Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 95: Konings Joram en Ahasia van Juda
Israel en Juda het konings gehad met dieselfde name. In hierdie storie word twee konings van Juda se storie vertel. Ons kry dit in 2 Konings 8 en 2 Kronieke 21 en 22.
Stories uit Kanaän 95: Konings Joram en Ahasia van Juda (2 Konings 8, 2 Kronieke 21, 22)
Tobias: Abraham, Isak, Jakob, Josef, Dawid, e, Salomo, e...
Tannie: Hallo, Tobias! En as jy vandag ‘n klomp name opnoem?
Tobias: Tannie, daar is so baie name in die Bybel. Ek oefen bietjie om hulle te onthou. En vandag kry mens nog snaakser name! Beteken ons name iets?
Tannie: Ja, Tobias. Jou naam byvoorbeeld, beteken: God is goed.
Tobias: O, dis fantasties! So, miskien as ek weet wat iemand se naam beteken, onthou ek dit beter. Ja, en partykeer het mense dieselfde naam as iemand anders wat jy dalk ken.
Tannie: Dis reg! Tobias, ons praat nou so oor name: miskien kan ek vandag ‘n storie vertel van twee konings met dieselfde name as twee ander konings.
Tobias: ‘n Name-storie, tannie Carin? Ja, vertel asseblief!
Tannie: Tobias, die eerste koning se naam was Joram. Ons het al gehoor van koning Joram van Israel. Hierdie een was die seun van Josafat, koning van Juda.
Tobias: Joram! Mmm. Goed. Nou Tannie, het hy die Here gedien?
Tannie: Nee, julle, hy het nie. Hy was twee en dertig toe hy koning geword het. Hy was ag jaar lank koning. Julle, die eerste lelike ding wat ons van hom lees, is dat hy al ses sy broers doodgemaak het nadat hy koning geword het. Hy was getroud met een van Agab se dogters. Hulle twee het afgode aanbid, nes Agab. Joram het aanbiddingsplekke gebou op berge in Juda. So het hy die stamme van Juda laat sondig teen God.
Tobias: Tannie, dis verskriklik!
Tannie: Tobias, sy lewe was deurmekaar. Die Edomiete, die nageslag van Esau, Jakob se broer, het gesê hulle wil nou hulle eie koning hê. Hulle wil nie meer Juda se slawe wees nie. Toe gaan veg Joram en sy soldate teen Edom. Maar hulle moes vinnig weghardloop, anders maak Edom hulle almal dood. Nog ander mense van Libna, het ook gesê hulle wil nie meer Juda se slawe wees nie. Ons lees in 2 Kronieke dat dit so gebeur het omdat Joram nie die Here gedien het nie.
Tobias: Tannie, nou wat het die Here daarvan gesê?
Tannie: Tobias, die profeet Elia het vir Joram ‘n brief geskryf. Daarin het gestaan: “So sê die Here, die God van Dawid: omdat jy nie die Here jou God dien soos jou pa en oupa nie, gaan baie slegte dinge met jou gebeur. Jy gaan al jou besittings en jou vrouens en jou kinders verloor. Jy gaan ook baie siek word.”
Tobias: Tannie, het dit toe gebeur?
Tannie: Ja, julle! Die Filistyne en Arabiere het Joram se vyande geword. Die Here het dit so laat gebeur. Hulle het vir Juda ingeval en al die mooi goed uit die paleis gevat. Hulle het ook al die vrouens en seuns van Joram gevat. Net een seun het oorgebly. Net ‘n tydjie daarna het Joram ook ‘n vreeslike, aaklige siekte in sy maag gekry. Na twee jaar is hy daaraan dood. Die mense het nie oor hom getreur soos hulle gewoonlik oor konings getreur het nie.
Tobias: Ai, dis hartseer, Tannie! Het God toe die koningskap van hom af weggevat?
Tannie: Nee, Tobias. Ons lees dat die Here gedink het aan sy belofte aan Dawid dat daar altyd iemand van sy nageslag koning sal wees in Juda. So, sy seun, Ahasia het na hom koning geword. Hy was die enigste een wat nie deur die vyand doodgemaak is nie.
Tobias: Tannie? So al was Joram ‘n slegte koning, het die Here nog steeds sy belofte aan Dawid gehou? Mensig! Ons God is so goed vir mense! Tannie, vertel bietjie van koning Ahasia?
Tannie: Tobias, ons het al vertel van ‘n koning Ahasia van Israel. Hierdie Ahasia was koning van Juda. En kan jy my nou glo: hy het ook nie die Here gedien nie! Sy ma was Atalia, ‘n dogter van koning Agab. Sy het vir Ahasia baie verkeerde raad gegee. Koning Ahasia het ook slegte raad by sy raadgewers gekry. Hulle het gesê hy moet vir koning Joram van Israel gaan help veg teen die Arameërs. Joram van Israel word toe gewond. Ahasia het vir hom gaan kuier toe hy so siek was. Maar juis toe hy daar by Joram kom, het die Here iemand gestuur wat sommer die hele nageslag van Agab sou uitwis. Sy naam was Jehu. God het al voorheen vir Elia gesê dat Jehu later koning sal word. Jehu het van Ahasia se familie doodgemaak en toe ook later vir Ahasia. Ahasia was net een jaar lank koning in Juda.
Tobias: Mensig! Sy lewe was net so deurmekaar! En wie word toe koning van Juda?
Tannie: Tobias, daar was toe niemand uit Ahasia se huis wat kon koning word nie. Ons sal in ons volgende storie vertel wat het toe gebeur.
Tobias: Tannie, ek is nou skoon deurmekaar met die Jorams en Ahasias: so Israel en Juda het konings gehad met daai name? Ek dink ek sal dit onthou! Maar Tannie, ek is darem nou baie nuuskierig wie word toe koning van Juda! Die Here het dan belowe daar sal altyd iemand uit Dawid se kinders se kinders wees wat koning is?
Tannie: Tobias, maats, en God hou altyd sy beloftes! Altyd! So, julle moet maar weer gou kom om te kom luister hoe het God toe sy belofte gehou.
Tobias: Maats, dan moet ek nou groet dat die tyd vinnig kan omgaan na die volgende storie se tyd. (lag) Ek is baie nuuskierig om te hoor watter planne ons God gemaak het! Sy planne is fantasties! Maats, tannie Carin, ek groet dan. Totsiens, tot volgende keer!
***