Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 92: Hongersnood in Samaria

Carin Conradie Season 5 Episode 92

In 2 Konings  6 en 7 lees ons hoe die Here deur sy almag Israel van hongersnood gered het in Samaria.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Stories uit Kanaän 92:  Hongersnood in Samaria   (2 Konings 6 en 7)

 

Tobias:        Aarde, nee!  Wanneer hou dit dan op?

Tannie:          Tobias, hallo?  Wat moet  ophou?

Tobias:        Tannie,  hoekom hoor ons aanmekaar van oorlog, oorlog, oorlog?

Tannie:          Tobias, Jesus het self gesê dat daar baie oorloë gaan wees voor Hy kom.  

Tobias:        En in die Bybel is net so ‘n klomp stories oor oorloë!  Het hulle ook bomme gegooi en missiele geskiet soos vandag?

Tannie:          Nee, Tobias.  Hulle het ander wrede maniere gehad van oorlog voer.  Een manier was om ‘n beleg uit te voer.  Hulle het reg rondom die stad gesit met hulle soldate vir dae en dae.  Niemand kon uitkom uit die stad of ingaan nie.

Die vyand wou hulle so honger laat word, dat hulle  die stad aan hulle oorgee.  Die koning van Aram het dit op ‘n keer met Samaria gedoen.  Die Israeliete se kos het al minder en minder geword.  Later was die kos so min, dat mense donkiekoppe begin verkoop het.

Tobias:        Wat?  Donkiekoppe?

Tannie:          Ja, julle!  Mense was so honger dat hulle tot een kilogram silwer sou betaal om tog maar ‘n donkiekop te kry om te eet.   Tobias, later was hulle so honger, dat hulle sewe en vyftig gram silwer  vir een skeppie duiwemis betaal het.  Dit is meer as een duisend rand!

Tobias:        Sjoe, Tannie!  Duiwemis?   Dan was hulle regtig honger!

Tannie:          Tobias, hulle het selfs erger dinge gedoen en het mense begin eet.  Toe koning Joram die verskriklike ding hoor, het hy sy klere stukkend geskeur.  Hy het nie geweet hoe hy sy mense kon help nie.  Hy  wou sommer al die skuld vir die slegte tyd op die profeet Elisa pak.    Hy het gesê:  “Mag die Here my doodmaak as ek nie nog vandag daai Elisa se kop gaan afkap nie!”  Toe stuur hy sy groot soldaat vooruit na Elisa en gaan sommer self ook.   Maar die Here het vir Elisa gewaarsku.  Elisa het vir die leiers by hom gesê:  “Julle, maak die deure toe, want die koning kom om my dood te maak.”  En net daai tyd, kom die koning daar aan.  Hy het vir Elisa gesê: “Ek kan nie meer hoop dat die Here ons sal help nie.  Kyk  watter slegte goed het Hy oor ons gebring!”

Tobias:        Wat sê Elisa toe?

Tannie:          Elisa het geantwoord:  “Julle, luister wat sê die Here.  More hierdie tyd sal kos baie goedkoop wees.  Julle sal vyf kilogram meel of nege kilogram gars vir net elf gram silwer kan koop.”  Die koning se groot soldaat het gesê: “Nee, nee, dit kan nie gebeur nie.  Nie eers  as die Here nou dadelik vir ons reën stuur nie.”  Elisa het hom gesê dat dit sal gebeur.  Hy sal dit sien, maar hy sal nie van die goedkoop kos kan eet nie.

Tobias:        Haai, Tannie?  Regtig?  Wat gebeur toe?

Tannie:          Tobias, daar was vier melaatses wat by die stadspoort gebly het.  Hulle het vir mekaar gesê:  “Manne, kom ons loop maar oor na  Aram toe en gee onsself oor.  Of hulle maak ons dood of ons gaan hier van honger dood.”   Hulle begin toe stap na die kamp van die soldate.  Maar, toe hulle daar kom, was hulle baie verbaas.  Die tente en perde en donkies  was daar, maar nie ‘n enkele mens nie.  Julle, die Here het ‘n  wonderwerk gedoen.  Hy het ‘n groot geraas oor die kamp van die Arameërs gestuur.  Dit het geklink soos baie perde en strydwaens en soldate wat aankom.  Hulle het gedog dis die Egiptenare en Hetiete wat hulle kom aanval.  Hulle het so bang geword, dat hulle alles net so gelos het en vinnig weggehardloop het.  Julle, die melaatses het in die eerste tent ingegaan en heerlik geëet.  Hulle het ook goud en silwer en klere daar gekry wat hulle gaan begrawe het. Hulle het ook ‘n tweede tent se goed gevat, maar toe besef hulle, hulle moet darem vir die mense van Samaria ook hierdie goeie nuus gaan vertel.

Tobias:        Maak hulle toe so, Tannie?

Tannie:          Ja, Tobias! Hulle het na die stad toe gestap en na die wagte op die mure geroep:  “Haai, haai, hoor gou hier.  Daar is niemand in die Arameërs se kamp nie.  Die tente is daar en die perde en donkies staan nog vasgemaak.”  Toe die storie by die koning uitkom, het hy gedog die soldate kruip in die veld weg en wou vir Israel vang sodra hulle in die kamp aankom.  Hy stuur toe twee strydwaens om te gaan kyk.  Die soldate het teruggekom en vertel dis alles waar.  Die leër van Aram was so bang hulle moes gehardloop het.  Hulle het tot van hulle klere langs die pad weggegooi om nog vinniger weg te kom.

Tobias:        Tannie, en was daar nog kos in die tente?

Tannie:          Ja, Tobias. Baie kos!  Die mense het die kamp bestorm en gevat wat hulle kon.  Die koning het gereël dat die kos verkoop kon word:  vyf kilogram meel of nege kilogram gars vir net elf gram silwer.   Tobias, die groot soldaat wat na Elisa toe gegaan het, moes by die poort van die stad staan om te kyk dat alles regloop.  Maar die mense het so gestorm dat hulle hom plat getrap het. So hy,  wat nie wou glo wat Elisa sê nie, het toe nooit van daai kos geëet nie.

Tobias:        Tannie!  Ons God  kan enige iets doen.   Maats, die stories in die Bybel verbaas my elke keer.   Ons God is koning!    

Tannie:          Ja, die Bybel wys ons God is koning.  Tobias, maats, ons storietyd is ongelukkig nou om.   Maar kom sommer gou weer  vir nog  stories uit die Bybel.  Ons groet julle dan tot volgende keer.  Totsiens!

                                                                                                ***