Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 84: Agab en Nabot se wingerd

Carin Conradie Season 5 Episode 84

Ons lees in 1 Konings 21 van hoe Agab Nabot se wingerd in die hande gekry het.  In hoofstuk 22 lees ons van sy dood.

Send us a text

Support the show

Stories uit Kanaän 84:  Agab en Nabot se wingerd   (1 Konings 21 en 22)

 

Tobias:        Mm, mm, dit ruik lekker!  Mm, mm!  Tannie, wat is die plantjie se naam?

Tannie:          Hallo, Tobias!  Jongie, dis kruisement wat so lekker ruik!  Dis ‘n soort kruie.

Tobias:        Kruie?  Dis mos goed wat mens in kos gooi?  Tannie, het die Bybel se mense ook  kruie in hulle kos gegooi?

Tannie:          (lag) Dis nou ‘n interessante vraag!  Ja, ek is seker hulle het, want vandag se storie gaan oor iemand wat ‘n kruietuin wou hê.

Tobias:        Kruietuin?    Vertel asseblief, Tannie!

Tannie:          Koning Agab van Israel het ‘n paleis in Jisreël gehad.  Langs die paleis was daar ‘n stuk grond waar wingerd – druiwe – gegroei het.   Die stuk grond was Nabot s’n.  Eendag gaan kuier  Agab by Nabot:  “Hallo, Nabot!  Ek het gekom om besigheid te praat.  Jy weet, ek wil vir my ‘n kruietuin aanlê.   Ek sien jy het ‘n stuk wingerd hier reg langs my paleis.  Verkoop nou jou ou wingerdjie aan my?  Of, of ek kan vir jou ander grond gee met selfs beter wingerd daarop.”   Maar Nabot het gesê:  “Jammer, o koning, ek kan nie.  Die grond is my familiegrond.   Dit was my pa en my oupa s’n.”    Agab kon nie glo wat hy hoor nie!  Hy het hom opgeruk en is terug paleis toe.

Tobias:        Né?  En wat doen hy toe?

Tannie:          Julle, hy was kwaad en bedruk.  Hy wou niks eet nie.  Hy het in sy kamer gaan lê met sy gesig na die muur toe.   Sy vrou Isebel sien toe die man van haar is nou so bek-af.  Sy gaan vra toe: “En wat is hier fout?  Hoekom kom eet jy nie?”  Agab vertel haar toe van Nabot wat nie vir hom sy sin wil gee nie.  Maar die tannietjie ontplof:  “Is jy dan nie die koning van Israel nie?  Jy regeer die land en jy besluit wat gebeur hier!  Komaan, gaan eet nou en los die probleempie in my hande.  Ek sal Nabot se wingerd vir jou gee.”

Tobias:        Tannie, wat doen koningin Isebel toe? 

Tannie:          Tobias, sy gaan skryf toe briewe aan die leiers van Nabot se stad.  Sy maak asof Agab dit geskryf het.  In die briewe het gestaan: “Laat roep ‘n dag uit dat almal kan vas.  Laat Nabot reg voor in die vergadering sit.   Kry twee manne wat glad nie sleg voel oor enige jok-storie wat hulle vertel nie om regoor Nabot te gaan sit.  Hulle moet sê hulle het gehoor hoe Nabot vir God en vir die koning vloek.   Vat dan vir Nabot en gooi hom met klippe dood.”  Die leiers het presies gemaak soos Isebel se brief gesê het.    Die leiers laat weet toe vir Isebel Nabot is dood.  Sy het haastig na Agab toe gehardloop:  “Haai, my man, Nabot is dood.  Gaan vat sy wingerdjie vir jou kruietuin.”  Agab het opgespring en afgesit na die wingerd toe.

Tobias:        Tannie, dit kan nie wees nie!  Dis onregverdig!

Tannie:          Tobias, maats, julle weet dat die Here alles raaksien.   Die Here praat toe met sy profeet Elia:  “Elia, maak klaar waarmee jy besig is en gaan na Agab toe.  Hy is daar in Jisreël by Nabot se wingerd.    Jy moet vir hom sê:  so sê die Here:  “Agab?  Jy het gemoor en nou wil jy nog steel ook?   Luister wat Ek nou sê:  dieselfde plek waar honde Nabot se bloed opgelek het, gaan hulle joune ook oplek.”  Agab het uitgeroep: “Elia, my ou vyand!  Het jy my gekry?”  Elia het verder gesê wat die Here vir hom gesê het:  “Ja, ek het jou gekry!  Omdat jy jouself oorgegee het om net altyd slegte dinge te doen,  altyd afgode te aanbid, en vir Israel saam met jou te sleep, gaan die Here jou straf.  Niemand voor jou het Hom so uitgetart soos jy nie.  Daarom gaan al die mans in jou familie doodgaan.   Isebel sal ook hier in Jisreël doodgaan.”

Tobias:        Het dit gebeur,  Tannie?

Tannie:          Tobias, Agab is later in ‘n oorlog dood.  En op die plek waar hulle die strydwa uitgewas het, het die honde toe sy bloed opgelek.  Nes  Elia gesê het.

Tobias:        Het dit dadelik gebeur?

Tannie:          Nee, Tobias, luister net hoe groot God se genade is.   Toe Agab nou hoor hoe die Here hom gaan straf, was hy jammer oor wat hy gedoen het.  In daai tyd het hulle rouklere aangetrek as hulle wys hulle is hartseer.   Agab het sommer dag en nag die rouklere aangehou.  Hy wou ook niks eet nie.  Hy het heel dag met ‘n lang gesig rondgeloop.   Die Here het dit raakgesien.  Hy praat toe met Elia:  “Het jy gesien Agab is jammer oor wat hy gedoen het?  Daarom gaan Ek sy straf ligter maak.  Ek gaan nie al sy seuns en sy vrou laat doodgaan terwyl hy nog lewe nie.  Ek gaan die straf eers laat gebeur na sy dood.”

Tobias:        Tannie Carin?  Wie is soos ons God?  Ek sal sommer vir Agab dadelik iets wou aandoen, maar nee, toe hy  jammer sê toe maak God sy straf ligter! Ek kan dit nie glo nie!

Tannie:          Tobias, dis eintlik wonderlike nuus vir ons ook, want maak nie saak watter verskriklike dinge ons al gedoen het nie, as ons na Jesus kom en sê ons is jammer, sal Hy ons vergewe.  Hy wil graag hê ons moet sy kinders word!  Soms moet ons mense nog die straf op hierdie aarde dra vir die goed wat ons aanvang, maar as ons sy kinders word, hoef ons nie die groot straf eendag in die hel te kry nie.

Tobias:        Maats, al is dit die naarste storie wat ek  in ‘n lang tyd gehoor het, is ek so opgewonde oor ons fantastiese God!  As iemand van julle nog nie na Jesus toe gegaan het met jou sonde nie, gaan sommer vandag!  Praat met jou ouers of iemand daaroor.  Ons gaan nou groet, dat ons nou almal met ons wonderlike God kan gaan gesels.  Totsiens, maats!  Hoop om gou weer te kom!  Totsiens!

                                                                                              ***