Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 10: 'n Nuwe wet help die Jode
In ons laaste storie uit die boek Ester (Ester 8 - 10) hoor ons hoe die Jode hulleself kon beskerm op die dag wat die vyand hulle aangeval het.
Boeke van die profete 10: ‘n Nuwe wet help die Jode (Ester 8 - 10)
Tannie:Hallo, Tobias! Hallo, maats! Tobias... hallo!
Tobias:O, huh, hallo! Tannie Carin, ek wonder…
Tannie:O, ons liewe nuuskierige Tobias! Ek het gesien jy dink al weer diep! Waaroor dink jy vandag?
Tobias:Tannie, vra die Here soms dat ons moeilike dinge moet doen?
Tannie:Tobias, ja! Partykeer vat Hy ‘n probleem sommer so woeps weg, maar ander kere moet ons deur die probleem gaan en Hy vra dalk dat ons ‘n moeilike ding moet doen. Maar, Hy sal help! Weet jy, ek het so ‘n storie vir vandag!
Tobias:Regtig? Vertel, Tannie!
Tannie:Tobias, maats, julle sal onthou dat koningin Ester en die hele volk Juda in die stad Susan drie dae gevas en gebid het? Dit was mos voordat sy vir koning Ahasveros iets gaan vra het. Nou ja, sy moes weer na die koning gaan sonder dat hy haar geroep het. Dit was so moeilik, want hy kon haar laat doodmaak as sy sommer net daar by hom opdaag.
Tobias:Tannie, het die Here haar gehelp toe sy weer gaan?
Tannie:Verseker! Hy het! Sy het haar seker weer mooi aangetrek en in die koning se voorportaal gaan staan. En, toe steek hy weer sy goue septer na haar toe uit! Sy kon bly leef! Ester kon haar vraag vra: “Koning Ahasveros, as u wil en as u dink dis reg en as u van my hou, skryf asseblief briewe dat die mense in u koninkryk nie my volk doodmaak nie? Haman het mos ‘n wet laat skryf dat al my mense op die dertiende Adar, dis mos oor nege maande, doodgemaak moet word.” Die koning antwoord toe: “Ester, ongelukkig kan ek nie briewe skryf wat die vorige wet wegvat nie. As ek ‘n wet gemaak het, staan dit altyd vas. Maar, jy en jou neef Mordegai kan nuwe briewe skryf wat jou volk kan help. Dink julle maar iets uit en skryf die briewe in my naam.”
Tobias:Dis fantasties, Tannie! Wat skryf hulle toe?
Tannie:Tobias, die skrywers van die koning het mooi kom luister wat sê Mordegai en Ester. Hulle het ‘n brief geskryf in baie verskillende tale. Die brief het gesê dat die Jode mag bymekaar kom op die dag wat hulle aangeval mag word en hulle mag terugveg. Die briewe is toegemaak en die koning se seëlring het ‘n stempel daarop gedruk. Toe vat die boodskappers dit met die koning se resiesperde vinnig na die hele koninkryk van Ahasveros. Dit was nou ‘n nuwe wet wat niemand kon wegvat nie!
Tobias:Wonderlik! En wat gebeur toe?
Tannie:Tobias, maats, julle kon dink hoe bly was al die Jode. Hulle het gejubel, gejuig en feesgevier. Hulle het weer gevoel dat hulle darem raakgesien word. Hulle was ook bly dat een van hulle eie mense, Mordegai, nou ‘n belangrike amptenaar van koning Ahasveros was. Die koning het vir hom pragtige blou en wit klere, ‘n baie mooi mantel en ‘n groot goue kroon gegee! Die ander volke was nou bang vir die Jode. Party van hulle wou ook nou Jode word!
Tobias:Mooi! Tannie, maar toe kom die dag wat die Jode se vyande hulle kon aanval?
Tannie:Ja, Tobias! Die dag het gekom! Maar die Jode was reg vir die geveg! Hulle het oral in groepe bymekaar gekom en terug geveg! So erg, dat hulle almal gewen het. Die vyande het skoon bang geword vir hulle! Die leiers van die koning se provinsies was aan die Jode se kant, omdat hulle bang was vir Mordegai. Vyfhonderd van die Jode se vyande is in die hoofstad Susan doodgemaak en ook Haman se tien seuns. Toe die koning dit hoor, vra hy vir Ester: “ Ek wonder wat in die res van my ryk gebeur het? Ester, wil jy nog iets vir my vra?” Ester het gevra of die Jode, net in die stad Susan, dalk nog die volgende dag ook mag veg. Die koning het gesê dis reg so. Toe is nog driehonderd vyande gevang.
Tobias: En in die res van die koninkryk, Tannie?
Tannie:Julle, die Jode het vyf en sewentigduisend van hulle vyande gevang. Maar, baie interessant: gewoonlik as vyande gevang is, dan is hulle grond en huise afgevat, maar die Jode het nie hulle vyande se goed gevat nie.
Tobias:Dis interessant! Tannie, die Jode was seker baie bly?
Tannie:Tobias, Mordegai was nou tweede in bevel van die koninkryk. Al die Jode het baie van hom gehou. Hy het baie dinge gedoen om sy mense te help. Mordegai het al die dinge wat gebeur het in die geskiedenis boeke opgeskryf. Hy het ook nuwe briewe geskryf. In die briewe het gestaan dat al die Jode oor die hele koninkryk elke jaar twee dae die Purimf.ees moes vier om te onthou hoe die Here hulle gered het. Op daai dag het hulle vir mekaar eetgoed gestuur en vir die arm mense geskenke gegee. Ester het ook laat skryf hoe hulle moes vas en vir God vra om hulle te help. Daar is met die Pur, dit is soos lootjies trek, besluit op watter dag die Jode sou uitgewis word. Die naam van hulle fees, Purim, is van die woord Pur afgelei. En weet julle, die Jode vier hierdie fees tot vandag toe!
Tobias:Regtig, Tannie? Vandag nog? O, ek is bly! Maats, is dit nou nie ‘n mooi storie nie! En ons sien dat God nie ons probleme altyd wegvat nie, ne, Tannie?
Tannie:Nee, Tobias! Baie keer vat Hy nie die probleme weg nie, maar Hy help ons binne-in die probleme!
Tobias:En, partykeer moet ons moeilike goed doen, soos Ester, maar die Here help altyd as ons vra! Maats, dis so lekker om ons storietyd van vandag hiermee af te sluit! Ek dink ek en my maatjie gaan ook nou sommer feesvier! (lag) Maar wag, ek moet nog eers die storie gaan oorvertel! Maats, ek groet julle dan tot volgende keer! Totsiens, totsiens!
***