Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 30: Die profeet Joël

Carin Conradie Season 6 Episode 30

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 11:01

Joël was 'n profeet in Juda, maar ons is onseker wanneer hy opgetree het.   Hy het straf aangekondig, maar ook God se liefde en geduld vir die mense wat na Hom toe kom.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 30:   Die profeet Joël

 

Tobias:Tannie!  Tannie Carin!  Kom kyk gou hier!  Wat is dit die? 

Tannie:Hallo, Tobias!  Wat sien jy?   Mmm… dis ‘n sprinkaan!  Hier in ons huis?

Tobias:‘n Sprinkaan!   Ek sien hy kan omtrent spring!   Tannie, sal hy my byt?

Tannie:Nee, Tobias!  Sprinkane byt nie mense of groen seuntjies nie!   Hulle eet plante. Maar as jy hulle optel, kan hulle agterpote baie seer skop!    

Tobias:Tannie, vat hom gou uit, asseblief?  Ek is bietjie versigtig vir hom!

Tannie:Goed!  Gee my nou net gou ‘n kansie.

Tobias:O!  Aarde!  Maats, daar  vang  tannie Carin hom en vat hom uit.   O, ek wil nie aan hom vat nie.  Ek wonder of ons nie dalk ‘n storie oor sprinkane of goggas kan kry vandag nie?  Mmm…. ek wonder!   Hier is sy nou terug.  Tannie, vertel vir ons ‘n storie oor goggas, asseblief?

Tannie:‘n Bybelstorie oor goggas?   Mmm, daar is nie so baie nie, maar, ja, die boek van die profeet Joël begin met sprinkane!

Tobias:Haai, laat ons hoor!

Tannie:Tobias, maats, ons is onseker wanneer Joël, seun van Petuel, geleef het.  Miskien was hy in Juda voor die mense weggevoer is, of miskien selfs eers daarna.   Feit bly staan, die Here het vir hom gesê om met Juda te praat net toe daar ‘n vreeslike sprinkaanplaag in die land gekom het.

Tobias:Wat is ‘n sprinkaanplaag?

Tannie:Tobias, partykeer kom daar duisende sprinkane gelyk aangevlieg.   Een ou sprinkaantjie maak ons nie bang nie, maar duisende?  Nee, dis nou vir jou ‘n ander affêre!   Tobias, partykeer is hulle so baie, dat die lug skoon donker word en dit woerrr, woerrr, soos hulle vlieg.  Waar hulle dan gaan sit, begin hulle eet.  Hulle eet die blomme, die blare, die gras, die  bome se blare, die bome se bas,  alles wat groen is.  Ek meen nou plante, Tobias, nie vir jou nie!   

Tobias:O, ek het nou skoon geskrik!  (lag)  Tannie, maar vertel van Joël?

Tannie:Julle, die boek Joël bestaan uit ‘n paar gedigte, en een deel wat God met die volk praat.   Die eerste gedig praat van vier swerms sprinkane wat alles, alles in die land opgeëet het.  Die mense was hartseer, en honger.    Joël het in sy gedig geskryf, dat dit God was wat die sprinkaanplae gestuur het.  Hy wou hê die mense moes terugkom na Hom toe.   Joël het vir die priesters en die leiers en al die mense gesê:  “Kom terug na die Here toe.  Roep na Hom!”  Hy het vir hulle gebid en hy skryf vyf keer van “Die dag van die Here”. 

Tobias:Tannie, wat bedoel hy met “Die dag van die Here”?

Tannie:Julle, dit wys na die dae wat God sprinkane en selfs vyande gestuur  het om Juda en Israel te straf.   Dit wys ook na die dae wat God weer sy volk gered het.  Dan kom daar ook nog ‘n dag van die Here, eendag as Hy weer kom.

Tobias:O! Tannie, wat moes die mense doen om terug te kom na God toe?

Tannie:Die Here het deur Joël gesê:  “Kom na My toe met julle hele hart, vas, huil.   Julle skeur gewoonlik julle klere as julle hartseer is, maar Ek vra, skeur liewer julle harte oop vir My.  Vertel vir My  julle is regtig jammer oor sonde.  Ek is genadig en goed vir mense.  Ek is vol liefde en geduld.  Ek kan julle straf wegvat en dit weer goed laat gaan.  Kom na My toe!”

Tobias:Tannie, dit was vir daai tyd se mense, maar dis ook vir ons?

Tannie:Ja, Tobias!    Hy vra ons ook om met ons hele lewe na Hom toe te kom.  

Tobias:Wonderlik!  Ons kan na God toe gaan!  Ons hoef nie bang te wees vir Hom nie!

Tannie:Nee!   Ons hoef nie bang te wees vir Hom nie.   Joël het geskryf:  “Elke mens wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word!

Tobias:Jippie!   Het Joël ook geskryf van die dag van die Here wat nog gaan kom?

Tannie:Ja, Tobias!   Die laaste deel van die boek vertel vir ons drie groot dinge wat gaan gebeur.  Die eerste een is dat God self ‘n groot geveg sal begin om sy en Israel se vyande te straf.  God het gesê die vyande moet Israel inval om hulle te straf, maar hulle het nie gemaak soos God gevra het nie.  Hulle was wreed en het gedink hulle is wie.

Tobias:Sjoe!    En die tweede ding, Tannie?

Tannie:Tobias, God gaan sy mense se lewe heel nuut maak.   Hy het deur Joël gesê:  “Ek sal my Gees op alle mense laat kom.  Kinders sal soos profete wees.  Oumense sal drome oor My droom.   Jongmanne sal visioene oor My sien.  Alle mense sal die Heilige Gees binne-in hulle kan kry.  Ek sal tekens in die hemel en op die aarde en met die maan en met die son stuur.  Ek sal Israel en alle mense  wat na My toe kom se sondes vergewe.  Dit belowe Ek.”

Tobias:Fantasties!  Tannie,  en die derde ding?

Tannie:God gaan die hele aarde en die hemel oormaak, nuutmaak!  

Tobias:Wonderlik!   Tannie, het die dinge al waar geword?

Tannie:Tobias, die dag in Jerusalem toe die Heilige Gees afgekom het om in Jesus se dissipels te kom bly, het die profesie begin waar word.  Maar daar is nog baie dinge wat nog gaan gebeur.  Party dinge eers eendag as Jesus weer op die wolke terugkom na ons toe.

Tobias:Mensig, maar ek is bly Joël het alles neergeskryf wat God vir hom gesê het!  Dis die beste nuus!     Die Heilige Gees kan nou in mense bly!   En Jesus kom eendag  weer na die aarde toe!   Fantasties!    

Tannie:Ja, Tobias, dit is fantastiese nuus wat ons vir almal kan vertel.    Ons moet hoeka nou groet, want storie-tyd is al weer om.   

Tobias:Ai, so vinnig!   Toemaar,  ek wil in elk geval vir my maatjie van die Joël gaan vertel.  Ek gaan sommer gou buite kyk of ek nog die sprinkaan sien.   Sprinkane sal my nou altyd aan Joël laat dink. (lag)   Totsiens, Tannie!  Totsiens, maats!   Tot volgende keer!

***