Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 80: Koning Agab, die profeet Elia en 'n groot droogte
Die profeet Elia en koning Agab van Israel het in dieselfde tyd geleef. In hierdie storie vertel ons van die groot droogte wat Elia aangekondig het. Dis geskryf in 1 Konings 16 en 17.
Stories uit Kanaän 80: Koning Agab, die profeet Elia en ‘n groot droogte (1 Kon 16 en 17)
Tobias: Haai! Hallo, julle! (kraai kras) Tannie Carin, watter voël skree so?
Tannie: Tobias, hallo! Dis ‘n kraai wat so maak. Ek wonder of die maats weet hoe lyk ‘n kraai? (kraai kras) Die kraai sit omtrent naby ons venster vandag! Tobias, weet jy dat die Here selfs kraaie kan gebruik vir sy werk?
Tobias: Wat bedoel Tannie nou? Het Tannie ‘n storie om te vertel?
Tannie: Tobias, ja! Kom ek vertel julle van wonderlike dinge wat gebeur het toe Agab koning van Israel geword het.
Tobias: Mmm, weer ‘n nuwe koning! Was hy lief vir die Here?
Tannie: Nee, aarde tog! Hy was die koning wat die minste lief was vir God. Hy het getrou met Isebel. Sy was die dogter van die koning-priester van Sidon. Hulle het vir Baäl gedien. Toe sy vrou nou die afgod dien, toe begin Agab ook. Hy bou toe selfs ‘n tempel vir Baäl in Samaria. Hy het regtig gekyk hoe kwaad hy die Here kan maak. Tobias, so terloops, julle onthou mos die stad Jerigo? Die stad wat se mure omgeval het baie jare terug? God het daai tyd die stad vervloek en gesê die mure mag nooit weer opgebou word nie. In Agab se tyd het ‘n man die stad se mure begin herbou. En eers is sy een seun dood en toe nog ‘n seun. Almal het toe onthou van die vloek!
Tobias: Sjoe! As die Here iets sê, bedoel Hy dit, ne Tannie?
Tannie: Ja, Tobias! Dit sien ons juis ook in ons storie van vandag. In Agab se tyd was daar ‘n profeet, Elia. Eendag stuur die Here hom na Agab toe: “Koning Agab, so seker as die Here leef, daar sal eers weer reën of dou val as ek so sê.”
Tobias: Haai, oe! Die koning was seker kwaad toe hy dit hoor!
Tannie: Ja, hy sou wees, want die Here het juis die droogte gestuur sodat Agab kan terugkom na God toe. God het ook geweet dat Agab nou vir Elia sal wil doodmaak. Toe sê die Here vir Elia: “Elia, gaan kruip weg daar by die Kritspruit, anderkant die Jordaan rivier.”
Tobias: Alleen? In die veld? En dis droogte? Waar het Elia kos gekry?
Tannie: Tobias, ek het jou gesê die Here kan enige iets of iemand gebruik – selfs kraaie! Ja, die Here het vir kraaie ‘n werk gegee: “Julle moet vir Elia sorg. Elke oggend en elke aand moet julle vir hom brood en vleis vat.” En verder het Elia water uit die spruit gedrink.
Tobias: Tannie! Regtig? Het kraaie vir hom kos gebring? Vir hoe lank?
Tannie: Julle, ons weet nie presies vir hoe lank nie. Ons weet net hulle het vir Elia gesorg totdat die water in die spruit opgedroog het.
Tobias: En toe? Waar kry hy toe kos en water?
Tannie: Toe doen die Here die volgende wonderwerk. Hy stuur vir Elia na Sarfat in die land van Sidon waar Isebel vandaan gekom het. Hierdie keer het die Here vir ‘n weduwee gevra om vir Elia te sorg.
Tobias: Tannie, maar was weduwees nie gewoonlik maar arm nie?
Tannie: Ja, ek dink sy was, maar luister wat het gebeur. Toe Elia naby die stad se groot hek kom, sien hy ‘n vrou houtjies optel. Elia roep toe na haar: “Ag mevrou, gee tog asseblief vir my bietjie water?” Sy begin loop toe om dit te gaan haal. Hy roep toe agterna: “Ag, en ‘n ou broodjie ook, asseblief?” Daai tyd swaai die vrou om en sê: “So seker as wat u God leef, ek kan nie vir u ‘n broodjie bring nie. In my meelkruik is nog net ‘n handvol meel. En daar is net ‘n lekseltjie olie in die erdekan. Dis juis hoekom ek nou maar vuurhout bymekaar maak. Ek gaan ‘n broodjie vir my en my seuntjie maak, en dan moet ons maar sterf.” Maar Elia antwoord: “Mevrou, moenie bekommerd wees nie. Gaan maak vir my ‘n broodjie. Die God van Israel sê dat die meel nie sal opraak nie, en die olie ook nie.” En dit was net so. Die vrou het meel uitgegooi, maar dit het nooit opgeraak nie. Sy het olie uit die kan uitgegooi, maar dit het net nooit leeg geword nie. Dit was so totdat dit weer kom reën het. Elia en die vrou en haar seuntjie het elke dag genoeg gehad om te eet.
Tobias: Wat? Ek kan dit nie glo nie? Wat ‘n wonderlike God het ons!
Tannie: Ja! Maar, Tobias, maats, op ‘n dag, gebeur daar ‘n hartseer ding in daai huis. Die seuntjie raak siek. En hy raak al sieker en sieker en... toe gaan hy dood.
Tobias: Aggenee!
Tannie: Julle kan mos dink die vrou was baie ontsteld: “Elia, kyk wat het jy my nou aangedoen! Wil jy nou al my sonde vir my kom wys en my kind laat sterf?” Sy het seker droewig gehuil. Toe sê Elia: “Gee jou kindjie vir my.” Hy tel hom toe van haar skoot af en dra hom teen die trappe op na die boonste kamertjie waar Elia geslaap het. Hy het die kindjie op sy bed neergelê. Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kindjie en smeek: “Ag Here, my God, laat die kindjie asseblief tog weer lewendig word.” En toe hoor die Here! Toe word die kindjie lewendig! Elia het hom afgevat na sy mamma toe en gesê: “Kyk! Jou seuntjie leef!” Die mamma het seker opgespring en gesê: “Nou weet ek dat u ‘n man van God is! Alles wat die Here deur u sê, sal waar word.”
Tobias: Tannie, dis my nuwe mooiste, mooiste storie! Dankie! Maats, gaan vertel dit dadelik vir iemand! Ons God is so groot en fantasties! En wat Hy sê gebeur!
Tannie: Ja, maats, as ons nou groet kan julle gerus die storie gaan vertel en dit sommer speel ook. Ons God is groot en fantasties! Ons groet dan eers, maar wil graag weer gou kom! Totsiens, almal, tot volgende keer!
***