Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 31: Die boek Amos
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
Amos was 'n skaap- en vyeboer wat God se strawwe vir Israel moes gaan vertel. Sy boodskap eindig met God wat tog 'n deeltjie van sy volk weer sou herstel.
Boeke van die profete 31: Die boek Amos
Tobias: Hallo, tannie Carin! Wat eet Tannie?
Tannie: Hallo, Tobias! Ek het ‘n lekker vy geëet! O, ek is mal oor vye!
Tobias: Lekker! Tannie, het die mense in die Bybel se tyd ook vye geken?
Tannie: Ja, hulle het! Tobias, ek weet van iemand wat met vye geboer het. Maar nie die soort wat ek nou vandag geëet het nie. Nee, dit was die geelstamvy of sucomorus vy. Dis dieselfde soort boom waarin Saggeus geklim het.
Tobias: Haai, dis nou interessant! Vertel bietjie, Tannie?
Tannie: Julle, Amos was ‘n skaapboer en ‘n vyeboer. Hy het van die dorp Tekoa in Juda afgekom. God het hom geroep in ‘n droomgesig om ‘n profeet te word - nie vir Juda, sy eie mense nie, maar vir Israel, die noordelike stamme. In sy tyd was die Israeliete nog in hulle land, voor hulle weggevoer is.
Tobias: Wie was toe koning in Israel, Tannie?
Tannie: Dit was koning Ussia en koning Jerobeam die tweede.
Tobias: Waaroor het Amos gepraat?
Tannie: Tobias, Amos se eerste boodskappe was teen die vyande van Israel rondom hulle. Die Here het vir Damaskus, die Filistyne, Tirus, Edom, die Ammoniete en Moab gesê Hy gaan hulle straf, omdat hulle almal baie lelik en wreed was teenoor ander volke. Toe was daar ook ‘n boodskap vir Juda: daar sou vuur uitbreek in Jerusalem, omdat hulle afgode begin aanbid het. Eers daarna het Amos die boodskappe vir Israel gebring. Tobias, in koning Jerobeam se tyd, het dit baie goed gegaan met Israel. Baie mense van Israel het ryk geword.
Tobias: Is dit dan verkeerd om ryk te wees, Tannie?
Tannie: Nee, Tobias, glad nie. God het deur Amos met hulle geraas oor die manier waarop hulle ryk geword het en wat hulle met al hulle baie geld gedoen het.
Amos het gesê: “Israel, die Here sê Hy gaan julle straf, want julle verkoop arm mense as slawe. Julle vat hulle klere en wyn. Julle is nie regverdig as die mense hof toe gaan om te kla nie. Met die geld wat julle so skelm in die hande gekry het, bou julle vir julle deftige huise - een vir die winter en een vir die somer. Nee, man, so kan dit nie aangaan nie! God was goed vir julle. Hy het julle as volk uitgekies om reg te lewe, sodat die ander volke kan sien wie Hy is. En nou? Nou aanbid julle glad die ander volke se afgode en doen allerhande grillerige, aardige, lelike sondes. Vra wat God se wil is. Doen goed aan ander mense. Hou op om hulle koring en huise af te vat.”
Tobias: Tannie, het hulle nou nie meer vir die Here gedien nie?
Tannie: Tobias, hulle het nog steeds offers gebring, maar die Here het deur Amos gesê: “Kyk, Ek is nou soos ‘n leeu wat brul. Julle bring offers, maar is lelik met ander mense. Dit werk nie so nie. Ek het julle al gestraf met min kos en water, slegte oeste, allerhande plae, maar julle wil nie terugkom na My toe nie.”
Tobias: Sjoe, Tannie, dit klink na woeste strawwe! En hulle het nie jammer gesê nie?
Tannie: Tobias, die Here het weerlig en brande gestuur. Blykbaar twee jaar later was daar ‘n vreeslike aarbewing. Maar, nee, hulle het net aan hulle geld vasgeklou en gemaak asof hulle nog die Here aanbid.
Tobias: Tannie, die arme Amos moes moedeloos gevoel het, Hy praat en praat, maar niemand luister nie.
Tannie; Ja, ek is seker hy was soms moedeloos. Maar weet julle, hy het twee keer ‘n droom gehad oor hoe God vir Israel sou straf. Eenkeer sou dit met ‘n groot sprinkaanplaag wees, en die ander keer vuur. Al twee kere het Amos gebid: “Asseblief, Here, vergewe tog maar vir Jakob! Hy is maar ‘n klein volkie!” En raai wat? Al twee kere het die Here hulle nie gestraf nie.
Tobias: Fantasties! Ons God is ‘n God wat luister na gebede?
Tannie: Ja! Hy is heilig, maar Hy is ook vol jammerkry en liefde! Tobias, maar al het God nie daardie twee strawwe gestuur nie, het Hy nog steeds gevra dat Israel moet terugkom na Hom toe. Hy het vir Amos prentjies gestuur wat moes help dat hulle dit verstaan. Die een prentjie was van ‘n skietlood.
Tobias: Wat vir ‘n ding is ‘n skietlood?
Tannie: Dit is ‘n swaar pen wat aan ‘n tou vas was. As iemand ‘n muur bou, het hy dit bo teen die muur vasgehou, dit laat afhang en so kon hy sien of sy muur regop gebou is. Met die prentjie wou die Here vir Israel verduidelik dat Hy hulle gaan meet en kyk of hulle sy wil doen. Hy wou hulle straf, sodat hulle terug kan kom na Hom toe. Maar hulle het nie geluister nie. Selfs die priester, Amasia het vir Amos gesê: “Amos, weg is jy! Loop preek daar in jou wêreld! Hier maak jy net moeilikheid.” Amos het vir hom toe gesê dat God hom gestuur het na Israel toe en hy wat Amasia is, sal ook gestraf word.
Tobias: Ai, tog! Tannie, was daar nog prentjies?
Tannie: Ja, die Here het ook vir Amos ‘n mandjie vol ryp vrugte gewys. Dit het beteken Israel is nou reg dat God hulle gaan straf. Amos het ook gesien hoe God staan by die verkeerde altare van Israel en vra dit moet afgebreek moet word. God sou ook sy volk straf deur hulle weg te laat voer na die land Babel.
Tobias: Tannie, het Amos net heeltyd sulke kwaai woorde gesê? Sjoe, my kop pyn nou eintlik van al die strawwe en goed!
Tannie: Tobias, die boek sluit af met die woorde van God: “Ek sal nie vir Jakob heel uitroei nie. Ek sal weer die stukkende huis van Dawid opbou. Dit sal weer goedgaan met my volk.”
Tobias: Tannie? Wys dit na Jesus wat sou kom?
Tannie: Tobias, ons weet nie presies wat dit alles beteken nie, maar verseker, dit beteken ook dat Jesus sou kom om ons almal van ons sonde te kom losmaak!
Tobias: Jippie, jippie, jippie! Vye- en skaapboer Amos se boodskap was tog goed! Dankie, Tannie, vir die storie! Maar, lyk my storietyd is al om? Ai, die tyd vlieg so! Dan groet ons maar. Totsiens, maats, tot volgende storietyd!
***