Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 101: Ses konings van Israel
Hierdie storie gaan oor ses van Israel se konings. Nie een het die Here gedien nie. Tog sien ons steeds die Here se goedheid en genade in die stories. Ons lees dit in 2 Konings 14 en 15.
Stories uit Kanaän 101: Ses konings van Israel (2 Konings 14 en 15)
Tobias:Ggggg, rrrrr, ggggr! O, aarde!
Tannie:Tobias? Hallo! En as jou groen gesiggie glad rooi is vandag?
Tobias: Hallo, julle! Ek is nou so kwaad! Ek wil sommer ontplof! O, mense kan my so kwaadmaak, Tannie! As ek God was, sou ek mense sommer wou dooddruk met my een groen vinger!
Tannie:Tobias, ek kan sien jy voel baie kwaad! Ek verstaan ook die ding van dooddruk! Wil jy vir ons vertel hoekom is jy so kwaad?
Tobias:Tannie Carin, nee wat. Ek gaan nie nou vertel nie. Ek dink vandag se storie gaan my help om af te koel. Net gou bietjie asemhaal: mmm, aaa, mmm, aaa, mmm, aaa! Goed! Waaroor gaan vandag se storie?
Tannie:Tobias, ek het juis ‘n storie oor God se groot genade. Julle, dit lyk vir my asof die konings van Israel omtrent almal teen God gekies het. Ek het sommer ‘n lys van ses konings waarvan ek vandag wil vertel. Die eerste een se naam was Jerobeam die Tweede, seun van koning Joas. Hy het een en veertig jaar oor Israel geregeer.
Tobias:En Tannie sê hy was nie lief vir die Here nie?
Tannie:Nee, julle! Hy het net soos die eerste koning Jerobeam afgode aanbid. Dit het baie swaar gegaan met Israel in daai tyd. ‘n Profeet, Jona, het gesê dat die Here gesien het hoe vreeslik swaar kry Israel en dat hulle sonder ‘n helper is. Maar die Here het gesê Hy sal nog nie die naam van Israel wegvat nie, Hy wou hê Israel moes weer terugkom na Hom toe. Hy sou Israel red deur Jerobeam. God het vir Jerobeam gehelp om dapper te veg om van hulle dorpe terug te kry wat die vyande voorheen afgevat het.
Tobias:Dis wonderlik, Tannie! God is so goed en genadig! Hy het hulle nog tyd gegee!
Maar Tannie het gepraat van nog konings?
Tannie:Ja, Tobias. Na Jerobeam het sy seun Sagaria koning geword. Hy het ook nie die Here liefgehad nie. Julle, in koning Jehu se tyd het die Here gesê dat daar slegs vier van sy kinders en kleinkinders sou koning word. Hierdie koning Sagaria was nou die laaste van Jehu se nageslag. Hy was net ses maande lank koning. ‘n Man, Sallum, het mense begin opsweep teen Sagaria. Hulle staan toe saam en maak vir Sagaria dood sommer daar voor die mense.
Tobias:Sjoe, Tannie? En toe word Sallum koning?
Tannie:Ja, maar die Sallum was net een maand en ‘n paar dae koning. Toe het Menahem vanaf die stad Tirsa getrek na Samaria toe. Dit klink of hy sommer baie moeilikheid gemaak het daar in Tirsa. Hy was ‘n baie wrede man! Toe Menahem in Samaria kom, maak hy koning Sallum dood en word koning van Israel.
Tobias:Sjoe! Die konings volg so vinnig opmekaar! Tannie, en hoe lank regeer Menahem toe?
Tannie:Tobias, hy was darem tien jaar lank koning van Israel. Die Menahem was slim. Koning Pul van Assirië het vir Israel ingeval. Toe betaal Menahem vir hom klomp geld om tog weg te gaan uit sy land.
Tobias:Was hy dan ‘n ryk koning, Tannie?
Tannie:Kan wees, Tobias. Maar Menahem het ook swaar belastings opgelê op die hele Israel. Elke man moes vyf honderd en sewentig gram silwer betaal sodat hulle vir koning Pul kon betaal.
Tobias:Eina! So klink my daar was vrede, maar hulle moes daarvoor betaal!
Tannie:Net so, Tobias! Toe Menahem dood is, het sy seun Pekahia koning geword. Hy het ook nie die Here gedien nie! Nadat hy twee jaar koning was, het een van sy eie soldate, Peka, vyftig manne bymekaar gekry. Hulle het vir Pekahia in die toring van sy paleis aangeval. So het Peka dan toe koning geword.
Tobias:Peka! En wat het hy gedoen?
Tannie:Peka was vir twintig jaar lank koning. Hy het ook nie die Here liefgehad nie. In koning Peka se tyd het die koning van Assirië ‘n klomp mense van Israel gevang en na hulle land toe weggevoer.
Tobias:Dit was seker omdat Israel nie die Here gedien het nie?
Tannie:Ja, Tobias, die Here het baie profete gestuur om hulle te waarsku.
Tobias:En na Peka, Tannie? Het sy seun koning geword?
Tannie:Nee, Tobias. Sy seun kon nie koning word nie, want ‘n ene Hosea het Pekaaangeval en toe koning geword oor Israel. Ons sal in ‘n ander storie bietjie meer vertel van koning Hosea.
Tobias:Tannie! Dis darem baie erg dat nie een van hierdie ses konings die Here gedien het ! Ek sou hulle doodgedruk het met my groen vinger, maar die Here was hulle nog genadig! En party het sommer lank geregeer!
Tannie:Tobias, maats, die Here was hulle genadig omdat Hy hulle nog tyd wou gee om terug te kom na Hom toe. So wys God tot vandag toe hoe groot en wonderlik Hy is.
Tobias:En Tannie, Hy weet wat is die beste vir ons, al dink ons dalk dit is sleg.
Tannie:Jy is reg. Tobias, voel jy nog steeds so kwaad soos netnou?
Tobias:Nee, Tannie. Die storie het my help afkoel. En eintlik het ek gedink dat ek ook meer goed vir mense moet wees soos ons God.
Tannie:Ja! En so sien mense dat God goed is. Dalk word hulle dan ook lus om vir Hom te kies!
Tobias:Tannie, lekker! So kan selfs ‘n nare storie soos vandag s’n help dat mense kan sien hoe goed is ons God! Maats, ek gaan nou groet, dat ek kan gaan praat met die mens vir wie ek so kwaad was. Dankie vir die storie, Tannie!
Tannie:Tobias, maats, ek groet dan ook tot volgende keer! Onthou dat God goed is. Hy wil ons na Hom toe trek deur sy baie genade. Totsiens dan, almal, tot volgende keer! Totsiens!
***