Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 75: Koning Jerobeam

Carin Conradie Season 5 Episode 75

Ons lees oor die lewe van koning Jerobeam van die noordelike Israel in 1 Konings 12-14 en 2 Kronieke 13.

As iets jou geraak het, stuur vir ons 'n boodskap

Support the show

Stories uit Kanaän 75:  Koning Jerobeam   (1 Konings  12-14 en 2 Kronieke 13)

 

Tannie:          Hallo, Tobias en maats!  Tobias, hoekom is jy hier?  Is jy lus vir ‘n storie?

Tobias:        Hallo, almal!  Tannie Carin, ek is so lus vir ‘n storie met wonderwerke in, want dit wys vir ons God bestaan regtig!   En Hy kan enige iets doen!

Tannie:          Tobias, weet jy, ek het ‘n storie met drie wonderwerke in!

Tobias:        Wat?  O, lekker!  Begin, Tannie!

Tannie:          Julle sal onthou dat God deur die profeet Agija gesê het Jerobeam gaan koning  word oor Israel.  God het hom gevra om net vir Hom te dien, maar dink julle  Jerobeam het geluister?  Nee!  Hy het by homself gedink:   “My mense in Israel gaan heeltyd na Jerusalem toe om te offer.  Ek sal ‘n plan moet maak.  Netnou gaan hulle terug na Rehabeam toe en maak my dood.  Dalk het my raadgewers ‘n plan.”   Julle, hy en die raadgewers dink toe ‘n vreeslike plan uit:  “Raadgewers, nou het ons ‘n goeie plan.   Ons sê vir Israel hulle het nou genoeg na Jerusalem gegaan om offers te bring.  Kom ons maak twee beelde van ‘n goue kalf.  Dan sit ons dit op hier in Bet-el en een in Dan.  Ek kan ook heiligdomme op die hoogtes hier naby ons maak.”   Jerobeam het ook  gesê dat enige een wat ‘n bul of sewe skape bring, sy priester kan word, al was hulle nie uit die stam van Levi nie.

Tobias:         Tannie, dis verskriklik!

Tannie:          Dit is!   Hy het ook sommer sy eie dag uitgekies om self ‘n offer aan God te bring in Bet-el.  Op die dag, net toe Jerobeam die offer aan die brand steek, kom daar ‘n man van God uit Juda aan.  God het hom gestuur om ‘n bevel van die Here teen Jerobeam se altaar uit te roep:  “Altaar, altaar, so sê die Here:  Daar sal uit Dawid se kinders ‘n man met die naam Josia kom.  Hy  sal op hierdie hoogtes die priesters doodmaak wat hier offers bring.   En kyk na hierdie wonderwerk:  hierdie altaar sal uitmekaar ruk.  Die as van die offer sal op die grond val en dit sal onrein word.  God sal nie die offer aanvaar nie.”

Tobias:        Tannie?  Gebeur dit toe?

Tannie:          Julle, net toe steek Jerobeam sy hand uit na die man van God en roep:  “Gryp hom!”  Maar, net daar gebeur die eerste wonderwerk:  Jerobeam se hand raak stokstyf.  Hy kon dit nie roer nie.  En toe ruk daai altaar uitmekaar en die as val op die grond.  Jerobeam het groot geskrik en gevra die man van God moet tog bid vir genade vir hom.  Die man bid toe vir Jerobeam  en, woeps, daar word sy hand gesond!  Jerobeam vra toe die man moet na sy huis toe kom, maar die man het geantwoord:  “God het gesê ek mag niks hier eet of drink nie en ek moet met ‘n ander pad huis toe gaan as waarmee ek gekom het.”  En daar gaan die man.  In Bet-el was ‘n ou profeet.  Sy seuns het hom die hele storie kom vertel.  Hy vra toe hulle moet ‘n donkie opsaal, want hy wil na die man van God toe ry.  Hy kry hom toe langs die pad en vra hy moet by sy huis iets kom eet en drink.  Die man van God het gesê, nee, hy kan nie.  Maar toe jok die ou profeet en sê ‘n engel het vir hom kom sê om die man van God te laat roep na sy huis toe.  Die man gaan toe saam met hom.   Maar net toe hulle so lekker eet, praat God regtig met die ou profeet:  “Sê vir hierdie man: omdat hy nie gedoen het wat Ek gesê het nie, sal hy nie begrawe word by sy eie mense nie.”

Tobias:        Tannie?  En toe?

Tannie:          Die man van God is toe daar weg op sy donkie.   ‘n Ent verder het ‘n leeu op hom afgestorm en hom doodgemaak.  Toe gebeur nog ‘n  wonderwerk:  die leeu, het nie die man geëet nie.  Hy het ook niks aan die donkie gedoen nie.  Die leeu en die donkie het maar net ewe bly staan langs die man se liggaam.  Mense wat dit gesien het, hardloop toe gou en gaan vertel dit vir die ou profeet.  Hy was hartseer en het hom in sy eie graf begrawe.  Hy het ook sy seuns gevra om hom eendag langs die man van God te begrawe.  Die ou profeet het gesê dat die voorspelling dat daar ‘n koning Josia sal kom, regtig sal gebeur. God doen wat Hy gesê het.   Ons sal later daardie storie vertel.

Tobias:        Tannie?  En toe Jerobeam al die dinge sien, het hy toe die Here begin dien?

Tannie:          Ai, Tobias, nee!  En daar gebeur toe nog iets.  Een van Jerobeam se seuns, Abia, het siek geword.  Jerobeam sê toe sy vrou moet haar vermom en na die profeet Agija toe gaan om te hoor of Abia gaan gesond word.  Agija was al oud en blind, maar die Here het vir hom gesê Jerobeam se vrou is oppad.  Toe sy inkom, vra Agija:  “Vrou van Jerobeam, hoekom maak jy of jy iemand anders is?  Luister, die Here sê dat die kind gaan sterf.  Hy is die enigste een van Jerobeam se seuns wat in ‘n graf begrawe gaan word, want God sien net in hom iets goeds.  Die res van die seuns gaan almal  uitgeroei word en nie een sal eers begrawe word nie.  God het so mooi vir Jerobeam gevra om Hom te dien, maar nee, hy het sommer sy eie afgode gemaak.  God gaan sy koningskap van sy kinders af wegvat.” Julle, net toe sy vrou by die paleis kom, het die seun gesterf.  Maar na alles het Jerobeam nie die Here gedien nie.  Hy was twee-en-twintig jaar lank koning, en toe het die Here hom sommer vinnig laat doodgaan.  En julle, daarmee is ons storietyd ook nou al weer om.

Tobias:        Agnee!  Toemaar, hierdie is so ‘n interessante storie waaroor ons kan dink en dit oorvertel!    Sjoe!  Ons sien dat die Here graag wil hê ons moet Hom dien. Dis die beste vir ons.   Ons moet onthou hoe groot is Hy!

Tannie:           Net so, Tobias.  Maats, ons groet dan vir vandag!  Kom gou weer!  Totsiens! 

                                                                                                ***