Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 76: Koning Abia van Juda
Ons lees van die koning wat net drie jaar regeer het in 1 Konings 15 en 2 Kronieke 13.
Stories uit Kanaän 76: Koning Abia van Juda (1 Konings 15 en 2 Kronieke 13)
Tobias: (uitasem)
Tannie: Tobias, hallo! Jy klink uitasem?
Tobias: Hallo, tannie Carin en maats! Julle, ek en my maatjie het nou so lekker gespeel.
Tannie: Wat het julle gespeel?
Tobias; Ons het gespeel: Koning, Koning, hoe ver mag ek reis. En toe laat spring hy my reuse spronge met my kort groen beentjies! (lag) Ek wonder of die maats daai speletjie ken?
Tannie: Dis ‘n heerlike speletjie! Ons het dit ook as kinders gespeel. Die maats kan hulle ouers vra hoe speel mens dit. Maar Tobias, gepraat van die koning speletjie, ons het vandag nog ‘n storie oor ‘n koning.
Tobias: O, lekker! Ek hou van enige soort storie. Vertel asseblief!
Tannie: Maats, Tobias, ons is nou in die boeke Konings en Kronieke toe Israel gedeel is in twee koninkryke: die noordelike koninkryk was Israel genoem en die suidelike koninkryk, Juda. Ons koning van vandag is nie baie bekend nie.
Tobias: Wat was sy naam? Was hy ‘n goeie koning?
Tannie: Wag, wag, Tobias! Jy kan nie twee vrae gelyk vra nie! Kom ek vertel julle!
Koning Rehabeam was die liefste vir sy vrou Maäka. Haar oudste seun was Abia. Hy het koning geword nadat sy pa oorlede is. Hy was ‘n man met veertien vrouens, twee en twintig seuns en sestien dogters.
Tobias: (lag) Abia, pa van ag en dertig kinders? Mensig! So, noudat ons sy naam weet kan ek seker vra: was hy ‘n goeie koning?
Tannie: Julle, ons lees in die boek Konings dat hy nie ‘n goeie koning was nie. Hy het dieselfde sondes as sy pa gedoen. Hulle het op heuwels en by gewyde pale geoffer en nie in Jerusalem nie. Hy het ook gekyk wat doen die heidene in hulle tempels. Toe bring hulle mans in die tempel in om vreemde werk te doen wat mense weggetrek het van God af.
Tobias: Maar Tannie, het hy dan nie geweet wat die regte dinge is om te doen nie?
Tannie: Ja, Tobias, hy het geweet. Hy het geweet van sy oor oupagrootjie, Dawid wat alles gedoen het wat God wil hê, behalwe toe hy daai keer vir Batseba gevat het en haar man laat vermoor het. Hy het ook die Psalms gehad om te lees.
Tobias: So, het hy heeltemal van God vergeet?
Tannie; Nee, hy het nie. Ek kan julle vertel van die keer wat hy teen koning Jerobeam van Israel gaan oorlog maak het. Jerobeam was nou al agtien jaar lank koning. Dalk wou Abia die noordelike koninkryk terugkry. Maar nou ja, die dag met die oorlog, toe vat Abia vierhonderd duisend goeie soldate en hulle masjeer na die Semarajimberg toe. Jerobeam sien toe hier kom nou moeilikheid, en hy kry vir hom agthonderd duisend soldate bymekaar. Toe Abia nou daar op die berg staan, begin hy met ‘n lang toespraak: “Jerobeam en Israeliete! Julle weet tog dat God belowe het om vir altyd iemand op Dawid se troon te laat sit. Dis ‘n belofte wat nie verbreek sal word nie. En Jerobeam? Wie is hy nou eintlik? Iemand wat in opstand gekom het. En sy helpers is sommer ‘n klomp boewe. Julle kan nie wen teen ons nie. Ja, julle het julle goue kalwers, maar ons dien God in die tempel, net soos Hy gesê het ons moet.” En so gaan hy aan: “bla, bla, bla, bla.”
Tobias: Tannie, en Jerobeam staan en luister toe?
Tannie: Wel, klink nie of hy geluister het nie, want ons hoor hy het daai tyd sy klomp soldate gedeel. Party het agterom Juda gegaan sonder dat hulle dit gesien het. Party was nog steeds voor hulle. Maar op ‘n stadium, kyk iemand van Juda om. Hulle skrik hulle asvaal flou. Hier is dan nou klomp soldate agter hulle ook! Ag, toggie, wat gaan hulle nou doen? Hulle is al klaar net die helfte soveel as Israel se soldate. So, daar was net een ding oor wat hulle kon doen.
Tobias: Hulle kon die Here vra!
Tannie: Dis reg, Tobias. En dis wat hulle ook gedoen het. Hulle het geroep na die Here om hulle te help. Die priesters blaas toe op hul trompette; almal skree die oorlogskreet. En toe storm hulle op die Judeërs af en veg so al wat hulle kan. En wil julle my nou glo? God help hulle daai dag om vir Jerobeam en Israel ver te wen. Hulle het glad vyfhonderd duisend soldate van Israel doodgemaak. Daarna het Abia drie stede van Israel vir Juda gevat.
Tobias: Tannie, hoekom kon hulle vir Israel wen?
Tannie: Tobias, nie omdat hulle goed of sterk was nie. Net omdat hulle op die Here vertrou het toe hulle in die moeilikheid was.
Tobias: En al het God hom daai dag gehelp, het hy God steeds nie gevolg nie?
Tannie: Tobias, baie keer weet ons wat die regte ding is om te doen, maar ons doen dit nie. Die Here het Abia nie lank laat regeer nie. Hy was net drie jaar koning.
Tobias: Ai, koning Abia! Dis nou jammer! Maats, dit laat my besef dit help nie ons weet net wie Jesus Christus is nie. Ons moet Hom liefhê en doen wat Hy vra.
Tannie: Dit is heeltemal reg so, Tobias! Maats, as ons nou die storie van vandag klaarmaak, kan julle gerus met pappa of mamma hieroor praat. Die Here wil so graag hê ons moet Hom met ons hele lewe en lyfie en brein en alles liefhê. Tobias, maats, ons gaan nou groet. Ons wil graag weer kom en vir julle vertel van nog ‘n koning van Juda. Lekker speel en bly volg vir Jesus! Ons groet julle! Totsiens, totsiens!
***