons weer kom.  Totsiens!

                                                                                                ***