Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 102: Konings Asarja en Jotam van Juda
In 2 Konings 15 en 2 Kronieke 26 en 27 lees ons van die pa en seun: Asarja en Jotam van Juda. Asarja het op 'n stadium die Here vergeet, maar Jotam het Hom getrou gedien tot hy oud was.
Stories uit Kanaän 102: Konings Asarja en Jotam van Juda (2 Kon 15 en 2 Kron 26, 27)
Tobias: Hallo, almal! Tannie , begin sing: een, twee, drie:
Beide: Ons sê baie, baie dankie, ons sê baie, baie dankie, ons sê baie, baie dankie, ja, baie dankie!
Tobias: Maats, ek en tannie Carin wil vir ‘n slag baie dankie sê vir almal wat die Bybelstories luister.
Tannie: En?
Tobias: En ja, baie, baie, baie dankie vir almal wat vir ons ondersteun.
Tannie: Ja, maats, ons wil vir die van julle wat ons elke maand help, so baie dankie sê. Ons wil ook sê dat indien daar dalk van die ouers is wat ons wil ondersteun, die proses is baie maklik; op ons blad waar die stories is, is woorde: support the show. As mens daarop druk, kom jy weer by ons foto uit. In die regterkant bo, langs die woord: follow, is ‘n dollar teken.
Tobias: As mens daarop druk, kan jy sê met hoeveel jy elke maand vir ons kan help.
Tannie: Maar Tobias, die belangrikste is, dankie vir almal wat saam met ons bid dat ons die stories mooi kan vertel.
Tobias: Dankie, almal! Tannie, en nou wil ek so graag ‘n nuwe storie hoor!
Tannie: Tobias, ek het ‘n storie saamgebring. Ons gaan van twee konings van Juda vertel. Die een koning het sommer twee name gehad: Asarja en Ussia.
Tobias: Dis snaaks! Twee name? Was hy lief vir die Here?
Tannie: Ja, hy was! Hy was sestien toe hy koning geword het, en het twee en vyftig jaar lank geregeer. Hy het vir baie jare die Here mooi gedien. ‘n Man met die naam Sagarai het hom daarmee gehelp.
Tobias: Fantasties! Wat weet ons nog van koning Asarja-Ussia?
Tannie: Hy het die Filistyne gewen en stede gebou in hulle gebied. God het hom help veg teen die Arabiere en die Meuniete en die Ammoniete. Die Ammoniete het vir hom groot geskenke gebring. Hy was bekend tot in Egipte. Hy het sterk torings in die muur van Jerusalem gebou. En ons weet ook waarvoor hy lief was.
Tobias: Haai! Waarvoor was hy lief?
Tannie: Hy was lief vir boer en vir die grond. Hy het baie skape, beeste en wingerde gehad. Hy het sterk torings in die weivelde laat bou en putte laat grawe vir water vir sy baie vee.
Tobias: Was hy ‘n slim koning?
Tannie: Ek dink so. Hy het ook baie slim mense gehad in Jerusalem wat wonderlike oorlogwapens uitgedink het. In sy tyd het hulle die eerste soort masjien gemaak wat klippe en pyle van die mure af kon skiet. Hy het ook ‘n groot leër gehad. Ons dink dat soldate voor daai tyd maar met hulle eie wapens moes veg. Maar koning Ussia het vir elke soldaat ‘n skild, spies, helm, harnas, pyl, boog en klippe vir hul slingervelle gegee.
Tobias: Dit klink of hy ‘n belangrike koning was?
Tannie: Hy was belangrik, maar het vergeet die Here het hom so belangrik gemaak. Hy het nou baie vol van homself geword. Op ‘n dag wou hy sommer self die wierookoffer in die tempel bring. Hy het al die pan met die wierook in sy hand gehad toe die priester na hom roep: “Koning, u mag nie die offers bring nie. Net die priesters mag dit doen. Gaan liewer nou maar uit die tempel uit.” Maar julle, die Ussia vervies hom en begin skel sommer op die priesters. En toe gebeur ‘n vreeslike ding!
Tobias: Wat het gebeur?
Tannie: Tobias, daar voor die priesters, breek daar melaatsheid op Ussia se voorkop uit. Almal het hulle asvaal geskrik. Gewoonlik was melaatsheid baie aansteeklik. Dadelik het die priester gesê: “Koning, jou voorkop! Jy moet nou dadelik die tempel verlaat! Jy kan nie hier staan met melaatsheid nie.” Die koning het die pan gelos en so vinnig as wat hy kon daar weggekom. Julle, hy was melaats tot sy dood toe. Hy het in ‘n huisie eenkant gebly en kon nooit weer in die tempel kom nie. Hy is ook nie in die familiegraf begrawe nie, omdat die mense gesê het hy was melaats.
Tobias: Ag, maar dis nou jammer, Tannie! Hy moes nie vergeet het die Here het vir hom gesorg nie! En na sy dood? Wie word toe koning?
Tannie: Tobias, sy seun Jotam het na hom koning geword. Hy was ook lief vir die Here. Hy het net soos sy pa, gevra wat wil die Here hê hy moet doen. Maar gelukkig, het hy nooit in die tempel probeer offers bring nie.
Tobias: Wonderlik! Hoe oud was hy toe hy koning geword het?
Tannie: Tobias, hy was vyf en twintig. Hy was sestien jaar lank koning. Hy het ook stede gebou; aan die muur van Jerusalem gewerk en die Ammoniete gewen. Hulle moes toe groot belastings vir drie jaar na mekaar aan Jotam betaal. In sy tyd het daar ook ander konings vir Juda begin aanval. Dalk was dit omdat ‘n groot deel van die volk nog steeds afgode aanbid het.
Tobias: Maar het die koning vir die Here liefgehad tot hy oud was?
Tannie: Ja, Tobias. Die Here het vir Jotam ‘n magtige koning gemaak, omdat hy altyd gevra het wat die Here wil hê hy moes doen.
Tobias: Ag, dis darem baie lekker om van so ‘n koning te hoor! Een wat die Here liefgehad het! En toe bederf die Here hom sommer baie!. Lekker, lekker!
Tannie: Ja, dit is lekker om so ‘n storie te vertel. Ons kan onthou dat dit nie altyd sal goedgaan met God se kinders nie, maar Hy sal altyd vir hulle help en op die ou end die beste ding laat gebeur!
Tobias: O, ek wil graag die Here se wil doen! Maats, ek hoop julle ook? Ek dink op hierdie noot gaan ons vandag se storie-tyd nou klaarmaak. Maats, ons wil sommer gou weer kom vir nog heerlike stories! Totsiens, totsiens!
***