Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 96: Joas word koning oor Juda
In 2 Konings 11 en 2 Kronieke 22 en 23 lees ons hoe God sy belofte gehou het dat daar weer iemand uit die nageslag van Dawid op Juda se troon sit. Die storie van die jong koning Joas.
Stories uit Kanaän 96: Joas word koning oor Juda (2 Konings 11 en 2 Kronieke 22 en 23)
Tannie: Hallo, Tobias! Hallo, maats!
Tobias: Hallo. Tannie Carin. Tannie, Tannie, onthou: beloftes maak skuld!
Tannie: Tobias, wat wil jy vir my sê?
Tobias: Tannie het belowe om te vertel wie het koning geword na koning Ahasia. Maar eintlik is dit die Here wat belowe het dat iemand van Dawid se kinders se kinders gaan koning word! Tannie, het die Here baie dinge in die Bybel belowe?
Tannie: Tobias, maats, party mense sê hulle het omtrent drieduisend vyfhonderd beloftes in die Bybel getel. Ander sê daar is seweduisend beloftes!
Tobias: Sjoe! Dis baie! Tannie, het God hierdie belofte gehou?
Tannie: Ja, Tobias, Hy het! Hy kom altyd sy beloftes na. Kom ek vertel wat het met hierdie belofte gebeur. Julle sal onthou dat koning Ahasia se ma, Atalia, vir hom sulke verkeerde raad gegee het. Ons het vertel dat Ahasia dood is. Julle, en toe Atalia dit hoor, dink sy: “Net die regte tyd dat ek koningin kan word.” En toe doen sy ‘n vreeslike ding: sy het al die seuns van Ahasia doodgemaak. So was sy toe vir ses jaar lank koningin van Juda.
Tobias: Maar Tannie, wat van die belofte?
Tannie: Tobias, maats, die dag wat Atalia al die prinse wou doodmaak, het prinses Jehoseba, Ahasia se suster, ‘n baie slim ding gedoen. Sy het een van die klein prinsies wat net een jaar oud was, gegryp en vinnig weggehardloop met hom. Sy naam was Joas. Sy het ook sy oppasser saamgevat. Jehoseba was getroud met die priester, Jojada. Hulle twee het vir klein Joas en sy oppasser ses jaar lank weggesteek in die tempel.
Tobias: Haai, regtig? En Atalia het hom nie gekry nie?
Tannie: Nee, sy het nie. Julle, maar toe in die sewende jaar het priester Jojada besluit om iets te doen. Hy het eers al die Leviete wat in die tempel gewerk het, bymekaar laat kom. Hy het vir hulle mooi vertel wat sy plan was: “Leviete, hierdie is Joas, seun van Ahasia. Hy moet koning word volgens die belofte aan Dawid. Julle moet julleself nou in drie groepe opdeel. Een groep gaan wagte wees by die een poort; die ander by die paleis en die ander hier by die tempel. Julle moet heeltyd baie mooi kyk na Joas. Niemand mag naby hom kom om hom seer te maak nie. En o ja, hier is spiese en skilde van koning Dawid in die tempel. Elkeen moet ‘n wapen vat en by hom hou.”
Tobias: Doen hulle dit toe, Tannie?
Tannie: Ja, Tobias. Hulle het wag gestaan rondom Joas. Toe bring Jojada hom vorentoe. Hy en sy seuns het hom gesalf met olie op sy kop. Toe kroon hulle hom as koning. Almal roep toe uit: “Lank lewe die koning!” En daar begin hulle hande klap, trompette blaas, ander musiekinstrumente bespeel en sing. Hulle was so vrolik en bly. Maar julle, Atalia het gehoor daar is nou iets groots aan die gang daar by die tempel. Sy gaan toe van die paleis af tempel toe. Toe sy daar kom, sien sy wat gaan aan: hier staan klein Joas, sewe jaar oud, en hy het sopas die nuwe koning geword!
Tobias: Wat doen sy toe, Tannie?
Tannie: Sy het die klein koning net een kyk gegee en geskreeu: “Verraad, verraad!” Dit beteken amper iets soos “verraai”. Julle, en daar gee Jojada die opdrag aan die Leviete: “Ons mag nie iemand hier in die tempel doodmaak nie. Gaan agter Atalia aan en maak haar daar by die paleis dood.” Dit was dan die einde van Atalia.
Tobias: En nou was daar ‘n splinternuwe jong koning volgens God se belofte?
Tannie: Tobias, Joas was net sewe jaar oud toe hy koning geword het. Hy was op die ou end veertig jaar lank koning van Juda. Julle, daai dag by die tempel het priester Jojada ‘n verbond gesluit tussen die Here en die koning en die volk. Die verbond het gesê dat die volk belowe om die Here se volk te wees. Daar is ook ‘n verbond gesluit tussen die volk en die koning. Hulle vat hom toe en gaan sit om op die troon neer in die paleis.
Tobias: Jippie! ‘n Nuwe koning! Jippie! God het sy belofte gehou! Tannie, het koning Joas die Here gedien?
Tannie: Tobias, die dag met sy kroning het al die mense van Juda gestorm na die tempel van die afgod Baäl. Hulle het die afgodspriester doodgemaak en die hele tempel afgebreek. Hulle het ook al die altare en beelde stukkend gebreek. Die priester Jojada het mooi vir Joas geleer hoe moet hy koning wees. Al die jare wat hy deur Jojada geleer is, het hy by die Here gebly. Daar was net altare op die hoë berge wat hy nie afgebreek het nie.
Tobias: Fantasties, wonderlik! Tannie, was die mense nou bly?
Tannie: O ja! Al die mense van Juda was nou baie bly. Atalia wat afgode gedien het, was dood. Die stad Jerusalem was weer rustig. En hulle het ‘n nuwe koning gehad wat die Here dien.
Tobias: Dankie Tannie vir die lekker storie! God het sy belofte gehou! En Tannie ook! (lag) Maats, dis lekker om stories te hoor waar mense weer vir ons God begin luister. Jippie! Ek is so bly! Dis ‘n lekker oorvertel storie! Ek gaan julle nou groet om vir iemand te gaan vertel! Totsiens, julle, totsiens!
Tannie: Ek groet ook, tot volgende keer! Totsiens, almal!
***