Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 5: Juda vier fees
In Nehemia se tyd het die volk gehonger na die wet van die Here en het vir ure daarna geluister. Hulle het byeengekom en die huttefees gevier en 'n vasdag gehou. Die muur is ook ingewy met 'n lekker fees. Ons lees daarvan in Nehemia 7 - 13.
Boeke van die profete 5: Juda vier fees (Nehemia 7 - 13)
Tobias: (sing) Veels geluk, liewe maatjie, omdat jy verjaar!
Tannie: Hallo, Tobias. Vir wie sing jy? Wie verjaar?
Tobias: Tannie Carin, ek verjaar een van die dae! Op die een en twintigste Oktober! Ek sing sommer solank vir myself!
Tannie: (lag) Dis sommer amper, amper! Hou jy baie van partytjies, Tobias?
Tobias: Ja, sommer baie! Ek kan nie al die lekker koek eet nie, maar ek hou van die maats! Tannie, die mense van die Bybel was ook lief vir partytjies?
Tannie: O ja, Tobias! Hulle het die partytjie-ding baie beter as ons gedoen: sommer vir dae aaneen partytjie gehou. Ek wil julle hoeka vertel van partytjies wat in Nehemia se tyd gehou is.
Tobias: O, lekker! Laat ons hoor!
Tannie: Julle, in die sewende maand net na die muur van Jerusalem klaar gebou is, het die mense bymekaar gekom by die Waterpoort aan die oostekant van die stad. Hulle het vir die skrifgeleerde, Esra gevra om vir hulle die wet van die Here voor te lees. Hulle het almal, groot en klein, saamgekom op ‘n lekker groot oop plein. En toe begin lees Esra: van ligdag af tot by middagete tyd.
Tobias: Tannie, maar hoe kon ‘n groot klomp mense hom hoor? Hulle het mos nie luidsprekers gehad soos vandag nie?
Tannie: Tobias, hulle het ‘n verhogie van hout gebou waarop hy gestaan het, sodat almal hom kon sien. Almal het mooi geluister. Hulle het hulle hande in die lug gesteek en geroep: “Amen, amen.” Die Leviete het by Esra gestaan en vir die mense verduidelik wat die wet beteken. Sommige het begin huil toe hulle hoor wat in die wet staan. Maar Nehemia, en Esra en die Leviete het gesê: “Nee, julle! Moenie huil nie! Dis ‘n vrolike dag vir die Here! Ons moet fees vier!” En julle, toe hou hulle lekker partytjie! Hulle het vir mekaar lekkernye uigedeel en heerlik geëet en gedrink.
Tobias: Lekker! En toe is hulle die volgende dag moeg gepartytjie?
Tannie: Nee! Nogal nie! Die volgende oggend het hulle almal weer bymekaar gekom. Hulle wou nog hoor wat in die wet staan. Daardie dag lees hulle toe dat hulle vir die fees in die sewende maand in hutte moes bly!
Tobias: In hutte moes bly? Waar moes hulle die hutte kry?
Tannie: Tobias, hulle moes dit self bou. Hulle moes olyftakke, olientakke, mirtetakke, palmtakke en al wat ‘n tak met digte blare aan, gaan afkap in die berge. Hulle bou toe die hutte: party op hulle dakke; ander in hulle binnehof; ander aan die voorkant van die tempel en ander daar op die plein by die Waterpoort. Hulle het sewe dae daarin gebly en groot fees gevier. Elke dag het hulle geluister na die wet van die Here. Tobias, weet jy dat hierdie huttefees toe laas in Josua se tyd gevier is?
Tobias: Mensig! Klink my hulle het baie dinge uit die wet geleer !
Tannie: Ja, klink so! ‘n Paar dae later het hulle bymekaar gekom vir ‘n groot vasdag. Daai dag is daar nie geëet of gedrink nie. Hulle het klere aangetrek wat wys hulle is hartseer en het grond op hulle koppe gegooi. Die mense het vir omtrent drie ure weer na die wet geluister. Toe vir drie ure het gehulle gebid en vir die Here gesê hulle is so jammer oor hulle sonde: hulle eie sonde en al die sondes wat hulle oupas en oumas gedoen het van die tyd af wat hulle uit Egipte uitgelei is. Hulle het die Here geprys dat hy ‘n wonderlike God is wat elke keer weer goed vir hulle was as hulle sê hulle is jammer. Hulle het neergeskryf dat hulle belowe om alles te doen wat God in sy wet van hulle vra.
Tobias: Dis fantasties! Dis iets wat ons ook elke dag kan doen: om vir die Here jammer te sê en Hom te vra om ons te help om die regte dinge te doen.
Tannie: Jy is reg, Tobias. Tobias, ek het nog ‘n fees om van te vertel: die volk wou hulle nuwe muur inwy. En was dit nou ‘n jolige affêre! Al die Leviete moes kom uit al die klein dorpies rondom Jerusalem.
Tobias: Wat moes die Leviete doen, Tannie?
Tannie: Jongie, hulle moes musiek maak. Eers moes almal hulle skoon was soos die wet sê. Daardie dag het hulle ook weer gelees dat die Here wou hê hulle moes hulleself eenkant hou van ander volke, sodat hulle nie dalk begin om ander afgode te aanbid nie. Tobias, die Leviete moes al hulle simbale, harpe, trompette en liere uithaal. Nehemia het twee groot kore uitgekies. Hulle het op die muur geklim. Die een koor het suid geloop, en die ander koor het noord geloop. Hulle het pragtige liedere vir die Here gesing. Toe loop hulle tempel toe en sing daar ook saam. Die koorleier se naam was Jisragja. O, en het die mense dit nou geniet! Hulle was bly en vrolik en het klomp offers vir die Here gebring. Hulle het belowe om mooi na die tempel en en die Leviete te kyk. Daar is manne aangestel wat die offerstoorkamers moes oppas.
Tobias: Mensig! Hulle kon nou partytjie hou! Maar nie sommer net vir hulleself nie, ne, Tannie? Hulle het dit alles vir die Here gedoen!
Tannie: Ja, Tobias, alles vir die Here! Ons wil partykeer ons gewone lewe eenkant hou van ons kerklewe, maar dis nie soos die mense van Israel geleef het nie. Of hulle nou gekoop en verkoop of gesing of geëet het, alles was vir die Here gedoen.
Tobias: Ek hou daarvan! Ons moet ook so dink: alles wat ons doen moet ons vir die Here doen!
Tannie: Ja, Tobias! In die die boek Kolossense in die Nuwe Testament het Paulus dit ook so geskryf!
Tobias: Nou maar dan moet ons dit begin oefen! Elke dag! Maats, ek wil my partytjie gaan beplan! Vir die Here! Daarom gaan ek nou groet. Dink bietjie hoe julle alles vir die Here kan doen? Kom gou weer vir nog stories! Ek groet dan! Totsiens!
***