Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 77: Koning Asa van Juda

Carin Conradie Season 5 Episode 77

Na Abia het Asa koning geword van Juda.  Vir die meerderheid van sy 41 jaar het hy God gedien:  1 Konings 15 en 2 Kronieke 14-16.

Send us a text

Support the show

Stories uit Kanaän 77:   Koning Asa van Juda   (1 Konings 15 en 2 Kronieke 14-16)

 

Tobias:         (snuif)

Tannie:          Tobias?  Huil jy?

Tobias:        Hallo, tannie Carin en maats.  Tannie, ek voel bietjie hartseer en kwaad!  My maatjie se mamma het hom gestraf, en nou mag hy vir twee dae nie by my kom speel nie!  Tannie, hoekom straf ouers hulle kinders?  Dis nie lekker nie!  

Tannie:          Sjoe, Tobias?  Jy vra ‘n groot vraag vandag!  Julle, ouers straf kinders dat hulle kan ophou om verkeerde dinge te doen.  Hulle wil hê kinders moet sê hulle is jammer, en doen wat die ouers vra.  Want ouers is lief vir kinders!       

Tobias:        Tannie, doen God dit ook?

Tannie:          Tobias, maats, ja, God straf ook sy kinders, want Hy is lief vir ons.  Ons lees dit in Hebreërs en ons het ‘n storie wat dit vir ons wys.

Tobias:        O, lekker, ‘n storie!  Vertel Tannie!

Tannie:          Julle, na Abia het sy seun Asa koning geword.  Hy was vir een en veertig jaar lank koning.   Sy eerste jare was hy lief vir die Here en het dit gewys!

Tobias:        Hoe het hy dit gewys, Tannie?

Tannie:          Hy het gekyk waar in Juda is altare of klippilare of pale vir afgode.  Toe kap hy dit flenters!   Hy het gesê:  “Luister, Juda, ons moet aan God gehoorsaam wees en alles doen wat Hy vra.”   Die Here het dit gesien en gesorg dat Asa vir baie jare vrede gehad het.  Hulle kon toe lekker sterk vestingtede vir Juda bou.

Tobias:        Ag, fantasties!  En toe leef almal lank en gelukkig saam!  Einde van die storie?

Tannie:          Nee, nee!  Asa se storie gaan nog aan.  

Tobias:        Huh?  Nou vertel, Tannie?

Tannie:          In die vyftiende jaar wat Asa koning was, het die koning van Kus hulle aangeval met ‘n miljoen soldate en driehonderd strydwaens.  Asa het sy soldate getel:  hulle was maar net vyf honderd en tagtig duisend – baie, baie minder as Kus se soldate!   Toe bid Asa:  “Here, net U kan die swakke teen die sterke help!  Help ons teen die koning van Kus!”  En raai net?  Daai dag wen Juda vir Kus!   Die hele leër van Kus is uitmekaar gejaag.  Juda het baie oorlogsbuit huistoe gebring:  skape, bokke, beeste, kamele en baie goed uit die stede.

Tobias:        Was die Here bly dat Asa vir Hom hulp gevra het?

Tannie:          Ja, Tobias, Hy was!   Hy het  Asarja, na hom toe gestuur:  “Asa en manne van Juda, as julle by die Here bly, sal Hy by julle wees.  Maar as julle van Hom af weggaan, sal Hy van julle af weggaan.  Julle was so bang vir die koning van Kus.  Maar toe roep  julle na God, en Hy antwoord!  Staan nou vas en moenie moedeloos word nie.”   Koning Asa was so bly om dit te hoor.  Hy het toe sommer vir nog afgodsbeelde in sy land gesoek en alles vernietig!  Hy het ook ‘n stukkende altaar by die tempel laat regmaak.  En o ja, sy ouma was die koninginsmoeder.  Sy het ‘n lelike afgodsbeeld laat maak.  Asa het die ding stukkend geslaan en verbrand en vir sy ouma gesê sy is nou nie meer koninginsmoeder nie.   Die mense van Juda het ook ‘n groot fees gehou in Jerusalem.  Hulle het offers gebring en musiek gemaak.  Hulle het vir die Here belowe om Hom te dien.  Dit was ‘n vrolike affêre, want almal wou graag die Here liefhê.  Daar het tot mense van Israel begin oorloop na Juda toe.

Tobias:        Wonderlik!  Toe gaan alles goed in Juda?

Tannie:          Ja, julle, vir nog twintig jaar het dit so goed gegaan.  Asa was lief vir God.  Maar, toe in sy ses en dertigste jaar, gebeur daar iets.

Tobias:        Aggenee!  Wat, Tannie?

Tannie:          Julle, die koning van Israel het ‘n vestingstad gebou om die pad toe te maak tussen Israel en Juda en het vir Juda begin aanval.   Toe doen Asa ‘n vreemde ding:  hy het silwer en goud uit die tempel se kaste gevat en vir die koning van Aram gesê:  “Ben-Hadad, ek en jy is mos goed vir mekaar.  Ons pa’s was mos al vriende.  Jongie, vat nou die geld en help my om die koning van Israel uit my pad te kry.  Breek jou vriendskap met hom.”  Koning Ben-Hadad doen dit toe; val vir Israel aan en vat klomp van sy stede.  

Tobias:        Tannie, wat sê die Here toe?

Tannie:          Tobias, die Here het ‘n siener na Asa toe gestuur, want Hy wou hê Asa moet terugkom na Hom toe.  Die siener het gesê:  “Asa, God se oë is op die hele aarde.  Hy kyk rond wie vertrou op Hom. Dan help Hy daai mense.  Jy onthou hoe Hy jou gehelp het die tyd met Kus?  Maar nou gaan staan en vra jy hulp vir die koning van Aram?  Dit was bietjie dom!   Nou gaan jou land oorlog hê!”

Tobias:        Tannie, roep Asa toe weer na die Here?

Tannie:          Nee, ongelukkig nie!  Hy was so kwaad dat hy glad die siener in die tronk gegooi het.  Hy het soos ‘n brombeer rondgeloop en was lelik met party mense.    Drie jaar later, stuur God toe nog ‘n straf om te kyk of Asa nie weer na Hom sal roep nie.  Asa het ‘n aaklige siekte aan sy voete gekry.  Hy het raad by allerhande dokters gevra, maar nooit vir die Here nie.

Tobias:        Kan jy dit nou glo!  Hoekom het hy nie?  En is Asa toe dood?

Tannie:          Twee jaar later is Asa oorlede.  Die volk het vir hom ‘n mooi begrafnis gehou.  

Tobias:        Tannie, ek hoop my maatjie is nou nie meer kwaad vir sy mamma nie.  Ek is  nie meer nie.  Ek sien nou die Tannie is net lief vir hom!  Maats, kom ons wees lief vir die Here en wys dit vir Hom?   

Tannie:          Ek is bly, Tobias.  Maats, dis ongelukkig nou groettyd. Ons wil graag gou weer kom met nog stories uit die Bybel.   Mooi bly, julle!  Totsiens, totsiens!

                                                                                                ***