Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 107: God maak vir Hiskia gesond

Carin Conradie

Ons lees in 2 Konings 20, 2 Kronieke 32 en Jesaja 38 van Hiskia wat siek geword het en God wat hom gesond gemaak het.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Stories uit Kanaän 107:   God maak vir Hiskia gesond  (2 Konings 20, 2 Kronieke 32, Jesaja 38)

 

Tobias: Hallo, tannie Carin en maats!  Tannie, ek is so lus vir sing!

Tannie: Hallo, julle!  Is jy lus vir sing, Tobias?  Mmm…  koning Hiskia het ‘n lied geskryf.

Tobias: Hiskia?  Hoekom het hy ‘n lied geskryf?  Hoe klink die lied?

Tannie: Liefste nuuskierigste Tobias, ja, op al daai vrae.  Ons kan bietjie die lied teen die einde van ons storie sing,  maar net om jou lus te maak:  Kom ons speel op liere,   Al die dae van ons lewe.  Kom ons speel op liere, al die dae van ons lewe.

Tobias: O, lekker!  Ag, Tannie, vertel asseblief hoekom hy die lied geskryf het?

Tannie: Julle, Hiskia was nog glad nie baie oud nie, toe het hy op ‘n dag baie siek geword.   Hy was in die bed.  Hy was so siek dat die profeet Jesaja na hom toe gekom het en gesê het hy moet hom regmaak, want hy gaan doodgaan.

Tobias: Aarde!  Nee!  En toe?

Tannie: Tobias, Hiskia het omgedraai op sy bed, na die muur gekyk, bitterlik begin huil en gebid:  “Ag, Here, onthou tog hoe ek probeer het om reg te lewe!”   Julle, Jesaja het al begin huistoe loop, maar hy was nog in die binneplein van die paleis.  Toe hoor hy die Here se stem:  “Jesaja, draai om en gaan sê vir Hiskia:  Ek het jou trane gesien en jou gebed gehoor.  Ek sal jou gesondmaak.  Jy gaan nog vyftien jaar kry om te lewe.  Jy sal oormore soveel beter voel dat jy na die tempel sal kan gaan.  Ja, en Ek sal die stad red uit die mag van die Assiriërs.  Ek sal julle beskerm, omdat ek vir Dawid se nageslag goed wil wees.  En dat julle kan besef Wie Ek is.”

Tobias: Tannie!  En word hy toe gesond?  Sonder medisyne?  Of met medisyne?

Tannie: Tobias, Jesaja het gesê die mense moet vye wat gedroog is, op die seerplek sit.  Dan sal Hiskia gesond word.

Tobias: Tannie, was Hiskia bly oor die nuus?

Tannie: Ja, hy was baie bly.  Maar hy wou so graag seker maak dit gaan gebeur.  Hy vra toe vir Jesaja:  “Sal die Here vir my ‘n teken gee dat ek gaan gesond word? “ Jesaja het gesê: “Ja, mmm,  Hiskia, die sonwyser wat Agas gebou het, die trappe waar ons mos die tyd lees - moet die Here die skaduwee tien trappe vorentoe laat gaan?  Of moet Hy die skaduwee tien trappe laat teruggaan?

Hiskia het geantwoord:  “Laat die Here die skaduwee tien trappe terug laat gaan?”

Tobias: Tannie, en het dit gebeur? 

Tannie: Ja, die skaduwee het tien trappe teruggegaan.  Die wetenskaplikes skat dit kan omtrent  veertig minute wees.

Tobias: Tannie, nee!  Dit kan nie wees nie.  Die aarde moes dan bietjie teruggedraai het?  Hoekom het alles nie deurmekaar geloop nie?  Die maan kon deurmekaar raak of, of, ek weet ook nie.  Regtig?

Tannie: Tobias, hoe die Here dit gedoen het, weet ons nie.  Al wat ons weet is, Hy het alles gemaak.  Hy hou alles aan die gang.  Hy kan die aarde rondskuif en nog alles op hulle plek hou.  Net soos Hy kon besluit dat Hiskia nog langer sal leef, al was hy baie siek.

Tobias: Tannie, dis wonderlik, fantasties!  Mensig, ons God is sterk!  En toe skryf Hiskia die lied?

Tannie: Ja, hy skryf toe die lied.   Die Here het vir Hiskia baie goed gegee: skatkamers vol goud, silwer en edelstene; spense vol kruie, koring en wyn; krale vol beeste en skape.  Hy het hom ook ‘n slim plan gegee om ‘n kanaal van vyfhonderd en dertig meter in rots te laat grawe  en ‘n dam te bou om water van ‘n fontein af  in Jerusalem in te bring.  Maar hy was nie dankbaar genoeg vir alles nie.  Hy het baie van homself begin dink.  Toe stuur die Here mense van Babel  om Hiskia te toets.  Die Here wou hê hy moet besef wat hy van homself dink.

Tobias: Tannie, wat maak die mense van Babel toe?

Tannie: Tobias, hulle het geskenke gebring en sommer kom gesels.  Toe is Hiskia so ingenome oor die kuier, dat hy  alles in Jerusalem vir hulle gewys het.  Hulle kon mooi sien hoe ryk Hiskia regtig was.  Maar dit was nie ‘n baie goeie besluit nie.  Jesaja kom toe net daarna na Hiskia toe:  “Koning, wie was die mense?  Wat het hulle gesê? “  Hiskia het geantwoord:  “Hulle is van Babel.  Ek het hulle al my skatkamers gewys.”  Jesaja het gevra:  “Het jy alles gewys?   Ai!  Die Here sê daar kom ‘n tyd dat hulle alles gaan kom wegdra uit die stad uit.  Tot van jou kinders gaan hulle wegvat.”   

Tobias: Aggenee!

Tannie: Julle, maar Hiskia was jammer dat hy so baie van homself gedink het.  Toe het die Here gesorg dat die mense van Babel nie in Hiskia se leeftyd na Jerusalem teruggekom het nie.    Hiskia het nege en twintig jaar regeer en is toe oorlede.  Hy is begrawe by al die ander koninklike grafte.  Sy seun, Manasse het toe koning geword.

Tobias: Aarde, Tannie!  Hiskia was ‘n interessante koning!  Maar die beste is dat ons kan sien hoe wonderlik God was in Hiskia se lewe!  Tannie,  kan ons nou afsluit met die lied van Hiskia?

Tannie: Tobias, die lied is lank.  So ons sing maar net so ‘n klein stukkie daarvan.  Maar kom maats, geniet dit saam met ons.  Ons groet dan met die lied.  Totsiens, totsiens!

U het my vergewe

U het my gered.

Ek loof U, want ek lewe

Ek loof U al die dae wat ek het.

(Kom ons speel op liere

Al die dae van ons lewe.) x2

***