Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 35: Die profeet Miga
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In die boek Miga lees ons hoe God vir Miga gebruik het om te profeteer dat Israel en Juda weggevoer gaan word, omdat hulle God vergeet het. Juda het wel vir 'n tyd teruggedraai na God toe. Miga het ook geprofeteer dat Jesus weer gaan kom.
Boeke van die profete 35: Die profeet Miga
Tannie:Hallo, Tobias en hallo maats!
Tobias, hallo…. waar is jou gedagtes? Ons is hier! Dis storietyd!
Tobias:O, hallo julle! Tannie, ek wonder….
Tannie: Ek het gewonder waaroor wonder jy weer vandag?
Tobias: Tannie, kan diere verskillende geluide maak? Kan hulle lag en huil?
Tannie:Sjoe, Tobias? Dis nou ‘n moeilike vraag! Ek ken nou nie diere se geluide so goed nie. Maar ek is seker daarvan hulle het verskillende geluide vir wanneer hulle sommer net gesels met mekaar of wanneer hulle huil. Tobias, ek het nogal in die boek van die profeet Miga gelees van ‘n jakkals wat skreeu en ‘n volstruis wat kla.
Tobias:Haai, regtig? Nou hoekom sou Miga daarvan gepraat het? Vertel bietjie, Tannie?
Tannie:Julle, Miga was ‘n profeet wat dieselfde tyd geleef het as die profeet Jesaja. Hy het in die suidelike deel, Juda geprofeteer in die tyd van konings Jotam, Agas en Hiskia.
Tobias, Miga het sy boodskap begin met: “Luister, alle volke! Die Here kom uit sy woonplek uit en wil met julle praat. Die berge smelt omtrent voor God weg, soos Hy aankom.”
Tobias:Hoekom wou die Here met almal praat?
Tannie:Tobias, omdat Juda en Israel nie meer die Here gedien het nie. Die Heilige Gees het Miga gehelp om te hoor wat God sê. Die Heilige Gees het hom ook gehelp om te verstaan hoe hartseer God eintlik was oor sy volk. Daarom het Miga gesê: “Ek huil. Ek skreeu soos ‘n jakkals. Ek maak kla-geluide soos ‘n volstruis. Israel se sonde het nou tot by Juda gekom. Ek is so hartseer.”
Tobias:Ai tog, Tannie? Nou wat het Israel en Juda gedoen?
Tannie:Tobias, omdat hulle nie meer vir die Here lief was nie, was hulle ook nie meer lief vir hulle mense rondom hulle nie. Miga het veral gekla oor hulle so onregverdig was teenoor arm mense en weduwees en kinders. Die rykes het net al ryker geword en die armes al armer, omdat die rykes die armes se huise en goed op skelm maniere in die hande gekry het.
Miga was ook baie ontsteld omdat daar profete was wat net so skelm was. Die ryk mense het hulle betaal en dan het hulle geprofeteer net wat die mense wil hoor, maar dit was nie wat die Here gesê het nie. Die Here het deur Miga, net soos deur Jesaja en die ander profete, gesê dat Israel en Juda weggevoer gaan word uit hulle land uit.
Tobias:Ai, eina! So, Miga het ook net slegte goed gehad wat hy vir die mense moes sê?
Tannie: Tobias, al Miga se gepraat het gehelp! Juda, onder koning Hiskia, het wel teruggekom na die Here toe. Hulle het honderd en vyftig jaar langer in hulle land gebly as Israel, voor hulle weer van die Here vergeet het, en ook toe weggevoer is.
Tobias: Ag, maar ek is bly hulle het teruggekom na God toe!
Tannie:Ja! En Tobias, daar is ook baie in die boek Miga wat ons so opgewonde maak!
Tobias:Opgewonde maak? Wat bedoel, Tannie?
Tannie:Julle, Miga het baie mooi gewys dat die Here die volk gaan straf, omdat Hy heilig is en Hy moet die sonde straf, maar Miga het vertel dat Jesus gaan kom!
Tobias:Regtig? Wat het Miga gesê?
Tannie:Julle, luister bietjie hierna: “Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein, maar uit jou sal iemand kom wat aan My behoort. En Hy sal in Israel regeer.”
Tobias:Tannie, is dit ‘n profesie dat Jesus in Betlehem gebore sou word?
Tannie:Ja, Tobias! Ek is seker die mense kon dit nog nie daai tyd lekker verstaan nie, want dit was omtrent sewe honderd jaar voor dit gebeur het! Maar ons wat weet Jesus is in Betlehem gebore, raak so opgewonde oor die Bybel, want ons sien God se profete se woorde het waar geword!
Tobias:Fantasties! Ons God is fantasties!
Tannie:Tobias, maar meer nog, Miga het ook geprofeteer dat Jesus vir ‘n tweede keer gaan kom. Dan sal Hy al sy mense bymekaar maak en Hy gaan koning wees oor die hele aarde en oor al die mense! So, Tobias, in Miga sien ons dat God sonde straf, maar dat Hy ook genadig is. Dit beteken Hy vergewe die sonde van almal wat na Hom toe kom. En dit alles omdat Jesus in die plek van mense kom doodgaan en opgestaan het. Ons kan dit nou net glo en daarin leef!
Tobias:Jippie! Tannie, het Miga geskryf hoe ons moet leef as kinders van God?
Tannie:Ja, hy het! Hoor hier: “Mens, die Here sê vir jou hoe jy moet leef: doen reg aan mense, wys liefde en leef nederig voor God. Dink aan wie Hy is!”
Tobias:A! Doen reg, wys liefde, leef nederig voor God. Dink aan wie Hy is!
Tannie:En Tobias, hoor net hoe sluit Miga sy boek af: “ Wie is ‘n God soos U? U vergewe sondes! U bly nie vir altyd kwaad nie! U wys liefde! U sal ons sondes in die diepsee gooi!”
Tobias:Tannie, dis wonderlik! En ek is seker dan sal die jakkalse en die volstruise en sommer al die diere ook sing oor ons wonderlike God!
Tannie:Ja, Tobias, ek is seker daarvan! In die boek Openbaring lees ons van die hele skepping wat sing vir God - dit beteken mos ook die diere!
Tobias:Wonderlik! Maar ons kan sommer nou al sing vir ons God, al sukkel ons om die diere se liedjies te verstaan! (lag) Dankie, Tannie vir Miga se storie! Ek kom gou weer vir nog ‘n storie! Maar ek en my maatjie gaan nou eers bietjie sing. Ons groet dan, maats, tot volgende keer! Totsiens, totsiens!
***