Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 79: Koning Josafat van Juda

Carin Conradie Season 5 Episode 79

Ons lees die storie van koning Josafat wat die Here gedien het  in 1 Konings 22 en in 2 Kronieke 17 tot 21.

Send us a text

Support the show

Stories uit Kanaän 79:  Koning Josafat van Juda    (1 Konings 22 en 2 Kronieke 17-21)

 

Tobias:        (Neurie) Hallo, almal!  Tannie Carin, hoekom sing ons liedjies vir die Here?

Tannie:          Hallo, julle!  Tobias, ons sing vir Hom omdat Hy so wonderlik is.   En die Bybel leer ons om vir Hom te sing.  Weet jy, ek het ‘n wonderlike storie oor iets wat gebeur het toe die mense van Juda vir God gesing het.

Tobias:        Dit klink interessant!  Begin asseblief dadelik, Tannie!

Tannie:          Tobias en maats, Josafat, seun van Asa, was nou koning van Juda.  

Tobias:        Tannie, was hy ‘n goeie koning?

Tannie:          Tobias, hy het foute gemaak, maar vir die grootste deel van sy lewe was hy baie lief vir God.  Hy het die afgodery probeer uitroei in Juda.   Hy het priesters en Leviete bymekaar gekry en vir hulle gesê:  “Vat die wetboek van die Here.  Gaan dan na elke stad en leer hulle hoe om lief te wees vir ons God.” Later het hy ook goeie regters in die hele land aangestel.   Die ander lande se mense was nou baie skrikkerig, want hulle het gesien God is by die mense van Juda.  Hulle het geskenke gestuur vir Josafat en hy het ryk geword.   

Tobias:        Dis nou fantasties!  ‘n Koning wat die Here dien!

Tannie:          Wel, toe dit nou so goed gaan met hom, het hy iets gedoen wat hom amper baie sleg laat oorkom het!   Josafat het een van sy seuns laat trou met ‘n dogter van koning Agab van Israel.  Agab was niks lief vir die Here nie.  ‘n Paar jaar later gaan kuier Josafat toe vir Agab.  Agab het ‘n groot fees gehou.  Toe die fees nou so lekker aan die gang was, vra Agab:  “Ou Josafat, hoe lyk dit?  Kom ek en jy val die Arameërs aan.”  Josafat sê toe: “Ons kan saam oorlog maak, maar kom ons hoor eers wat die Here sê.”   Agab kry toe vierhonderd profete bymekaar.  Soos een man sê hulle:  “Gaan gerus.  God gee die stad aan u, o koning.”   Josafat was nog bietjie onseker en vra of daar nie dalk nog ‘n profeet is nie.  Agab het gesê:  “Ja, hier is ou Miga.  Maar ek haat hom.  Hy sê net altyd slegte goed vir my.”

Tobias:        Huh?  Laat kom hulle toe vir Miga?

Tannie:          Ja, hulle laat kom hom toe.   Hy sê toe ook:  “Mag dit goed gaan.  Mag die stad aan u oorgegee word.”  Agab het dadelik geweet Miga jok en bars toe uit: ”Miga, hoeveel keer het ek al vir jou gesê om net vir my te sê wat die Here vir jou sê?”   Toe antwoord Miga:  “Ek het gesien hoe Israel die hele veld vol lê sonder ‘n koning.    Ek het in ‘n gesig gesien hoe daar in die hemel beplan is dat klomp profete ‘n leuen sal vertel, sodat u, koning Agab teen die Arameërs moet gaan veg en sterf.”  Agab was so kwaad dat hy vir Miga in die tronk laat gooi het.  En hulle gaan veg sowaar!   Die geveg was hewig!   Die Arameërs het vir Josafat begin jaag en hy het geroep dat die Here hom moet help.  Toe het die Here self die vyand van hom af weggekeer.  Maar, iemand het sommer ‘n los pyl afgeskiet.  Dit het vir Agab getref  en hy het daai dag gesterf!

Tobias:        Tannie!    En wat word toe van Josafat?

Tannie:          Hy kon darem veilig huis toe gaan.  ‘n Siener het hom kom sê dat die Here ontevrede is omdat hy saam met ‘n goddelose koning gewerk het.   En al was hy gewaarsku, het hy sowaar toe later met Agab se seun, Ahasia, ook saamgewerk om skepe te bou om goud te gaan haal.  Maar die skepe het gesink en nooit eers een stukkie goud gebring nie.

Tobias:        Ai, dis jammer!   

Tannie:          Julle, maar die lekkerste het ek vir laaste gelos.  Op ‘n dag het drie volke  saamgewerk en vir Juda aangeval.  Josafat het baie groot geskrik,  en het tot die Here geroep.  Hy het al die Judeërs gevra om te kom vas en bid daar in Jerusalem.  Hy het gebid:  “Here, U is God.  Kyk na hierdie klomp mense! Ons het nie die krag om teen hulle te veg nie.  Ons oë is op U gerig!”  Toe almal nou so bid voor die tempel het die Gees van die Here deur ‘n Leviet gepraat:  “Juda, luister, moenie bang wees nie.  God sê hierdie oorlog is sy saak.   Trek hulle more tegemoet.  Julle hoef nie te veg nie.  Julle kan net staan en kyk hoe God die oorlog vir julle gaan wen.”  Die mense was so bly!  Die koor van die tempel het dadelik begin sing.

Tobias:        Fantasties!  Wat gebeur toe?

Tannie:          Julle, die soldate het die volgende oggend aangetree.  Josafat het klomp sangers gekies.  Hulle het voor die soldate geloop na die oorlogsveld toe.  Hulle het gesing: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie!”  En Tobias, toe hulle begin sing, kom daar onverwags aanvalle op die vyand.   Daarna begin val twee groepe die ander groep aan.  En toe val die twee groepe mekaar aan.  Hulle het geveg en geveg.   Toe die sangers en die soldate so oor die bult loop en soek waar is die vyand, lê hulle almal morsdood op die grond!  Hulle kon amper nie hulle oë glo nie.  Hulle gaan toe nader en vat al die mooi en kosbare goed wat hulle daar kon kry.  Dit was so baie, dat hulle vir drie dae lank dit bymekaar gemaak het.  Die vierde dag het hulle ‘n groot samekoms gehou en die Here geloof en geprys met harpe en liere en trompette.  Hulle kon rustig teruggaan na Jerusalem en die Here het vir Josafat vrede gegee tot sy dooddag toe. Hy was vyf en twintig jaar lank koning.

Tobias:        Fantasties!  Wonderlik!  Dis nou ‘n mooi storie!  O, lekker!  Ons God is so groot!   Maats, ek moet nou dadelik groet, want ek gaan na my maatjie toe hardloop met die storie en ons gaan vir Jesus sing!  Totsiens, maats!  Totsiens, totsiens! 

Tannie:          Daar gaan hy al!  Totsiens, maats, tot volgende keer!

                                                                                                ***