Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 82: Elia vlug vir Isebel

Carin Conradie Season 5 Episode 82

Elia was baie moedeloos en bang na die groot oorwinning op Karmelberg.  Ons lees daarvan in 1 Konings 19.

Send us a text

Support the show

Stories uit Kanaän 82:  Elia vlug vir Isebel   (1 Konings 19)

 

Tobias:        O, nee!   Ai, tog!

Tannie:          Hallo, Tobias.  Wat gaan aan?  Wat is dit nou?

Tobias:        Tannie Carin, daar is ‘n padda in my hondjie se waterbak. (hondjie blaf)  En Tannie, Tannie, ek is bang … vir… paddas.    Is dit verkeerd om bang te wees?

Tannie:          Tobias, jong ek dink ek is ook bang vir paddas!  Maar weet jy?  Die Here weet ons mense raak bang vir die donker, of donderweer of goggas, of dat iets slegs gaan gebeur.  Daarom het God omtrent honderd keer in die Bybel laat skryf:   “Moenie bang wees nie.  Ek is by julle en sorg vir julle.”

Tobias:        Dis goed!   Maar, Tannie, was daar mense in die Bybel wat ook  bang was?

Tannie:          Tobias, maats, ja!  Ek dink nou juis aan Elia.

Tobias:        Elia?  Was hy bang?  Vertel, asseblief, Tannie!

Tannie:          Julle, nadat Elia op die berg gebid het en God vuur gestuur het, het Agab alles vir sy vrou, Isebel, gaan vertel.  Sy was boosaardig kwaad oor die Baälpriesters wat doodgemaak is.  Sy stuur toe ‘n boodskap vir Elia: “Mag die gode my doodmaak as ek nie teen more vir jou doodmaak nie.”  Toe raak Elia baie, baie bang!  So bang dat hy vlug na Berseba toe.  Hy los toe sy slaaf daar en vlug die woestyn in.  Daar het hy onder ‘n besembos gaan neerval.  Hy was bang en moedeloos en wou sommer nie meer lewe nie.  Hy het gebid: “Ag, Here, ek het nou genoeg gehad.  Laat my maar doodgaan!”  Hy het sommer daar onder die bos aan die slaap geraak.  Toe gebeur ‘n snaakse ding.   Elia het nog so gelê, toe skud iemand hom wakker.  Hy het seker groot geskrik.  Voor hom sien hy  toe roosterkoeke en water.  Maar wie skud so aan hom?  Dit was ‘n engel!  Hy het gesê:  “Word wakker.  Eet!”   Elia  het geëet en toe gaan lê hy om verder te slaap.  Maar?  Daar skud die engel hom weer wakker:  “Word wakker en eet, want anders gaan die pad vir jou te lank word.”  Toe eet hy nog van die lekker roosterkoeke.  Die brood het hom lekker sterk gemaak.  Hy staan toe op en begin loop.  Hy loop en loop vir veertig dae en nagte, sonder om moeg  te word.  Toe kom hy by Horeb, die berg van God.  Hy het daar ‘n grot gekry waarin hy die nag kon slaap.

Tobias:        Wat het hy by die berg gedoen, Tannie?

Tannie:          Tobias, ek dink die Here het ‘n spesiale afspraak met hom gehad.  Die Here het gevra:  “Elia, wat maak jy hier?”   Elia se antwoord was:  “Ag Here, ek het my alles gegee om vir U te werk.  Maar die Israeliete?  Hulle het nie vir U geluister nie.  Hulle het klomp profete doodgemaak en nou wil hulle my ook doodmaak.”  Die Here het vir hom gesê:  “Kom daar uit die grot uit.  Kom, kom staan hier, want Ek wil by jou verbygaan”.  Elia staan nog so en toe kom daar ‘n verskriklike wind.  Dit was so sterk dat dit die berg stukkend geruk het.  Maar Elia het besef:  dis maar net wind, dis nie God wat hier verby is nie.  Hy staan nog so, toe kom daar ‘n aardbewing.  Alles het gebewe en gerittel.  Maar Elia het gesien dit was nog nie die Here nie.  Toe begin daar ‘n vuur op die berg brand.  Dit het sommer so geknetter en gekraak, maar...

Tobias:        Was die Here ook nie in die vuur nie, Tannie?

Tannie:          Nee, Hy was nie.  Elia het nog steeds gestaan en wag.  Toe hoor hy ‘n sagte fluistering in die stilte.  Toe weet hy!   God kom nou verby!  Hy het sy gesig met sy mantel toegemaak en in die bek van die grot gaan staan.  Hy het geweet geen mens kan na God kyk en bly leef nie.  God vra toe weer:  “Elia, wat maak jy hier?”  Elia het weer geantwoord dat hy moedeloos is.  Maar God het nog werk gehad vir hom:  “Elia, gaan terug na die Damaskus woestyn.  Ek wil hê  jy moet ‘n nuwe koning vir Aram kroon en ook een vir Israel.  Dan moet jy vir Elisa salf as ‘n profeet wat jou kan opvolg.  Deur een van daai drie sal Ek die mense straf.  En o ja, ek het seweduisend mense in Israel laat oorbly wat nie afgode aanbid het nie.”

Tobias:        Wat?  Dis wonderlike nuus!  Seweduisend mense?  En arme ou Elia het gedink hy is alleen.   Tannie, voel hy toe beter?

Tannie:          Ja!  Die Here het hom getroos en sterk gemaak.  Elia loop toe om sy werk te gaan doen.  Hy het vir Elisa gekry waar hy besig is om lande om te ploeg met twaalf osse wat ses ploeë trek.  Elia het geloop tot by hom en sy eie mantel op hom gegooi.

Tobias:        Haai, Tannie, het Elisa geweet wat die mantel beteken?  

Tannie:          Ja, hy het dadelik gesnap hy gaan nou ‘n profeet word.  Hy het gesê hy wil gou sy ouers gaan groet.  Elia het gesê hy kan maar gaan.  Elisa  het ook twee osse geslag en vuur gemaak met hout van die ploeë.  Hy gee toe vir sy werksmense lekker biefstuk om te eet om vir hulle te wys hy is nou klaar met die plaaswerk.  Toe het Elisa vir Elia begin volg om te leer hoe om ‘n profeet te word.

Tobias:        Dis ‘n lekker storie!  Van bang tot moedeloos tot voel hoe kom God verby!  En toe het Elia sommer weer lus vir die werk wat God vir hom gegee het.  Maats, lyk my as ons met God praat en sy Woord lees, kan Hy ons help dat die bang en die moedeloosheid sommer ver weg hardloop.

Tannie:          Netso, Tobias!   Die maats moet tog elke dag Bybel lees of die stories luister.  Net die Here kan ons regtig help met bangwees en moedeloos wees.   Maats, ons storietyd is nou om.  Kom sommer gou weer.  Maar praat intussen elke dag met ons wonderlike God.  Ons groet julle dan:  totsiens!

                                                                                    ***