Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 105: Hiskia word koning van Juda

Carin Conradie Season 5 Episode 105

Ons begin lees van Hiskia, want naas Dawid, een van die getrouste konings was.  Hy het die tempeldiens weer herstel.  Ons lees dit in 2 Konings 18 en 2 Kronieke 29 tot 31.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Stories uit Kanaän 105:  Hiskia word koning van Juda  (2 Kon 18 en 2 Kron 29 - 31)

 

(musiek speel)

Tobias:Hallo, tannie Carin!  Dis lekker vrolike musiek!   Wat is dit?  

Tannie:Hallo, julle!  Tobias, hou jy daarvan?  Dis sommer ‘n stukkie  wat ons  laat dink aan musiek uit Israel, want ons het ‘n lekker vrolike storie vir vandag!

Tobias:Lekker!  ‘n Vrolike storie?  Is dit dalk oor ‘n koning wat gedoen het wat reg is?

Tannie:Ja!  Ons gaan begin vertel van Hiskia van Juda.  Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het.   Vandag gaan ons vertel hoe hy die tempel laat skoonmaak het.   Hiskia het die Here liefgehad, net soos koning Dawid.  Ons dink ook dat sy ma, Abi en sy oupa, Sagaria,  die Here liefgehad het.  Die eerste maand nadat hy koning geword het, gaan maak hy die deure van die tempel oop en laat maak die stukkende plekke reg.  Toe laat roep hy al die priesters en Leviete.  Hulle het vir jare nie meer in die tempel gewerk nie.    Hiskia sê toe:  “Priesters en Leviete, gaan was julleself soos wat Moses neergeskryf het.  Dan begin julle om die tempel skoon te maak.  Alle vullis moet  uit!  Ons pa’s en oupas het nie reggedoen nie.  Dis hoekom dit so sleg gaan met ons.  Maar ek wil vir God belowe dat ons nou weer offers sal bring.”  Julle, en toe begin werk daai manne!  Vir sestien dae het hulle geskrop en geskuur en verkeerde goed weggevat uit die tempel uit.  

Tobias:Mooi!  En toe alles nou skoon en reg was?

Tannie:Tobias, toe kry koning Hiskia al die belangrike mense bymekaar.  Hulle het na die tempel toe gegaan met offers vir die Here:  sewe skaapramme, sewe lammers en sewe bokramme.  Die priesters moes dit offer om vir die Here te vra om asseblief die sondes van die koningshuis en Juda en Israel te vergewe.   Voor die offers begin bring is, het Hiskia die Leviete bymekaar laat kom in ‘n orkes.  Daar was simbale, harpe en liere.  Die priesters het die trompette gehad.  Net toe die offer op die altaar gesit is, moes hulle begin speel en sing.   (musiek speel)    Dit was ‘n vrolikheid!  Die hele volk het gebuig.  Die orkes het gespeel tot die offers klaar gebring is.  

Tobias: Fantasties, Tannie!  Ek wens ek kon dit hoor!

Tannie: O, ja, ek ook Tobias.    Julle, maar dit gaan toe net aan.  Die volk het ook offerdiere gebring,  maar daar was te min priesters om die drie duisend nege honderd en sewentig diere te slag!  Die Leviete het toe maar ingespring en gehelp.   Hulle moes op ‘n sekere manier skoongewas wees voor hulle ‘n offer kon bring.  Klink of die priesters bietjie luier as die Leviete was met die wassery.  Dis die dat daar meer Leviete was wat die werk kon doen.  

Julle, Hiskia wou ook dat hulle weer die paasfees vier.  Hy het hardlopers gestuur om deur die hele land te gaan: van Dan tot by Berseba.  Hulle is na Juda en wat oorgebly het van Israel nadat die Assiriërs ‘n klomp mense weggevoer het.  Die hardlopers se boodskap was:  “Israeliete, kom terug na die Here God.  Doen wat Hy vra.  Moenie hardkoppig wees nie.   Dan sal die Here ook weer goed wees vir ons mense wat weggevoer is, dat hulle kan terugkom.  Die Here is goed en genadig.”

Tobias: Tannie, het die mense geluister?

Tannie: Julle, party van die mense van Efraim en Manasse het hulle uitgelag.  Maar ander uit Manasse,  Aser en Sebulon het tog jammer begin voel en wou terugkom na die Here toe.    Toe gaan hulle na Jerusalem toe om fees te vier. Soos hulle inkom het hulle al die verkeerde altare afgebreek en by hulle groot vuilgoedgat, die Kedrondal, gaan ingooi.  Die mense het offerdiere gebring en die Leviete en priesters moes weer mooi was om die diere te offer.  Julle, die mense wat gekom het, moes hulleself ook op ‘n spesiale manier was voor hulle van die offers eet.   Maar party het nie.

Tobias: Oepsie!  Het die Here hulle gestraf?

Tannie: Julle, Hiskia het besef hier is ‘n klomp mense wat nie gewas het nie.  Toe het  hy vir hulle gebid:  “Ag Here, hier is mense wat U wil wil doen, maar hulle doen nou nie alles heeltemal reg nie.  Sal U hulle daarvoor vergewe, asseblief.”  Die Here het sy gebed verhoor en hulle nie gestraf nie.   Toe vier die Israeliete fees vir sewe dae.  En toe sommer vir nog sewe dae.   Almal was so opgewonde, want daar is laas in Salomo se tyd so lekker feesgevier.

Tobias: Tannie, het hulle weer gesing en musiek gemaak?

Tannie: O ja, hulle het.  En dit klink my die musiek  was nou sommer nog mooier, want Hiskia het vir die Leviete gesê:  “Julle Leviete, mensig, maar julle speel goed en julle sing so mooi!  Dankie dat julle dit vir die Here doen.”  

Tobias: Is almal na die twee weke weer huistoe?

Tannie: Tobias, nee!  Na die fees het die mense oral na die stede van Juda gegaan en al die klippilare, gewyde pale, hoogtes en vreemde altare stukkend gebreek.  Eers toe is hulle huis toe.  

Tobias: Wonderlik!  Het die priesters en Leviete toe elke dag offers gebring en gesing?

Tannie: Ja, julle!   Die volk is geleer dat hulle vir die priesters en Leviete moes sorg.  Hulle het begin om baie kos te bring.  Later was daar hope en hope koring, wyn, olie en heuning.  Daar was so baie dat hulle ekstra kamers moes aanbou aan die tempel om die kos te bêre.   Daar is Leviete aangestel wat mooi moes kyk na alles en dit reg uitdeel aan almal wat in die tempel gewerk het en hulle families.   

Tobias: Dis ‘n baie mooi storie!  O, ek hou van sulke stories!

Tannie: Julle, vandag se storie sê vir ons dat Hiskia met sy hele hart vir die Here gevra het wat om te doen en daarom was die Here baie goed vir hom.    Tobias, maats, hiermee gaan ons nou groet.  Volgende keer vertel ons verder van Hiskia.

Tobias: O, lekker!  Ek sien uit!  Maats, dan groet ons tot volgende keer!  Totsiens!

***