Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 81: Elia en die profete van Baäl

Carin Conradie Season 5 Episode 81

In 1 Konings 18 lees ons die storie oor die Here wat op die berg Karmel gewys het Hy is God.

Send us a text

Support the show

Stories uit Kanaän 81:  Elia en die Baälprofete    (1 Konings 18)

 

Tobias:        Hallo, almal.

Tannie:          Hallo, julle!  Tobias, jy klink bietjie af?  Wat is fout?

Tobias:        Tannie, ek wil vinnig kan hardloop, maar my groen beentjies is te kort.

Toemaar, Tannie Carin, dis reg so.  Ek kan vinnig dink.   Nou dink ek en wonder, weet ons van iemand wat vinnig kon hardloop in die Bybel?

Tannie:          Mmm, ja!  Ek weet van iemand.  Kom ek vertel julle hoe dit gebeur het dat ‘n ou man vinniger kon hardloop as perde!  Maats, Tobias, julle sal onthou dat die profeet Elia vir koning Agab gaan sê het die Here gaan ‘n lelike droogte stuur.  

Dit was nou al amper drie jaar lank droogte.  Die Here sê toe:  “Elia, dis tyd dat jy ophou wegkruip.  Gaan na Agab toe, want Ek wil weer reën stuur.”  

Tobias:        Gaan Elia toe?  Was hy nie bang nie?

Tannie:          Ons weet nie of hy bang was nie, maar daar was iemand anders wat bang was.  Sy naam was Obadja,  Agab se paleisopsigter.  Hy was lief vir die Here en het selfs honderd profete van die Here in grotte weggesteek, sodat Agab en sy vrou Isebel hulle nie kon doodmaak nie.  Hy het skelmpies vir hulle kos en water gestuur.   Nouja, op ‘n dag sê Agab vir hom:  “Obadja, kom ons gaan soek kos en water vir ons diere.  Hier by ons paleis is niks nie.  Jy loop deur die  een kant van die land en ek deur die ander kant.”  Obadja was net goed op sy pad, toe loop hy vir Elia raak.  Hy skrik hom koud:  “Elia, is dit jy?  Agab het jou oral gesoek.”  Elia sê toe:  “Ja, dis ek.  Gaan sê vir Agab Elia is hier.”  Maar Obadja sê: “Wat?  Watter sonde het ek gedoen dat u wil hê Agab moet my doodmaak?  Netnou is u weg as hy hier kom?”  Maar Elia het gesê hy sal wag.  Obadja gaan roep toe vir Agab.  Hy was natuurlik woedend toe hy vir Elia sien:  “Dis jy!  Jy het die droogte gebring!”  Elia het geantwoord dat dit Agab was wat die droogte gebring het, omdat hy en sy familie afgode aanbid het.  Toe sê Elia vir Agab dat die hele Israel en al vierhonderd en vyftig profete van Baäl en Astarte op die berg Karmel moet bymekaarkom.

Tobias:        Hoekom moes almal daar wees, Tannie?

Tannie:          Julle, die Here het vir Elia gesê wat hy moes doen om ‘n groot les vir almal te leer.  Die dag op die berg het Elia voor gaan staan en gesê:  “Israel, hoekom hink julle op twee gedagtes?  As die Here God is, moet julle Hom volg.  En as Baäl god is, volg hom dan.  Profete van Baäl, ons gaan bietjie kyk watter God wen vandag.   Ek en julle gaan elkeen ‘n bul vat en dit op  ‘n altaar sit.   Maar ons gaan dit nie aan die brand steek nie.  Ons gaan bid en kyk watter god stuur vuur.  Die God wat vuur stuur, is die wenner.”  Die hele volk het gesê:  “Goed!  Dis reg, Elia!”

Tobias:        Tannie Carin?

Tannie:          Julle, die Baälprofete sny hulle bul op en sit dit op die altaar.  Toe begin bid hulle dat  Baäl vuur moet stuur.  Hulle bid en roep.  Dis lateraan middag, maar niks gebeur nie.  Elia begin toe spot:  “Haai, ouens, roep harder.  Dalk slaap hy, of is gou uit, of hy dink diep.  Of dalk is hy op reis.  Komaan!  Hy is mos ‘n god?”  Toe begin die profete hulleself stukkend kerf en roep, maar niks gebeur nie.  Teen die tyd wat Israel gewoonlik hulle aandoffers moes bring, roep Elia die volk nader.   Hy maak toe die stukkende altaar reg met twaalf klippe – een vir elke kind van Jakob, of Israel soos sy naam later geword het.  Hy sit die bul op die altaar en grawe ‘n diep sloot rondom.   Toe vra hy:  “Bring vier kruike water en gooi die bul en altaar nat.”  Toe hulle klaar is sê hy:  “Goed!  Nog ‘n keer. “  En daarna nog ‘n keer.  Toe is alles waternat en die sloot vol water.  Elia bid toe:  “Here, God van Abraham, Isak en Israel, wys asseblief vandag vir hierdie volk wie is God, sodat hulle weer vir U kan lief word.”  Tobias, en daai tyd val die vuur uit die hemel!  Nie net ‘n paar vlammetjies nie.  Nee, so baie vuur dat dit die water alles oplek  en die bul verbrand en die klippe en sommer die grond ook!   Toe roep die hele volk: “Die Here, is God!  Die Here is God!”  Elia reël toe dat die profete van Baäl doodgemaak  word.   Hy sê toe ook vir Agab hy moet gou-gou eet  en huistoe gaan, want hy hoor al die reën kom.   Agab gaan eet toe,  maar Elia en sy slaaf loop na die top van die berg.  Elia het laag gebuig voor die Here en begin bid vir reën.  Na elke gebed het hy gevra sy slaaf moet gaan kyk of hy al ‘n wolk sien wat oor die see aankom.  Na sewe keer se kyk, sien die slaaf ‘n wolkie so klein soos ‘n man se hand.  Toe weet Elia die Here gaan nou groot reën stuur.  Hy waarsku toe vir Agab om dadelik te begin huistoe jaag, anders gaan die reën hom vaskeer.  Maar julle, hier kom die hardloop-storie:  Elia het sy mantel opgebind en begin hardloop.  Die Here sit toe ekstra krag en spoed in daai ou bene.  Elia hardloop Agab se wa in; toe verby die perde en voor die wa uit!  Die perde hardloop so al wat hulle kan, maar Elia is te vinnig.  Hy word klein daar voor in die pad.

Tobias:        Tannie!  Die Here is God!  Hy het dit gewys in die vuur en in Elia se bene wat vinnig geword het!  Maats?  Is dit nou nie ‘n wonderlike storie nie?  Tannie, kan ek gaan en dit gou vir my maatjie gaan vertel?   O!  Ek is so opgewonde!

Tannie:          Tobias, ons storietyd is nou al verby, so jy kan maar gerus gaan.  Maats, as ons nou afsluit, kan ons ook vir God vertel hoe opgewonde ons oor Hom is!  Hy alleen is God!   Ons groet dan en hoop om gou weer te kom met nog ‘n storie.  Totsiens, maats, totsiens!

                                                                                    ***