Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 1: Serubbabel vat Juda terug na hulle land

Carin Conradie Season 6 Episode 1

Ons begin vertel nou die stories uit die boeke van die profete.  Hierdie storie kom uit Esra 1-6 toe die eerste klompie mense uit Juda terug is na hulle land.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 1:  Serubabel  vat Juda terug na hulle land  (Esra 1 - 6)

 

Tannie:Tobias?  Hou jy van nuwe dinge?

Tobias:Hallo, tannie Carin!  Ja!  Nuwe boeke!  Nuwe blommetjies!   

Tannie:Of wat van ‘n nuwe dag?

Tobias:Ja!  Maar hoekom dink Tannie aan nuwe goeters?

Tannie:Tobias, ons begin vandag met ‘n splinternuwe reeks:  Die boeke van die profete!

Tobias:O, lekker!  Watter profete?

Tannie:Julle  ons wil die stories vertel van die profete oor wie daar boeke geskryf is in die Bybel.  Party van die profete het geleef terwyl  Juda nog in Kanaän was en ander in die tyd van Babel.  Vandag  begin ons met die boek Esra.

Tobias: O lekker!  ‘n Nuwe reeks!  Nuwe name!  Tannie vertel asseblief van Esra?

Tannie: Julle, die profeet Jeremia het voorspel dat Juda vir ‘n hele sewentig jaar in Babel gaan bly, voor die Here hulle gaan laat terugkom na Israel toe.  

Tobias: En het die Here hulle laat terugkom?

Tannie: Ja, Tobias, Hy het, maar in drie groepe.  Vandag wil ons vertel van die eerste groep van vyftigduisend mense.

Tobias: Nou hoe het dit dan gekom dat hulle kon teruggaan?

Tannie: Julle, hierdie storie wys ons dat ons God die groot Koning is.   Hy het gesê hulle sal sewentig jaar wag, en toe daai jare verby is, het God self met koning Kores van Persië gepraat.  Babel was nie nou meer in die mag van die Galdeërs nie, maar van die Perse.  Kores het laat afkondig:  “Die Here die God van die  hemel het vir my gesê ek moet vir Hom ‘n tempel in Jerusalem laat bou.  Almal in my ryk wat van Juda af kom, mag nou teruggaan om die tempel te gaan bou.  Julle bure moet vir julle silwer, goud, gebruiksgoed en vee saam gee.  En o ja, sommer nog ekstra goud en silwer om die tempel te bou.  Ek sal ook julle tempel se goed wat Nebukadnesar hiernatoe gebring het, vir julle gee om saam te vat.”

Tobias: Tannie?  Regtig?  Selfs die goed uit die tempel kon teruggaan?

Tannie: Ja, Tobias.  Die goed van die tempel was vyfduisend vierhonderd stukke silwer en goud.   Die goewerneur wat aangestel is om al die mense en goed terug te vat, was koning Jojagin van Juda se kleinseun, Serubbabel.   

Tobias: Wonderlik!  Tannie, toe hulle nou in Jerusalem kom, waar het hulle begin?  

Tannie: Tobias, hulle het eerste gekyk hoeveel goud en silwer elkeen kon gee om die tempel te begin bou.  Toe het hulle die altaar van die Here reggemaak.  Hulle het dadelik  begin om offers vir God te bring.  Gou-gou was dit ook tyd om die huttefees te vier.

Tobias: Dis wonderlik, Tannie!  Maar wat van die tempel?  

Tannie: Tobias, in die tweede jaar nadat hulle teruggekom het, het hulle klipkappers en vakmanne uit Sidon en Tirus gehuur met geld wat hulle van Kores af gekry het.  Hulle het hout laat kom en die fondamente gelê.  Daarna het hulle ‘n groot fees gehou.   Hulle het gesing en die Here geloof en gedank:  “Want Hy is goed, aan sy liefde vir Israel is geen einde nie.”  Sommige ou mense wat nog die vorige tempel gesien het, het  begin huil, maar die mense wat gesing het, het so hard gejuig, niemand kon die gehuil hoor nie.

Tobias: O, dit klink na ‘n vrolike affêre!

Tannie: Maar, julle, toe kom daar vyande van Juda..  Hulle het gemaak asof hulle ook wil help bou, maar toe sê Serubbabel, nee, hulle kan nie. Hulle het alles probeer om die mense van Juda moedeloos te maak.   Hulle het selfs  briewe aan die konings van Persië geskryf.  In die brief aan koning Artasata het gestaan: “O, koning, ons sien hier is ‘n volk  wat ‘n massiewe tempel bou.  Maar, gaan lees bietjie in u geskiedenisboeke:  hulle is ‘n volk wat in opstand kom teen die konings oor hulle.  Ons waarsku u, as hulle eers hulle slegte stad herbou het, sal hulle niks belasting  aan u betaal nie.”    Die koning skryf toe terug dat hy hoor dit is waar, so hulle moet dadelik die bouery stopsit.

Tobias: Aggenee, Tannie!

Tannie: Ja, julle, toe staan die bouery vir ‘n lang tyd stil.  Maar God het twee profete, Haggai en Saggaria gestuur.  Hulle het die mense moed ingepraat.  Serubbabel en die ander leiers het toe weer begin bou.  Ander mense van die omgewing kom toe  en vra:  “En wie het gesê julle mag hierdie tempel herbou?”  Maar God het mooi gekyk na die leiers van Juda.  Hulle het net aangehou  werk.  In ‘n brief aan koning Darius het die mense geskryf:   “O, grote koning, ons sien die mense van Jerusalem bou ‘n  tempel van klip en hout.   Hulle wil sê hulle is dienaars van die God van hemel en aarde.   Hulle sê koning Kores het bevel gegee dat die tempel herbou word.  Gaan kyk asseblief in die geskiedenisboeke of dit waar is.”

Tobias: En?  Wat het Darius laat weet?

Tannie: Tobias, Darius het in die argiewe gaan lees en teruggeskryf:  “Julle moet daar wegbly.  Kores het gesê die tempel moet herbou  word.  Gee vir hulle geld dat hulle dit kan klaarmaak.  Gee ook beeste en skape vir hulle offers.  Elkeen van julle wat hulle wil keer, sal ek baie swaar straf.”  Julle, en toe kon hulle weer bou!   Sommer vinng-vinnig in vier jaar se tyd kon hulle dit klaar bou.  En toe hou hulle nou lekker fees met honderde offers aan God.  Kort daarna was dit ook tyd om die paasfees te vier net soos die Here gesê het. Hulle was so bly!

Tobias: Tannie, die Here het die heidense konings se harte sag gemaak.  Die Here het die mense van Juda gehelp om die tempel te bou!   Dis fantasties!  Alles wat die Here sê, dit doen Hy!  O, dis nou ‘n lekker manier om vandag se storie af te sluit!

Tannie: Ja, dis soos ‘n groot wonderwerk!  Ons God is koning!  Maats, hiermee groet ons dan vandag. maar kom gou weer om die storie van die mense van Juda verder te luister.    Totsiens, almal!

***