Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 32: Die profeet Obadja

Carin Conradie Season 6 Episode 32

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 12:35

In Obadja lees ons van die profesie teen Edom, of Esau, die broervolk van Israel.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 32:   Die profeet Obadja

 

Tobias:  Hallo, tannie Carin!   Wat het Tannie vandag  saamgebring?

Tannie: Hallo, Tobias!  Ek het ‘n paar  vragies saamgebring.

Tobias: Huh? Vragies?

Tannie: Ja!   Kyk gou of jy kan antwoord.  Hoeveel Testamente is in die Bybel?

Tobias: Ek weet!  Ek weet!  Twee!  Die Ou en die Nuwe Testament!

Tannie: Mooi!   Tobias, wie was die eerste mens op die aarde?

Tobias: Mmm… Adam!   O lekker!  Nog een, Tannie?

Tannie: Goed!  Wat is die naam van die boek in die Bybel met die meeste hoofstukke?

Tobias: O aarde, laat ek dink… mmm……  Die Psalms, Tannie?

Tannie: Dis reg!  Goed, die laaste een:   wat is die naam van die korste boek in die Ou Testament?

Tobias: Die korste boek?  Nee, aarde, Tannie, ek weet nie.

Tannie: Tobias, maats, dis die boek Obadja.

Tobias: Oojad ? Wat?   Hoe moet ek die snaakse naam onthou?

Tannie: (lag)Mm…miskien kan jy dit so onthou:   jou maatjie se ma roep na hom:  “Jy moet nou kom bad!”   Dan antwoord hy: “O!   Bad!  Ja!”

Tobias: (lag)  Goed!   Ek sal onthou: O-bad-ja!   Tannie, maar vertel bietjie van Obadja?

Tannie: Obadja se naam beteken:  Dienskneg van die Here.   Hy het geleef in die tyd nadat Israel en Juda weggevoer is na Babel.   Maar sy profesie was eintlik nie vir Israel of Juda nie.  Nee, dit was vir Edom bedoel.

Tobias: Edom?  Wie’s dit?

Tannie: Julle, Isak en Rebekka het mos ‘n tweeling seuns gehad:  Jakob en Esau.   Jakob se nageslag is Israel genoem en Esau se nageslag is Edom genoem.

Tobias: O!  So eintlik was Israel en Edom soos twee broervolke?

Tannie: Netso!   Esau, of Edom en sy nageslag het in bergagtige dele gewoon.  Edom beteken rooi.   Hulle is so genoem, omdat Esau self rooierig was en die berge en sand waar hulle gebly het was ook rooierig.  Dan onthou julle seker dat ‘n baie honger Esau die dinge wat hy van sy pa sou erf, geruil het by sy broer Jakop vir een pot rooilensiesop.

Tobias: Sjoe!  Dis nou interesant!

Tannie: Julle, die mense van Edom was sterk, dapper, slim mense wat geglo het niemand kan hulle wen nie, omdat dit moeilik was om by hulle dorpe en huise te kom in die berge.  Hulle het ook nie graag gedoen wat God wou hê nie.  Hulle het eintlik maar net gedoen wat hulleself wou.

Tobias: Dis nou jammer!  So waaroor het Obadja met hulle gepraat?

Tannie: Tobias,  Obadja se woorde was:  “Die Here het gesê: Edom, ek maak jou ‘n klein volkie. Jy sal nie meer belangrik wees nie.  Jy dink jy kan wegkruip in die klipskeure, maar Ek gaan jou daar uithaal.  Al jou mense sal uitgeroei word uit die bergland waar julle bly.”

Tobias: Tannie?  Nou hoekom het die Here dit gesê?

Tannie: Obadja moes vir Edom sê:  “ Die Here sê julle sal  uitgeroei word oor julle julle broervolk, Jakob, vermoor het.   Toe Babel vir Jerusalem ingeval het, het julle lekker gekry.  Julle het nie vir hulle gehelp nie.  Julle het toe saam hulle goed gaan steel.  Julle het die mense wat gevlug het buite die stad doodgemaak. Die dag van die Here is naby.  Wat jy gedoen het, sal aan jou gedoen word.”

Tobias: Eina!   So Esau was eintlik baie lelik met Jakob en toe is die Here kwaad daaroor?

Tannie: Ja, Tobias.   Maar interessant, dis nie al waaroor Obadja moes praat nie.   Deel van sy profesie was toe sommer ook teen ander volke wat ook lelik was met Israel en Juda.

Tobias: Tannie, die arme profete het omtrent slegte boodskappe gehad wat hulle moes vertel.

Tannie: Ja, maar die rede was altyd dat mense moes terugkom na God toe.   En Tobias, Obadja se boek word afgesluit met iets wat God belowe het.

Tobias: Wat het Hy belowe?

Tannie: Die Here het belowe dat Juda weer sou terugkom na hulle land toe.  Hulle sal ook in die deel waar Edom gebly het, kon gaan bly.  

Tobias: Regtig, Tannie?  Regtig?  En het dit gebeur?

Tannie: Tobias, oor ‘n tydperk van amper seshonderd jaar, het die mense van Edom  amper verdwyn tussen ander volke.   Maar die mense van Juda kon terugkeer na hulle land toe.     En wat vir my die mooiste is, is die laaste vers van Obadja:   “Die bevrydes sal na Sionsberg optrek en oor Edom se bergland regeer, maar eintlik sal dit die Here wees wat regeer!”

Tobias: So, Tannie, wat moet ek en die maats onthou  van die boodskappe van Obadja?

Tannie: Tobias, maats, ons moet onthou dat God al die verkeerde, slegte dinge in die wêreld gaan straf.  Maar ons kan onthou, dat die mense wat na Hom toe kom en doen wat Hy vra, hulle sal gered word.    Dit is waaroor die Bybel eintlik gaan.  Dis die Goeie Nuus.

Tobias: Tannie, ek wil die Goeie Nuus sê:  Jesus Christus het mens geword, kruis toe gegaan , is dood en het weer lewendig geword!  Nou kan ons almal  wat nes   Edom sommer net doen wat onsself wil, na Hom toe kom en vra dat Hy ons  vergewe.  Ons los ons lelike lewe by Hom en kry sy mooi lewe.  Ons is dan sy kinders en sal  eendag saam met Hom in sy groot koningshuis wees.

Tannie: Mooi gesê, Tobias!  En dis wat ons kan vertel vir almal rondom ons! En ons oefen elke dag om al meer hierdie mooi lewe te leef.

Tobias: Tannie, laat ek dan gou draf en vir my maatjie van Obadja  en die Goeie Nuus gaan vertel.    Dankie, Tannie vir die storie!  Ek groet dan eers. Totsiens!

Tannie: Maats, gaan vertel julle ook vir iemand van die Goeie Nuus van die Bybel! Totsiens, Tobias!  Totsiens, maats!

***