Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 91: Die Arameërs word blind

Carin Conradie Season 5 Episode 91

In 2 Konings 6 lees ons van God wat geheime laat uitlek, geestelike oë oopmaak en oë toemaak.

Send us a text

Support the show

Stories uit Kanaän 91:  Die Arameërs word blind  (2 Konings 6)

 

Tobias:        La, la, la, la, la, la, la!  Hallo, Tannie!  Hallo, maats!

Tannie:          Hallo, Tobias!  Jy is vrolik?

Tobias:        Ja, ek is altyd so opgewonde as ek dink ons gaan weer ‘n Bybelstorie hoor!  Het tannie Carin dalk nog ‘n storie oor ‘n wonderwerk wat God deur Elisa gedoen het?

Tannie:          Ja, ek het nog een!  Hierdie keer is dit nie oor byle of kos of iemand wat gesond word nie.  Nee, dis oor geheime wat uitgelek het!

Tobias:        Het God iemand se geheime vir Elisa vertel?  O, dis snaaks!   Vertel, asseblief!

Tannie:          Tobias, maats, die koning van Aram het weer oorlog gemaak teen Israel.   Hy het vir sy soldate in die geheim gesê watter dorp hulle moet gaan aanval.  Maar toe hulle daar kom, staan die Israeliete klaar reg vir veg.  Toe besluit die koning op ‘n ander dorp, en, sowaar, die Israeliete staan reg asof hulle die geheim geweet het.  Die koning kon dit glad nie verstaan nie.  Hy roep toe sy soldate bymekaar:  “Haai julle, wie van julle gaan vertel ons geheime vir ons vyand, hmm?  Toe, toe, kom uit daarmee!”  Maar een van die soldate het geantwoord: “Nee, koning, niemand van ons vertel die geheime nie.  Dis daai profeet, Elisa, daar in Israel.  Hy weet wat U in u slaapkamer praat.  Dis hy wat nog elke keer hulle koning gewaarsku het voor ons nog eers by die plekke aangekom het.”

Tobias:        Haai, Tannie?  Regtig?  En toe?

Tannie:          Die koning is toe sommer baie vies:  “Nou waar is die profeet? Ek gaan manne stuur om hom vang.”   Hulle vind toe uit hy is in Dotan.  Die koning roep toe klomp sterk soldate  en stuur hulle in die nag met hulle strydwaens en perde.  Die oggend toe dit lig word, loop Elisa se slaaf uit die huis uit.  Toe skrik hy hom koud.  Hy het geroep:  “Ag meneer, wat gaan ons maak?  Ons hele stad is omsingel deur soldate!”

Tobias:        Nee!  Het Elisa ook geskrik?

Tannie:          Tobias, Elisa het gesê:  “Moenie bang wees nie.  Ons soldate is meer as hulle s’n.”  Die slaaf het seker nie verstaan waarvan Elisa praat nie, maar toe bid Elisa:  “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.”  En julle, toe sien die slaaf dit:  rondom hulle, oral, op die berge, was baie perde en strydwaens van vuur.”

Tobias:        O, Tannie, ek wens ek kon dit sien!  En wat gebeur toe?

Tannie:          Wel, die Aramese soldate het seker ook nie die perde en waens gesien nie, want hulle storm toe af op Elisa se huis.  Elisa bid toe dat die Here die soldate moet blind maak.

Tobias:        Blind maak, Tannie?

Tannie:          Tobias, nie blind om niks te kan sien nie, maar blind om die regte dinge te sien.  Elisa gaan toe uit en sê vir die soldate:  “Julle is op die verkeerde pad en julle is in die verkeerde dorp.  Kom ek gaan wys julle waar is die man wat julle soek.”  En daar loop Elisa voor hulle uit, uit die stad uit.  Ons dink hulle het omtrent so sestien kilometer geloop tot by die stad Samaria.

Tobias:        Het hulle nie die pad geken nie, Tannie?

Tannie:          Tobias, hulle het die pad geken, maar die Here het hulle oë toegemaak om die waarheid te sien.  Hulle dog hulle loop na Dotan, maar toe nie.  Toe hulle hulle weer kom kry, is hulle binne-in Samaria.  Daai tyd vat God die spesiale blindheid weg en hulle sien:  “O, aarde, ons is dan nou in Samaria!”  Die koning van Israel was so bly oor hierdie wonderwerk.   Die koning vra toe vir Elisa: “Aha!  Nou het ons hulle!  Kan ek hulle doodmaak?  Ja?  Kan ek?”

Tobias:        Tannie, maak hulle toe die soldate van Aram dood?

Tannie:          Nee, Tobias!  Die Here het ‘n plan gehad.  Hy wil hê almal moet weet Wie Hy is en wat Hy kan doen.  As die soldate doodgemaak sou word, sou hulle nie kon gaan vertel van die wonderwerk wat gebeur het nie.  Nee, Elisa het gesê:  “Nee, koning, hierdie manne is oorlogsgevangenes.  Gewoonlik maak ons nie oorlogsgevangenes dood nie.  Nee, sit vir hulle kos en water voor dat hulle kan eet om krag te kry om terug te gaan na hulle eie land toe.”

Tobias:        Tannie?  Doen die koning dit toe?

Tannie:          Ja!  Die koning het vir hulle heerlike kos voorgesit.  Dit was sommer ‘n groot feesmaal.  Toe hulle lekker geëet het, is hulle terug na hulle eie land toe.

Tobias:        Toe, vang hulle nie vir Elisa nie?  Toe veg hulle nie verder nie?

Tannie:          Nee, Tobias!  Die wonderwerk dat hulle so spesiaal blind geword het, en toe die lekker kos wat hulle vyand vir hulle gegee het, het gemaak dat Aram in daai koning se tyd nie weer vir Israel aangeval het nie.

Tobias:        Fantasties, wonderlik!  Hulle het nou geweet daar is ‘n God in Israel wat wonderwerke doen!  O, dis lekker-kry-lekker!  

Tannie:          En dis baie snaaks:  God maak die slaaf se oë oop vir wat hy sukkel om te sien en Hy maak die soldate se oë toe om die regte dinge te sien!

Tobias:        Ja, ons God maak partykeer sulke lekker grappe!  Maats, dis nou ‘n lekker storie om te gaan vertel!  Ek dink ek gaan nou dadelik na my maatjie toe!  Hy gaan hierdie storie baie geniet!

Tannie:          Tobias, nou maar dan groet ons jou dat jy kan hardloop.  Maats, kom gou weer vir nog lekker stories uit die Bybel oor ons Wondergod!  Mooi bly!  Totsiens, tot volgende keer!

                                                                                    ***