Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 2: Priester Esra gaan na Jerusalem

Carin Conradie Season 6 Episode 2

In hierdie storie uit Esra 7 - 10 leer ons van die tweede groep mense wat terug is na Jerusalem saam met die priester Esra.  Hy was 'n geleerde man wat die mense moes leer van die Wet van God.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 2:  Priester Esra gaan na Jerusalem  (Esra 7-10)

 

Tobias: Hallo, tannie Carin.  Tannie, hoekom moet mensekinders skoolgaan?

Tannie:Hallo Tobias!  Jongie, die  maats  wil leer lees en skryf en baie slim goed leer.  Hulle wil dalk ook na skool universiteit of technikon toe gaan.  

Tobias:Aarde!  Dit klink so lank!  Tannie, was daar universiteite in die Bybel se tyd?

Tannie:Ja, Tobias, daar was plekke waar mense kon leer, maar dit was glad nie soos ons skole of universiteite nie.  Die plek waar kinders eerste begin leer het, was in hulle huis.

Tobias: Interessant!  Tannie,  weet ons van mense wat slim geleerd was?  

Tannie:Tobias, ons kan vertel van die priester Esra.  Hy was  ‘n geleerde man wat sommer baie geweet het van die Wet van God.  Esra is in Babel gebore. Sy ouers is deur Nebukadnesar weggevoer uit Jerusalem.  Koning Kores het mos die eerste vytigduisend mense laat teruggaan.   Tagtig jaar later het Esra ‘n belangrike werk by koning Artasasta van Persië gekry.

Tobias: Haai?  Watter werk  was dit?

Tannie: Tobias, die Here het vir Artasasta gesê hy moet iemand stuur om die mense van  Jerusalem weer mooi te leer hoe die Wet van God werk.  Klink my hy was ook maar bang dat die Here hom en sy kinders sal straf as hy dit nie doen nie.  Hy het ‘n lang brief geskryf waarin hy  gesê het dat almal vir Esra moes help om sy werk te doen.  Die brief het amper so geklink:  “Van  Artasasta aan Esra, die geleerde man in die Wet van die God van die hemel:  ek en my sewe manne wat my help besluite neem, gee jou die werk om te gaan kyk wat gaan daar in Jerusalem by die tempel aan.  Jy kan enige priester of Leviet van jou volk saamvat. Hier is goud en silwer  vir die tempel van julle God.   Kry ook goud en silwer by ander mense van julle volk.  Gebruik dit om alles te koop wat julle nodig het vir die tempel en vir  offers.  Die mense daar naby Jerusalem wat my geld beheer, moet vir julle geld gee tot op ‘n sekere bedrag.  Alles wat die God van die hemel vir sy tempel vra, moet julle doen.   Esra, jy ken mos alles oor God se wet.  Jy moet dit vir almal leer en ook regters aanstel.”

Tobias: Maar dit klink baie goed?

Tannie: Julle, Esra was so bly!  Die Here het sy hand oor Esra gehou en vir hom gesorg.  Hy het gesê:  “Ek loof die Here!  Ek is vol moed!  Die Here beskerm my!”  Tobias, en toe laat roep hy leiers daar in Babel wat saam met hom kan kom.  Hulle het al ‘n entjie begin trek, toe besef hulle daar is baie priesters, maar niks Leviete nie.  Toe laat roep hy slim manne om Leviete te gaan soek wat kan saamgaan.  Hulle was omtrent een duisend vyfhonderd manne bymekaar.  Voor hulle getrek het, het hulle eers ‘n dag gevas en gebid dat God hulle tog sal beskerm.  Esra was te skaam om vir die koning nog soldate ook te vra om saam te gaan.  Hy het vir die koning gesê:  “Ons God sorg goed vir almal wat Hom dien.  Hy sal ons langs die pad beskerm.”

Tobias: En toe gaan hulle na Jerusalem?

Tannie: Ja, julle.  Dit was omtrent een duisend vyfhonderd kilometer en dit het hulle vier maande gevat om daar te kom.   Esra het die goud en silwer verdeel tussen verskillende leiers om dit mooi op te pas langs die pad.  Die Here het so mooi na hulle gekyk!  Niemand  het hulle aangeval nie.  Hulle het veilig gereis tot in Jerusalem en die goed vir die priesters by die tempel gaan gee.  Hulle almal was so dankbaar en het offers aan God gebring.

Tobias: Tannie,  wat sien Esra toe daar?  Het die mense die Here reg gedien?

Tannie: Tobias, mense het vir Esra ‘n lelike ding kom vertel.  In die tagtig jaar het party van die mense met vrouens uit die heidennasies begin trou.   Hulle het goed geweet God het jare terug al gesê hulle mag dit nie doen nie, want die vrouens het hulle ander afgode laat aanbid.

Tobias: O aarde!  Wat gebeur toe?

Tannie: Julle, Esra was so hartseer en geskok toe hy dit hoor dat hy sy klere geskeur en sy hare en baard uitgetrek het.  Hy en nog hartseer mense het net so op n hopie bly sit tot die aand toe.  Die tyd wat die aandoffer gewoonlik gebring word, het Esra op sy knieë geval en uit geroep: “Here God, ek is so skaam oor ons so baie sondes doen.  Ons sondes het ons in Babel laat beland.  Toe is U goed vir ons en bring ons terug.  En nou doen ons glad weer verkeerde dinge.  Here, ek is so jammer.”  Julle, hy en baie mense het kliphard gehuil.  

Tobias: Wat gebeur toe?

Tannie: Tobias, iemand sê toe hulle moet die fout regmaak.  Die mans van daardie vrouens en kinders  wat nog ander afgode aanbid, moes van hulle skei en hulle terugstuur na hulle eie land toe.  Esra reël toe ‘n groot vergadering waar al die mense van Juda moes by wees. Daai dag reën hulle sopnat.  Hulle het gebewe van die koue, maar eintlik meer oor hulle besef het dat hier groot moeilikheid is.    Esra het toe regters aangestel wat na elke dorp moes gaan om te besluit watter vrouens moes teruggaan.   Op die ou end moes honderd en tien mans hulle vrouens en kinders terugstuur.  

Tobias: Aarde, Tannie!  Dit is hartseer!

Tannie: Ja, dit is baie hartseer!   Maar julle, dit wys ons dat God ernstig is dat Hy ons net vir Homself wil hê dat ons Hom kan liefhê en volg.

Tobias: Tannie,  ek wil so graag vir God die liefste hê!  Kan ek vir ons bid voor ons afsluit?

Tannie: Reg so, Tobias.

Tobias: Here God, help ons asseblief om U lief te hê en alles te doen wat U vra.  Amen. 

Tannie: Maats, dit kan ons elke dag bid.  En daarmee groet ons julle dan vir vandag.  Totsiens, tot volgende keer!

***