Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Wysheids-en gedigteboeke 1: Die man Job
In hierdie storie begin vertel ons van Job soos in Job 1 en 2. Job, Spreuke en Prediker word wysheidliteratuur genoem.
Ons sal die Boeke van die profete later verder vertel.
Wysheid en gedigte boeke 1: Die man Job (Job 1 - 2)
Tobias:Job! Job se geduld hê? Wat is dit Tannie Carin?
Tannie:Hallo, Tobias! Praat jy met my?
Tobias:Tannie, my maatjie se ma sê sy moet Job se geduld met hom hê - wat beteken dit?
Tannie:O, ne? (lag) Tobias, dit beteken maar net dat sy baie geduld met hom moet hê. Ek dink alle mammas sê so. Maar kom ek vertel julle bietjie van Job.
Tobias:Tannie, was daar regtig so iemand soos Job? Was hy ook ‘n profeet?
Tannie:Nee, Tobias, hy was nie ‘n profeet nie. Maats, ons gaan eers so ‘n bietjie stop met die boeke van die profete en later daarmee aangaan. Ons gaan eers vir ‘n paar weke vertel van die wysheids- en gedigte boeke in die Bybel.
Tobias:Wysheids- en gedigte boeke? Wat van Job?
Tannie;Tobias, ons begin met Job. Mense wat geskiedenis ken dink dat Job een van die oudste boeke in die Bybel is. Job, saam met Spreuke en Prediker word wysheidsboeke genoem. En tog gaan dit oor die man Job. Julle, dit was nou ‘n belangrike omie. Almal in die area het hom geken. Hy was baie ryk. Hy het sewe seuns, drie dogters, seweduisend skape en bokke, drie duisend kamele, vyfhonderd paar trekosse, vyfhonderd donkies en baie slawe gehad. Boonop was hy baie lief vir die Here. Partykeer het sy seuns partytjies by hulle huise gehou. Hulle het ook hulle susters genooi. Nadat almal dan ‘n beurt gehad het vir ‘n partytjie, het Job gesê: “Kom, kom, my kinders. Ons gaan nou eers ‘n offer bring. Net dalkies het een van julle gesondig teen God by die partytjies.” Julle, maar op ‘n dag gebeur iets wat Job glad nie geweet het nie. Die hemelwesens het by God bymekaar gekom. Ons vyand, die Satan was ook daar. God vra toe vir hom waar hy nou vandaan kom. Satan het gesê hy het sommer deur die hele wêreld gereis. God het hom gevra of hy vir Job gesien het - een van sy kinders wat vir God baie lief was. Maar toe sê die Satan Job is net lief vir God omdat Hy so baie goed vir hom gegee het. Satan is seker Job sal God vloek as al sy goed weggevat word. God sê toe Satan mag Job se goed vat, maar hy mag nie aan hom raak nie.
Tobias:Tannie? Wat toe?
Tannie:Julle, toe gebeur daar verskriklike dinge! Die eerste ding: ‘n Slaaf het by Job gekom en vertel al sy osse en donkies is deur mense uit Skeba gevang. Sy slawe is ook doodgemaak. Die tweede ding: ‘n Slaaf het kom vertel weerlig het al die bokke, skape en hulle herders doodgeslaan. Die derde ding: Galdeërs het al sy kamele gesteel en die slawe doodgemaak. Die vierde ding: Job se kinders was besig om partytjie te hou by die oudste broer se huis. Daar kom toe ‘n sterk wind wat die huis omwaai en al sy kinders is dood.
Tobias:Tannie? Dis verskriklik! Wat het Job gesê?
Tannie:Tobias, Job het sy klere geskeur; sy hare afgeskeer en op die grond gaan lê. Hy het gesê: “Ek het niks gehad toe ek gebore is nie. Ek kan ook niks saamvat as ek doodgaan nie. Die Here het alles gegee en nou het Hy alles gevat. Ek loof die Here.”
Tobias:Fantasties! Maar sjoe, dis moeilik om so iets te sê!
Tannie:Ja, dit is. Maar die storie gaan aan. Na ‘n tyd was die hemelwesens weer bymekaar. God het weer vir Satan gevra waar hy nou vandaan kom. Hy het weer geantwoord dat hy sommer deur die hele wêreld was. God het hom weer gevra: “En het jy my dienaar Job gesien? Daar is niemand soos hy nie. Hy dien My. Hy het my nie gevloek nie, al het jy sommer oor niks al sy goed gevat.” Toe sê die Satan dat hy seker is Job sal God vloek as hy sy gesondheid wegvat. God het gesê Satan kan maar Job se gesondheid wegvat, maar hy mag hom nie doodmaak nie.
Tobias: Nee! Tannie?
Tannie:Julle, toe gee Satan vir Job vreeslike seer kolle oor sy hele lyf. Dit het gepyn en gesweer en gejeuk. Ou Job het so sleg gevoel, dat hy op die ashoop gaan sit het. Daar het hy ‘n stuk gebreekte kleipot gevat en homself gekrap. Job se vrou het gevra hoekom hy nie maar vir God vloek en doodgaan nie. Hy het dadelik gesê sy praat nou soos ‘n dom mens. Ons mense is bly oor die lekker en mooi dinge wat God vir ons gee. Ons moet ook aanvaar as Hy dan swaar dinge gee. Tobias, en Job het niks verkeerds teen God gesê nie.
Tobias: Ek is bly! Ai, maar dis baie hartseer. Het hy darem vriende gehad of dokters of iets?
Tannie:Tobias, dokters was nou nie so volop soos vandag nie. Maar ja, drie van sy vriende het gehoor hoe sleg dit met Job gaan. Hulle het saam besluit om hom te gaan troos. Eers kon hulle hom nie eens herken nie. Maar toe begin hulle hardop huil. Hulle het hulle klere geskeur en stof in die lug en op hulle koppe gegooi. Hulle het gesien Job is vreeslik hartseer. Hulle drie het vir sewe dae en sewe nagte sommer net daar by hom gesit en niks gepraat nie.
Tobias:Tannie, en het hulle toe tog later begin praat?
Tannie:Ja, Tobias, hulle het. Ongelukkig is ons storietyd van vandag te kort om die hele storie van Job te vertel. Maar volgende keer kan ons verder vertel wat hulle alles gesê het en wat toe later met Job gebeur het.
Tobias:Sjoe, Tannie, ek sal graag wil hoor wat gebeur het. Maar dit lyk vir my asof die storie vir ons wys dat slegte dinge gebeur tot met goeie mense.
Tannie:Jy is reg. En ons kan onthou dat God weet wat aangaan, al verstaan ons niks nie. Ons kan maar aanhou met Hom praat en Hom loof. Onthou jy wat Job gesê het: “Die Here het gegee, en ook weer gevat. Ek loof die Here.” En daarmee, maats, Tobias, sluit ons vandag se storie af. Kom gou weer om te hoor wat God vir Job gedoen het. Totsiens, almal!
***