Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 88: Elisa en twee wonderwerke vir vroue

Carin Conradie Season 5 Episode 88

Ons lees in 2 Konings 4 van twee wonderwerke waar God vroue gehelp het deur Elisa

Send us a text

Support the show

Stories uit Kanaän 88:  Elisa en twee wonderwerke vir vroue  (2 Konings 4)

 

Tobias:        Mmm, mmm!  Maats, hallo!  Julle moet net sien hoe mooi is die rose op tannie Carin se tafel.  En dit ruik so lekker!  Hier is rooies en geles en bloues…

Tannie:          Tobias! Hallo!  Nou jok jy!   Hier is nie blou rose nie!

Tobias:         Grappie!   Nee, maats,  hier is nie blou rose nie!  Maar ek wou sê: dis darem jammer hulle moet weer doodgaan.  Tannie, hoe het dood op aarde beland?

Tannie:          Tobias, nadat Adam en Eva ongehoorsaam was aan God, het die dood gekom.

Tobias:        Wie kan die dood wen?  Wie is sy baas?

Tannie:          God kan en het toe Jesus opgestaan het uit die dood.    In die Bybel kry ons ‘n klomp stories waar God gewys het Hy wen die dood.   

Tobias:        Tannie, wat van so ‘n storie vir vandag?  Asseblief?

Tannie:          Goed!   Julle, kom ons vertel twee wonderwerke wat God in die profeet Elisa se tyd gedoen het.  Eendag kom ‘n profeet se weduwee by Elisa kla:  “My man is dood.  Nou wil die man vir wie ons geld skuld my twee seuns vat en slawe maak.”   Elisa het gevra: “Wat het jy in jou huis?”  Die vrou het geantwoord: “Een kannetjie olie.”  Elisa gee haar toe ‘n plan: “Gaan leen al die kruike wat jy kan kry.  Vra vir al jou bure.  Leen sommer baie.  As jy klomp het, sluit jy jou deur.  Jou seuns kan die kruike aanbring en jy moet hulle vol olie gooi uit jou kannetjie en dit wegpak.”   Sy het gegooi en gegooi en gegooi.  Op ‘n stadium sê sy: “Bring nog een!”  Maar die een seun sê:  “Dis nou op, Ma!”  En julle, toe die laaste kruik vol is, toe is daar ook nie meer olie in die kannetjie nie!.

Tobias:        Tannie?  Regtig?  Dis ‘n wonderwerk!  Wat doen sy toe?

Tannie:          Elisa het vir haar gesê sy moet die olie gaan verkoop.  Dan kon sy haar skuld betaal en nog oorhê om van te lewe.

Tobias:        Jippie!  Ek hou van die storie!  Kruike en kruike olie uit een ou klein kannetjie!

Tannie:          Julle, daarna is Elisa na Sunem toe.  Daar was ‘n vrou wat almal in die dorp geken het.  Sy het vir Elisa gesê:  “Ag, kom eet hier by ons.  Ja, en elke keer as u hier verbykom, kan u hier kom eet.”   Elisa maak toe so.   Eendag sê die vrou vir haar man: “Die Elisa is mos ‘n heilige man van God.  Kan ons asseblief ‘n dakkamertjie aan ons huis aanbou?  Dan, as hy hier verbykom, kan hy bietjie daar gaan rus.  En dan sit ons daar ‘n bed in, en tafel, en ‘n stoel,  en ‘n lamp!”  

Tobias:        Bou haar man toe die kamertjie?

Tannie:          Ja, hy het.  Toe Elisa  een dag weer daar verbykom,  kon hy en sy slaaf, Gehasi, lekker bietjie daar gaan rus.    Toe Elisa nou so lekker rus, vra hy Gehasi moet die vrou gaan roep.  Sy gaan staan toe so ‘n entjie van die deur af.  Elisa het gesê: “Dankie, mevrou vir al  hierdie moeite!  Wat kan ons dalk vir jou doen?”  Maar die vrou het gesê sy is tevrede hier tussen haar eie mense.  Elisa vra toe vir Gehasi of hy kan dink aan iets wat hulle vir haar kan doen?  Gehasi het geantwoord:  “Meneer, sy het glad nie ‘n seun nie, en haar man lyk my bietjie aan die ou kant!”  Elisa vra toe Gehasi moet haar weer nader roep.  Sy kom staan toe in die kamer se deur en Elisa sê vir haar:  “Mevrou, oor ‘n jaar hierdie tyd, sal jy ‘n baba seuntjie hê.”  Die vrou het geantwoord:  “Nee, o profeet, moenie goeters sê wat nie kan waar word nie!”  

Tobias:        Tannie?  Word dit toe waar?

Tannie:          Ja, julle!   ‘n Jaar later kry sy toe ‘n babaseuntjie!    Maar die storie gaan nog aan.  Op ‘n dag loop die kind na sy pa toe by die lande.  Ewe skielik roep hy:  “Pappa, my kop!  My kop!”  Die pa het dadelik ‘n slaaf gevra om die kind huis toe te dra.  Die mamma het die kind op haar skoot laat lê, en julle, daar gaan hy dood!   Sy was so hartseer, maar sy het dadelik iets gedoen met die hartseer.  Sy het hom opgedra en op Elisa se bed gaan neersit.  Sy het nie vir haar man gesê die kind is dood nie.  Sy het net gevra vir ‘n donkie en ‘n slaaf om vinnig na Elisa op Karmelberg toe te gaan.  Haar man kon nie verstaan hoekom sy nou so haastig is nie, maar hy gee toe die slaaf en donkie.  Sy het vir die slaaf gevra om die donkie aan te jaag so vinnig as hy kon.  Toe sy so nader kom na die berg, sien Elisa haar.  Gehasi gaan vra haar  of alles reg is.  Sy  het vinnig geantwoord alles is reg, maar gaan val toe voor Elisa se voete neer.  Gehasi wou haar wegkeer, maar Elisa sê toe: “Gehasi, los haar.  Sy is vreeslik hartseer!  Die Here het dit vir my weggesteek.”  

Tobias:        Wat doen Elisa toe?

Tannie:          Elisa het vir Gehasi gestuur om sy kierie op die kind te gaan sit.  Maar die ma het Elisa gesmeek om self te kom.   Gehasi het vooruit gehardloop en die kierie op die kind gaan sit, maar hy het dood gebly!  Toe Elisa daar kom, gaan hy alleen na die kamertjie toe.  Hy bid toe tot God.  Toe gaan lê  hy bo-op die kind, sodat hy kan warm word, maar die kind bly dood.  Hy staan toe op en loop ‘n draai deur die huis, toe gaan lê hy weer op die kind.  En julle, daar nies die kind!  En nog ‘n keer en nog ‘n keer!  Sewe niese!   En hy maak sy oë oop!  Elisa roep toe vir Gehasi om die vrou te roep.  Sy  het ingekom, voor Elisa se voete neergeval, opgestaan en die kindjie opgetel en uitgeloop!

Tobias:        Tannie? Fantasies!  Wonderlik!  God het gewys wie is baas oor die dood!   Tannie, kom ons maak nou storietyd klaar dat ons almal hierdie storie vir iemand anders kan gaan vertel?  O, ons God is die Koning!  Maats, ek gaan nou dadelik loop!  Totsiens, julle!  Lekker storie oorvertel!  

Tannie:          Tobias het ‘n goeie plan!  Kom ons gaan vertel hierdie wonderlike storie wat wys hoe groot is ons God!   Totsiens, maats, tot volgende keer!

                                                                                    ***