Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 99: Konings Joahas en Joas van Israel

Carin Conradie Season 5 Episode 99

In 2 Konings 13 lees ons van twee konings van Israel en van Elisa wat gesterf het.  In hierdie storie kom God se genade en sy krag so duidelik na vore!

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Stories uit Kanaän 99: Konings Joahas en Joas van Israel   (2 Konings 13)

 

(Hond blaf)

Tobias: Nee, my hondjie, nee!  Tannie Carin, hoe kan ek vir my hondjie sê ek is sy baas?  Hy moet luister as praat.

Tannie: Hallo, Tobias!  Mmm, jy kan vir hom sê:  “Hier kraai ek koning.”

Tobias: Kraai koning?  (lag)  Nee, Tannie, regtig?  Sê mens so?  Dis snaaks!  (lag) Kraai koning!  (lag)   Maar Tannie, dit laat my nou sommer dink:  ons het al baie stories van konings vertel.  Is daar nog koningstories oor?

Tannie: Tobias, maats, ons is nou maar omtrent eers in die helfte van die lys van konings van Israel en Juda.  Ja, daar was in totaal twee en veertig konings, maar een van hulle was ‘n koningin.  

Tobias: O, lekker! So ons gaan vandag weer ‘n koningstorie hoor?

Tannie: Ja, Tobias.   Ek wil julle herinner aan koning Joahas van Israel.   Hy was glad nie lief vir die Here nie.  Toe straf die Here vir Israel en stuur vir koning Gasael van Aram.  Hy was so woes en lelik met hulle, dat hy omtrent al hulle soldate uitgewis het.  Toe roep Joahas na die Here:  “Ag, Here, help ons tog!  Kyk wat doen Aram aan ons!”  

Tobias: Het die Here gehoor, Tannie?

Tannie: Ja, Tobias!  Hy het gesien die konings van Aram is darem baie lelik met Israel. Hulle was so bang, hulle kon nie eers in hul eie huise bly nie.   Die Here het toe ‘n redder gestuur wat hulle gehelp het.  Toe kon hulle teruggaan na hulle eie huise!  Tobias, die Joahas was ‘n dapper koning.  Na sy dood het sy seun Joas koning geword.  En hier is nogal ietsie interessant.    Nou, vir ‘n hele paar jaar, was daar konings met dieselfde naam in Juda en in Israel:  koning Joas.

Tobias: (lag)  Dis snaaks:  koning Joas van Israel en koning Joas van Juda.  Tannie, was Joas van Israel lief vir die Here?

Tannie: Ai, Tobias, ek is nou so jammer ek moet dit sê:  nee, hy was nie.  Hy het dieselfde sondes gedoen as koning Jerobeam jare gelede.  

Tobias: En het die Here hom gestraf?

Tannie: Tobias, in Joahas en Joas se lewe kan ons weer vandag sien hoe goed God vir mense wil wees.  Ja, hulle het afgode aanbid, maar toe hulle na God roep, toe dink Hy aan sy belofte aan Abraham en Isak en Jakob.  

Tobias: Regtig?  Vertel bietjie?

Tannie: Tobias,  in Joas se tyd het die profeet Elisa baie siek geword.  Hy was nou al ‘n ou man en dit het gelyk of hy een van die dae gaan doodgaan.   Joas het dit gehoor en het by hom gaan kuier.  Toe hy hom sien het hy gehuil en gesê:  “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters.”

Tobias: Dit was dieselfde woorde wat Elisa vir Elia gesê het!

Tannie: Ja, Tobias, dis reg!  Ek onthou dit ook nou.

Tobias: En wat sê Elisa toe?  

Tannie: Elisa het gevra Joas moet met sy pyl en boog daar by hom kom staan.  Elisa sê toe: “Sit jou hand op die boog.”  Daarna sit Elisa sy hande bo-oor die koning s’n.  Hy vra toe iemand moet die venster aan die oostekant oopmaak daar na Aram se rigting.  Elisa sê toe:  “Skiet!”  Toe die koning die pyl so by die venster uitskiet, sê Elisa:  “Die pyl van die Here se oorwinning oor Aram.  Jy sal vir Aram in Afek verslaan.”

Tobias: Haai, en toe Tannie?

Tannie: Julle, Elisa vra toe koning Joas moet die pyle vat en op die grond slaan.  Joas slaan toe die pyle drie keer op die grond.   Maar ai, die ou profeet is toe sommer kwaad: “Hoekom het jy net drie keer geslaan?  Aggenee, man!  Jy moes meer kere geslaan het, dan sou jy vir Aram heeltemal gewen het.  Nou gaan jy hom net drie keer wen.”  Daarna het Elisa gesterf en is hy begrawe.

Tobias: Tannie?  En het dit gebeur wat Elisa gesê het?

Tannie: Ja, Tobias.  Koning Gasael van Aram is oorlede en sy seun Ben-Hadad het koning geword.  Die Here was in daai tyd so goed vir koning Joas.  Joas het klomp van die stede wat Gasael afgevat het, weer teruggekry vir Israel.   Joas het drie keer vir Ben-Hadad gewen; nes Elisa gesê het.

Tobias: Tannie, dis fantasties dat ons so ‘n fantastiese genadige God het.

Tannie: Dit is, Tobias!  God is genadig as ons na Hom roep!

Tobias: Tannie, ek is nou nogal jammer ons gaan nie weer van Elisa hoor nie.

Tannie: Mmm… miskien het ons nog een klein storietjie oor hom!

Tobias: Maar hy was dan nou al dood, Tannie?

Tannie: Juis!   Julle, na Elisa se dood het bendes van Moab baie keer vir Israel ingeval. Op ‘n dag was mense besig met ‘n begrafnis.   Hulle was oppad om die mens mooi rustig te gaan begrawe.  Maar o wee, hulle sien toe hier kom nou ‘n bende aan.  Hulle moes nou vinnig wegkom.  Maar wat van die liggaam?  Wat nou?  Julle, hulle was naby die graf van Elisa.  Hoe dit gewerk het, weet ek nie, maar hulle besluit dis die vinnigste om nou sommer hierdie liggaam in Elisa se graf te gooi.    Tobias, maats,  die oomblik toe die lyk aan Elisa se beendere raak, toe raak daai man lewendig en staan regop.

Tobias: Wat?  Nee!  Maak Tannie ‘n grappie?

Tannie: Nee, Tobias!  Sowaar, sowaar!  

Tobias: (lag)  O, ek is so bly!  Dit wys wie is Elisa se God.  En Hy is ons God ook!  Jippie, jippie, jippie!!  Maats, dis nou ‘n lekker storie!  Die Here is genadig!   En Hy kan tot dooie bene gebruik om ander mense lewendig te maak!   Dis ‘n storie wat ek nou gaan oorvertel!  Maats, ek moet nou groet!  Ons kom gou weer!  Totsiens!

Tannie: Maats, ek groet ook dan tot volgende keer wat ons nog wonderlike stories wil vertel van ons Wonder God!  Totsiens, almal!

***